Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Papierkoerant het sy kant gebring

Beste leser

Die stap – as deel van ander Media24-herskikkings – dat Volksblad voortaan as ’n digitale publikasie op Netwerk24 gaan verskyn en nie meer as ’n papierkoerant nie, het betrekking.

Met hierdie skrywe is my “voorsprong” as Volksblad-redakteur dat ek die laaste jare vanweë blootstelling aan bedryfs-, sake- en markrealiteite gewoond geraak het daaraan dat die publikasie van die papierkoerant noodwendig verstryk.

Rouproses

Met die rouproses kon ek vorder (al bly dit seer) en my denke proaktief rig op die digitale voortleef van Volksblad op Netwerk24 as allesomvattende Afrikaanse nuuswebtuiste waar die e-weergawe van Volksblad steeds daagliks – oor koffie en beskuit – gelees sal kan word. Eerder as dat ons onvoorbereid vir die nuwe tydvak was sonder ’n gevestigde én vertroude aanlyn vennoot wat as Volksblad-tuiste kan oorneem.

Die onvoorsiene het gebeur. Die Covid-19-pandemie en inperking het die onvermydelike uitfasering van die drukkoerant met ’n jaar of dalk twee verhaas. Dinsdag het die aankondiging gevolg dat as deel van Media24 se toekomsgerigte inisiatiewe vir volhoubare media, ook post-Covid-19, die druk en verspreiding van Volksblad as papierkoerant op 8 Augustus – oor vier weke – verval.

Daarná kan dit, soos nou, steeds op Netwerk24 gelees word, met Netwerk24 (en Volksblad) se redaksionele nuusspan in die Vrystaat en Noord-Kaap wat sy joernalistieke werk voortsit en lesers in die sentrale provinsies bly bedien. Die nuus bly dieselfde, maar die medium skuif – van papier na digitaal.

Getroue lesers

Uiteraard bring die wegval van die gedrukte koerant vir ons getroue lesers – veral die ouer geslag – verlies en trauma mee.

Die verknogtheid van Volksblad-lesers aan die koerant wat hulle soggens in hul posbus, by ’n koerantverkoper of ’n winkel vir hul daaglikse ritueel gekry het, is welbekend.

Die verknogtheid van Volksblad-lesers aan die koerant wat hulle soggens in hul posbus, by ’n koerantverkoper of ’n winkel vir hul daaglikse ritueel gekry het, is welbekend. Die skok en hartseer van lesers – Volksblad se hartslag – word nie ontken nie. Daar gaan onttrekkingsimptome wees.

Ja, dit is so dat veral lesers wat digitaal onbemagtig is, gaan swaar kry. Idealisties gesproke sou ’n mens die papierkoerant lewend wou hou totdat die lesertal natuurlikergewys tot nul gekrimp het. So ’n gladde oorgang is maar eenmaal nie ’n bestaanswerklikheid nie.

Die oorweldigende koste van drukwerk en verspreiding teenoor krimpende inkomste vanuit koerantverkope en advertensies het dit onmoontlik gemaak. Veral advertensies, ons hoofbron van inkomste om bedryfskoste te delg, het gedurende die grendeltyd verstaanbaar opgedroog. Gegewe ekonomiese realiteite is daar geen aanduiding dat dit ten volle gaan herstel nie. Die tenk is leeg. 

Toekomsgerig

Eerder as om soos ’n sportman as ’n has-been aan te hou speel, tree die papierkoerant nie ’n minuut te vroeg of te laat uit nie – en volhoubaar gerig op die digitale toekoms, met die volledige nuuspakket beskikbaar op Netwerk24.

Nóú is kantelpunt hier. Covid-19 en grendeltyd se knou het bloot die onvermydelike verhaas.

Soos baie van ons lesers lees ek al van kindsbeen Volksblad toe dit nog ’n middagkoerant was (die Skim-strokiesprent was ’n hoogtepunt). As ’n joernalis en nuus- en koerantmens is my bloed oor dekades heen gedoop in Volksblad-ink. Ek is ’n geswore lid van die geliefde Volksblad-familie, wat lesers insluit.

Kantelpunt

Nou val die papierkoerant weg as deel van die “nuwe normaal” ná Covid-19. Tog put ek sekerheid uit die wete dat Volksblad se gideonsbende, tesame met Netwerk24 se sentrale redaksie, vanuit die nuusloopgrawe die bomenslike reggekry het om ondanks uitdagings en teen verwagtinge in die papierkoerant se leeftyd te kon verleng. As ’n “bejaarde” produk moes die natuurlike raklewe daarvan eintlik al jare gelede verstryk het as dit nie was vir uiterste pogings ingevolge die beginsels van veranderingsbestuur om dit ook ter wille van ons lesers so lank as moontlik te kon uitstel nie.

