Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Parlementêre model: Nou pluk ons die vrugte

Onderhandelaars van die destydse Nasionale Party moes nooit toegelaat het dat ’n parlementêre model met meerderheidsoorheersing aanvaar word nie, skryf Pieter Labuschagne. 

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, het op 5 Junie aangekondig dat die oorname van (swart) ekonomiese beheer (mag) ’n prioriteit sal wees in die tydperk ná Covid-19.

Dit is om verskeie redes kommerwekkend. Die ekonomie sal onder geweldige druk wees met ’n geskatte inkrimping van tot 10%, en die werkloosheidsyfer sal met tot ’n miljoen nuwe gevalle styg. Die dringende prioriteit behoort eerder dinamiese ekonomiese groei te wees as die ANC se idee van herverdeling en transformasie.

Die ANC se magsoorheersing en voortgesette magsbeheptheid – selfs in ’n krisistyd – is kommerwekkend. Dit lyk ongelukkig asof transformasie en voortgesette revolusie bo politieke stabiliteit en ekonomiese groei verkies word.

Oudpres. Nelson Mandela (agter die mikrofone) en oudpres. FW de Klerk (heel links) tydens die Groote Schuur-beraad, die begin van die onderhandelingsproses in 1990. Foto: Gallo Images

Die ANC se drang na mag laat opnuut vrae oor die strukturele aard van die politieke stelsel ontstaan. Dit is veral die institusionele onvermoë van opposisiegroepe om wigte en teenwigte teen die ANC se obsessie met mag uit te oefen, wat kommerwekkend is.

Die ANC se totale beheer oor mag toon by herhaling dat die Nasionale Party (NP)-regering tydens die onderhandeling gefaal het om eenparty-magsoorheersing teen te werk. Die onderhandelaars moes ’n meer ewewigtige institusionele politieke bedeling beding het wat magsoorheersing doeltreffender kon stuit.

Die ANC se volgehoue meerderheid in ’n parlementêre regeringstelsel manifesteer te maklik in magsoorheersing. Dit laat die party die ruimte om klaarblyklik onstuitbaar in sy strewe na ’n beoogde ekonomiese revolusie te wees.

Dinamiese ekonomiese groei is die enigste werkbare wyse waarop iets gedoen kan word aan sosio-ekonomiese agteruitgang en die desperate posisie van die chroniese armes.

Dit is gewis nie nou die tyd om die dekstoele op die Titanic te herrangskik nie. Ons benodig kundiges om die gate in die romp te herstel sodat die skip tot by sy bestemming kan vaar.

Die konsep van mag

Is dit moontlik dat die NP-onderhandelaars destyds ’n simplistiese en amper naïewe beskouing gehad het oor wat die konsep van politieke mag werklik behels?

In skrille kontras daarmee het die ANC duidelik ’n deeglike begrip van die konsep getoon en die belangrikheid daarvan besef om die mag te monopoliseer.

Wat is die fundamentele kern en aard van mag? Mag is die monopolie en eksklusiewe beheer om ongehinderd te handel of ander te laat handel sonder doeltreffende teenwigte. Vir die Duitse sosioloog Max Weber was mag die fundamentele, implisiete en monopolistiese beheer in die vorm van afdwingbare handelinge.

Wanneer mag as gesag geïnstitusionaliseer word, is die keuse van ’n regeringstelsel baie belangrik.

Die (Britse) Westminster- parlementêre stelsel laat toe dat die meerderheidsparty in die parlement feitlik ongehinderd en onbelemmerd mag (in die vorm van gesag) kan uitoefen. In ’n de facto-eenpartystaat, soos in Suid-Afrika, kan die meerderheidsparty selfs die opposisiepartye ignoreer.

Opponerende staatsmodelle

Die ANC en NP se algemene posisies met die begin van die onderhandelinge in 1990 kan soos volg opgesom word:

• Die ANC as bevrydingsbeweging het die morele gesagsposisie gehad en kon in die oë van die buiteland niks verkeerd doen nie, ondanks soms immorele metodes wat in die bevrydingstryd gebruik is. Dié party het dus internasionale steun geniet. Die ANC-onderhandelaars kon binne só ’n konteks die druk van voortslepende massa-protesaksie en die behoud van die geweldsopsie in onderhandelinge gebruik.

• Die regerende NP het oor die staatsmag beskik, met die polisie en weermag wat op volle sterkte was. Die regering was nog ten volle in beheer op alle vlakke.

• Die staatkundige en regeringsopsies van die partye kan aan die hand van die eerste ontmoeting tussen die toenmalige pres. FW de Klerk, en die de facto-leier van die ANC, Nelson Mandela, beoordeel word.

