Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Party van hulle het dwarsdeur die nag gesing

Die laksman het om sesuur die oggend by die Maksimum-gevangenis in Pretoria aangemeld vir diens.

Twee dae tevore sou ’n brief by hom afgelewer word met die besonderhede van elke veroordeelde. Ouderdom. Gewig. Lengte. Dikte van nek. Sodat hy kan bereken hoe laag die tou moet hang. Is die tou te kort, ruk die nek nie dadelik af nie.

Dana Snyman

Tot sewe mense kon op ’n keer gehang word. Die bewaarders het hulle selle gewoonlik kwart voor ses oopgesluit, nadat met vingerafdrukke seker gemaak is hulle is die wat moet hang. Party van hulle het dwarsdeur die nag gesing.

Eers is die veroordeeldes na die kapel met die vier regop bankies aan die onderpunt van die gang gebring, waar ’n predikant of ’n pastoor ’n kort diens gehou het.

Net voor sewe is hul hande agter hul rug vasgeboei en is hulle in die lang, blink gang af laat stap. Uit by ’n traliehek, links. Deur nog ’n traliehek, regs, verby ’n binneplaas met ’n grasperk en roosbome. Tot in die galgkamer is 52 trappe. Die eerste vier stelle trappe het agt treetjies elk, die vyfde nege, en die sesde 11. Hier op die trappe het die veroordeeldes se gesange dikwels ’n crescendo bereik.

Nou is jy in ’n groot, leë vertrek waar jy weer geïdentifiseer word en jy ’n wit mus kry, met ’n lang klap wat oor die gesig hang. Op die klap, in klein swart letters, staan: RSA. Die Republiek van Suid-Afrika. Eers is die mus se klap opgeslaan, jy kan sien wat om jou aangaan.

Dan na nog ’n leë vertrek. Die ruite is groot, maar dis van die soort glas waardeur jy die wolke en die bome in ’n verwronge vorm sien.

So teen agtuur se kant was die roudiens verby en was die laksman al weer op pad terug huis toe.

Dan is jy in die galgkamer. Reg voor jou hang die toue met die breë lusse. Onder jou voete is die valdeure. Party sing steeds, ander bid hardop, een lag histeries. Die laksman kom self en laat sak die klap oor jou gesig. Jy kan nie sien hoe gaan staan hy by die hefboom en druk dit vorentoe nie, maklik, asof hy ’n motor van tweede na derde rat oorskakel.

Die valdeure van staal en swaar hout glip met ’n oorverdowende slag oop en in dieselfde beweging skiet die veroordeelde ondertoe, tot die tou sy val stuit en sy rugmurg afruk.

Sommige se gesigte is vertrek van pyn en word gou blou. Die tong steek uit en die liggaam ruk ’n laaste keer. Daar is die onvermydelike liggaamsfunksies, daarom is daar ’n groot bad, uitgelê met blou keramiekteëls, reg onder die galg. Die veroordeeldes bly hang totdat ’n dokter hulle as dood gesertifiseer het.

Daarna haal die bewaarders die lyke van die toue, was die lyke in die waskamer, trek vir elkeen ’n doodskleed aan, en kis die lyke, terwyl ’n ander bewaarder die bad met die blou keramiekteëls skoon spuit.

Die kiste is in ’n hysbak gelaai en laat sak tot in ’n klein kapel twee verdiepings onder die galgkamer, waar ’n roudiens vir die veroordeeldes se familie gehou is. So teen agtuur se kant was die roudiens verby en was die laksman al weer op pad terug huis toe.

Meer oor:  Dana Snyman.  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.