Ons het gedoen wat ons kón en móés. Dit is vermag deur met ’n ál kleiner span (wat die afgelope maande tuis gewerk het) en in noue samewerking met Netwerk24 en ons susterskoerante, Die Burger en Beeld, te werk.

Die kragtoer is teen statistiese waarskynlikhede in verrig soos dit die afgelope dekade of wat in die internasionale én Suid-Afrikaanse mediakonteks geblyk het. Maar nuus is ’n duur hoërisiko-kommoditeit wat veeleisende en heeltydse werk verg.

Nóú is die kantelpunt hier. Covid-19 en die inperkingstyd se knou het bloot die onvermydelike verhaas.

 volksblad
Volksblad is nog lank nie ou nuus nie, maar net digitaal.

Vinniger perde

Henry Ford, eerste motorvervaardiger, het glo gesê: “As ek aan mense moes gee wat hulle wou hê, moes ek vinniger perde ontwerp het.”

Dít geld ook vir Volksblad (wat in 1904 as Het Westen ontstaan het) wat hom nou in sy 116de jaar van diens aan sy lesersgemeenskap voluit by die toekoms aanpas.

Die laaste jare het Volksblad daarna bly streef om vir die krimpende lesertal van die papierkoerant ’n “vinniger perd” te bly skep.

Terselfdertyd het ons in vennootskap met Netwerk24 die digitale Afrikaanse nuusmedium van die toekoms stewig help vestig tot waar dit as die grootste – eintlik die enigste – betaalwebtuiste vir Afrikaanse nuus en tydskrifinhoud nou reeds meer as 66 000 intekenare het en steeds bly groei. Ek vra ons getroue lesers om Netwerk24 te bly steun vir die voortsetting van waghondjoernalistiek in e-Volksblad.

Volksblad was dalk ook die kleinste dagblad in die land wat die grootste gebied oor drie provinsiale grense (Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap) heen bedien het. Oor dekades heen is die koerant oor soms onbegaanbare paaie aangery van Upington tot Harrismith en van Colesberg tot Sasolburg.

Naas ons sustersdagblaaie, Die Burger en Beeld, was ons ál wat kans gesien het vir die groot taak om die nuus in Afrikaanse drukformaat te bly be­dien. Selfs al het dit teen 'n astronomiese koste geskied – met drukwerk en verspreiding die twee veranderlikes wat nie in digitale formaat ’n rol speel nie.

Onafhanklikheid

Vir joernaliste is nuus die doel van hul werk. As ’n trotse joernalistieke instelling is geloofwaardigheid en onafhanklikheid ons groot ononderhandelbare bates, met inkomste as middel tot dié doel. Maar dieselfde sakebeginsels van vraag en aanbod teenoor inkomste en uitgawe geld vir Volksblad as vir alle outonome sake-eenhede waaroor ons ook (as waghond) berig.

Ons ontkom nie markgedrewe reali­teite­ nie. Kunsmatige subsidiëring, soos dié van staatsmodelle, is nie ’n opsie nie. Dit bedreig onafhanklikheid.

Die vertroude Volksblad-model is nuus uit, van en vir die gemeenskap. Dit leef voort in e-Volksblad op Netwerk24. Die sakemodel geskoei op drukwerk en die verspreiding van ’n papierkoerant is egter uitgedien. Die steunbasis het gewoon te klein geraak.

Voorreg

En so het die waarheid oor jare uitgespeel dat ’n papierkoerant nie ’n reg nie, maar ’n voorreg is. Die balanseertoertjie het taaier geraak. Die koste om die laaste jare enkele Volksblaaie op verre Noord-Kaapse en Vrystaatse dorpe daagliks te bly lewer, het aangegroei tot R40, R50, R60 en selfs R70 per eksemplaar, teen ’n verkoopprys van slegs R8,90 die afgelope jaar.

Selfs hierdie prys kon ál minder lesers bekostig weens ekonomiese druk. Met elke effense prysverhoging was daar kansellerings van intekenare. Al het die koerant ’n waardepakket van algemene nuus, sport-, sake- en kunsnuus, meningsblaaie met rubrieke, briewe ’n spotprent en diepteartikels en pretblaaie met TV-programme, blokkiesraaisels en strokiesprente gebied – soos steeds in digitale formaat.