Dit was in wese ’n ongelyke magsverhouding tussen ’n dienende president en ’n leier in gevangenisskap. Gegewe dié ongelyke magsverhouding was die realistiese verwagting ’n skikking iewers in die middel van die twee leiers se opponerende standpunte.

Die NP se aanvanklike fundamentele staats- en regeringsvertrekpunte was:

• ’n Staatsmodel in die vorm van ’n asimmetriese federasie met konstitusioneel gewaarborgde segmentele outonomie.

• ’n Regering in die vorm van magsdeling tussen die hoofpartye met ’n roterende president en ’n ewewigtige verspreiding van mag.

Die ANC se fundamentele vertrekpunte kan só opgesom word:

• ’n Staatsmodel in die vorm van ’n gesentraliseerde unie waar ’n meerderheid kan oorheers met baie beperkte gedelegeerde provinsiale magte.

• ’n Regering in die vorm van ’n Westminster- parlementêre model waar die meerderheid in die parlement oorheers.

Die NP wou met sy voorgestelde federale model met segmentele konstitusioneel verskanste outonomie (soos ’n soort volkstaat of semi-outonome staat) verhoed dat ’n meerderheidsparty die mag binne ’n unitêre staatstelsel oorheers.

’n Asimmetriese federasie met segmentele outonomie het voorsiening gemaak vir gebiede waar minderhede staatkundig tot hul reg kon kom.

Die regeringsmodel moes ook so saamgestel word dat minderhede en hul belange nie bloot deur meerderhede oorheers word nie.

Die regering van nasionale eenheid het aanvanklik vir ’n kort tydperk enkele van dié regeringskenmerke bevat, maar dit het minderhede gefrustreer omdat hul nie werklik oor mag beskik het nie.

Politieke naïwiteit

Met die onderhandelinge is die NP-onderhandelaars gou op die agtervoet gedwing. Die institusionele beskerming en vetoreg van minderhede binne die uitvoerende en wetgewende gesag het nie gerealiseer nie, veral met die aanvaarding van die parlementêre regeringstelsel waar die meerderheidsparty oorheers.

Die eis vir ’n federale model en magsdeling met ’n roterende president is bloot van die tafel gevee.

Die enigste alternatief was om institusionele beskerming teen magsvergrype van die meerderheid buite die regeringsfeer in die regsdomein te soek.

Die oppergesag van die Grondwet is aanvaar, wat in wese ’n teen-meerderheid-meganisme is om individuele menseregte te beskerm. Die howe is toegerus met die mag om dit af te dwing.

Die huidige politieke stelsel het nie werklik die kapasiteit om politieke dispute te hanteer nie, omdat die wil van die meerderheid gewoonlik seëvier en die ANC-regering gereeld minderheidspartye oorheers. Onopgeloste dispute spoel dan onvermydelik na die regsprekende sfeer oor en ons kry wat genoem word die legalisering van politieke dispute.

Dit lyk asof die ANC transformasie en voortgesette revolusie bo politieke stabiliteit en ekonomiese groei verkies.

Dié hantering van politieke dispute veronderstel dat die maghebbers basiese respek vir die oppergesag van die reg moet hê. Indien die gesentraliseerde uitvoerende gesag lou teenoor die hof se uitsprake staan en/of dit minag en omseil of vertraag met appèlle, frustreer dit die hele proses.

Die aangekondigde oogmerk van swart oorname van die ekonomiese mag laat die minderheidspartye met min hoop op grondwetlike beskerming, want die gelykheidsbepalings in art. 26 en 27 van die Grondwet steun sosio-ekonomiese bemagtiging (sien ook veral art. 9(2) in dié verband). Hoofregter Mogoeng Mogoeng het ook reeds verklaar dat ongelykheid kragdadig deur radikale ekonomiese transformasie opgelos gaan word.

As mag eers prysgegee word, kan dit nie maklik herwin word nie. Die NP-onderhandelaars moes nooit toegelaat het dat ’n parlementêre model met meerderheidsoorheersing aanvaar word nie.

Die NP-hoofonderhandelaar het agterna verklaar dat die ANC goeie bedoelings het en dat Cyril Ramaphosa, nou die president van die land, eerbaar sal wees.

Sal dit steeds die geval wees wanneer radikale ekonomiese transformasie plaasvind met min werkbare teenwigte om dit te stuit? In magspolitiek is daar nie ruimte vir politieke naïwiteit nie.

Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Nasionale Party  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.