Vasbyter

Ter bewusmaking het ek in ’n Brandpunt-rubriek “Volksblad pak toekoms só aan” al op 8 Augustus 2019 geskryf: “Dis ook goed om ’n slag die onderrok te lig en lesers op realiteite te wys. Soos dat Volksblad, selfs al vaar ons bogemiddeld vergeleke met papierkoerante in Suid-Afrika en selfs internasionaal (met grotes wat verdwyn het), se sirkulasie met sowat 60% gekrimp het sedert die 1980’s en 1990’s se goue jare. As deel van veranderende tye wat film- en ander kameras (ingehaal deur selfone), telefoonboeke, landlyntelefone en videowinkels as vergange laat.

“Ook gaan Volksblad se intekenare dood teen ’n tempo van sowat 14 per maand. Letterlik; dis die ou garde. En word ons nie opwaarts aangevul deur jonges nie – wat wel in Brisbane, Londen, Vancouver en Hongkong sit en Volksblad daagliks deurblaai op Netwerk24 waarop hulle ingeteken is. Nog steeds neem dit 30 voertuie wat daagliks 10 500 km ry om Volksblad by 7 100 plekke (intekenare en agente) in die Vrystaat en Noord-Kaap afgelewer te kry. En om die koerant by ver plekke soos Upington te kry teen ’n koste van sowat R40 per eksemplaar, maar ’n verkoopprys van slegs R8,30 (tóé) is taai.”

Ook het ek geskryf: “Soos die draadloos, is Volksblad ’n vasbyter. Maar ons is realisties en dis ’n voorreg om geboorte te kan help skenk aan Netwerk24, wat ál meer die toekoms is (minus verspreiding- en drukkoste), terwyl dit ons koerantlesers steeds be­dien."

Streekpublikasies

Weens soortgelyke realiteite was Media24 ook genoop om die getal en frekwensie van plaaslike weekkoerante in die Vrystaat en Noord-Kaap in te kort. In die stal van die nuwe Sentraal24 (voorheen Sentrale Plaaslike Koerante) verval VrystaatNuus (Bethlehem en omstreke) en KroonNuus (Kroonstad) in die Noordoos-Vrystaat en word dit saamgevoeg as VrystaatKroon wat een keer per maand as ’n gesamentlike publikasie in albei streke sal verskyn.

In die Noord-Kaap word Noordkaap (Kimberley en omliggende dorpe) en Kalahari Bulletin (Kuruman, Kathu, Postmasburg, Upington) saamgevoeg in die nuwe weeklikse streekkoerant Noordkaap Bulletin wat die hele streek sal bedien.

Die nuwe Sentraal24 se koerante is dus BloemNuus (Bloemfontein en omstreke), Express (Bloemfontein, Botshabelo, Thaba Nchu), Vista (Goudvelde), VrystaatKroon (Noordoos-Vrystaat) en Noordkaap Bulletin (Noord-Kaap).

Gedenkuitgawe

Tot die verskyning van die laaste Volksblad in papierformaat (waarskynlik op Saterdag 8 Augustus), sal inligting oor toegang tot Netwerk24, waar die digitale Volksblad deel van die grootste Afrikaanse nuuspakket ter wêreld uitmaak, gereeld gegee word. Kry ook die koerant se gedenkuitgawe op Vrydag 31 Julie.

Ons groet die papierkoerant met trots, waardigheid en dankbaarheid en verwissel rat na die e-publikasie wat van Maandag tot Vrydag op Netwerk24 gaan verskyn.

Hulde

Gert Coetzee

Ja, Volksblad is ’n pionier én ’n vasbyter. En aanpasbaar.

Nou is dit tyd vir die papierkoerant om te groet. Hy het sy kant gebring. Die goeie stryd is gestry.

’n Laaste voorreg is om hulde te bring en dank te betuig aan hulle wat in die 116 jaar van die papierkoerant se bestaan Volksblad Volksblad gemaak het. Sonder redaksielede, sakekollegas, lesers en adverteerders sou dit nie moontlik wees nie.

Dankie aan die uitgebreide Volksblad-familie – elke joernalis, subredakteur, redigeerder, taalversorger, fotograaf, redakteur, sakebestuurder, verkoopskonsultant, lettersetter, drukperswerker, verspreider, werwer, wyksorganiseerder, koerantafleweraar en koerantverkoper.

Dit was ’n voorreg, ’n eer en ’n plesier.

Dankie aan die gemeenskap, elke leser en elke adverteerder inkluis, wat die onmoontlike help moontlik maak het. Julle was ons lewensaar.

Van my as laaste (bewoë) redakteur van die papierkoerant: Dankie, Volksblad en jou mense, dat ek as joernalis deur jou landskap van nuus kon reis en vir ses jaar lank (een jaar waarnemend) my lyf ook redakteur kon hou. Dit staan aangeteken op die tafels van my hart.

Volksblad-groete

Gert Coetzee

Redakteur

Meer oor:  Koronavirus  |  Koerant  |  Digitaal  |  Volksblad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.