Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Partye in SA moet uit ideologiese dwangbuis kom’

Ons benodig meer praktiese stappe en minder ideologiese drome om die land weer op dreef te kry, skryf Pieter Labuschagne.

Die EFF se ideologiese retoriek oor staatsbesit en herverdeling van bates (veral dié in wit besit) het volgens prof. Pieter Labuschagne “nie net geen intellektuele grondslag nie, maar is boonop gevaarlik”. Foto: Dawie Boonzaaier

Die woord “praktologie” mag dalk vreemd voorkom, want dit is tydens die skryf van dié artikel geskep. Dit kan sekerlik as ’n staatkundige of politieke neologisme kwalifiseer indien dit aanvaar word.

Die konsep praktologie impliseer wesenlik om streng prakties met politieke en ekonomiese vraagstukke om te gaan. Praktologie staan dus wesenlik teenoor teorieë en ideologieë, wat met hul meer abstrakte voorkoms dikwels van die praktiese politiek verwyderd is.

Die wese van ’n teorie is ’n konstruksie met die oogmerk om nie net ’n verskynsel te beskryf nie, maar ook om dit uiteindelik of hopelik te verklaar. Daar bestaan ’n breë spektrum van teorieë, wat allerlei alternatiewe of opponerende verklarings vir verskynsels bied.

Ideologie verskil van ’n teorie omdat dit ’n spesifieke sienswyse of enkele teorie verabsoluteer en enige ander alternatiewe uitsluit.

Karl Marx het in Theses on Feuerbach (1845) geskryf dat filosowe deur verskillende teorieë die wêreld op verskillende wyses vertolk. Marx het egter beklemtoon dat dit belangriker is om meer handelend op te tree.Foto: Argief

Karl Marx het in Theses on Feuerbach (1845) geskryf dat filosowe deur verskillende teorieë die wêreld op verskillende wyses vertolk. Marx het egter beklemtoon dat dit belangriker is om meer handelend op te tree. Die doel van ’n ideologie is daarom om nie net die wêreld te beskryf of te verklaar nie, maar om dit te verander.

Vanuit ’n sosiaal-wetenskaplike oogpunt is ideologie ’n stel koherente idees wat die grondslag vir georganiseerde politieke handeling skep wat “veranderinge” teweeg kan bring.

Die gevaar is natuurlik dat daar dikwels ’n gaping tussen die werklikheid (praktyk) en die ideologiese siening bestaan.

In die sosiale wetenskap dek die verskillende ideologieë ’n wye spektrum vanaf klassieke tot moderne liberalisme, waar veral individualisme verabsoluteer word, tot by Marxisme en Kommunisme, wat weer die belange van groepe of klasse voorop stel.

Die verskillende ideologieë bevat egter een gemene deler: ’n breë siening van probleme en tekortkominge in die bestaande orde.

Op grond hiervan word die orde wat in die toekoms begeer word voorgestel. Dit sluit ook stappe in om van A na B te beweeg om die verlangde verandering teweeg te bring.

In die bestaan van ’n ideologie is daar gevolglik ’n sterk visioenêre siening van ’n begeerde orde of utopie. Die gevaar is natuurlik dat daar dikwels ’n gaping tussen die werklikheid (praktyk) en die ideologiese siening bestaan.

Pieter LabuschagneFoto: Sarel van der Walt

Gaping tussen ’n ideologie en praktologie

Die probleem met ’n sterk ideologiese siening is dat die propagandiste soms só in die abstrakte aspekte van die ideologie verstrengel raak, dat hulle tred met die werklikheid en praktiese situasie verloor.

Dit is die verskil tussen ’n ideologiese en praktologiese uitgangspunt.

In praktologie word die klem na die praktiese aspekte verskuif om probleme op te los. Onrealistiese utopiese sienings word nie verreken nie en die klem is stewig op realisme en praktiese werkbaarheid.

In ideologiese denkpatrone sal daar byvoorbeeld verwys word na “die grond behoort aan al die mense.”

Dié wesenlik onwerkbare uitgangspunt legitimeer dan alle opvolgende deduktiewe stappe hoewel dit op ’n retoriese en onpraktiese beskouing gegrond is.

In Zimbabwe was die ideologiese refrein ook 'die grond behoort aan die mense'.

Die aanvanklike uitgangspunt word nie op grond van sy gebrekkige inhoud gekonfronteer nie, maar word ’n verhewe ideologiese betekenis gegee.

As die probleem van landbou en herverdeling van grond in Suid-Afrika een van ekonomiese groei en ontwikkeling is, sal die praktologiese benadering wees om eerder na praktiese oplossings te kyk.

Die potensiële herverdeling van grond sal só bestuur word dat dit landbouproduksie kan verbeter, die ekonomie laat groei en werkgeleenthede skep.

In Zimbabwe was die ideologiese refrein ook “die grond behoort aan die mense.”

Die EFF-leier Julius Malema op ’n trekker. Volgens Labuschagne sal daar in ideologiese denkpatrone byvoorbeeld verwys word na “die grond behoort aan al die mense.”Foto: EFF

Dié dogma gedurende die aanvangsfase van die herverdeling van grond direk ná onafhanklikheid in 1980, het beteken dat van die groot kommersiële plase in eenhede van 50 hektaar opgedeel is om aan die vraag na grond te voldoen.

Dié klein eenhede het tot bestaansboerdery gelei en met die uitbreek van die eerste droogte tot hongersnood. Dit het beslis nie landbouproduksie verbeter of die ekonomie laat groei nie.

Die enkele plase wat wel aan swart kommersiële boere oorgedra is, het tot die ekonomiese uitset bygedra.

Suid-Afrika en die ANC het in die vangstrik van leë beloftes verval. So het pres. Cyril Ramaphosa byvoorbeeld beweer dat daar geen beurtkrag tot 13 Januarie sal wees nie – en dan blyk dit niks anders as ’n leë belofte te wees nie. Foto: Twitter

Die probleem in Suid-Afrika

In Suid-Afrika is die probleem dat die regerende ANC behalwe sy sterk ideologiese ondertone, ook in die strik van leë beloftes verval het.

Pres. Cyril Ramaphosa sal stellings maak soos dié dat daar geen beurtkrag tot 13 Januarie sal wees nie – en dan blyk dit niks anders as ’n leë belofte te wees nie.

Die ANC klou nog verbete aan sy ideologiese ekonomiese kuur vir die land se probleme soos rasse-transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Dit word geuiter saam met beloftes dat groot buitelandse beleggings die ekonomiese koek groter sal maak, sonder om spesifiek te wees.

Die ANC klou nog verbete aan sy ideologiese ekonomiese kuur vir die land se probleme soos rasse-transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Die politieke partye links en regs van die ANC is ook vasgevang in ’n ideologiese dwangbuis. Die SAKP se ideologiese doktrines is dekades gelede met die val van kommunisme ontbloot vir wat dit was – niks meer as onwerkbare drome nie.

Die EFF se ideologiese retoriek oor staatsbesit en herverdeling van bates (veral dié in wit besit) het nie net geen intellektuele grondslag nie, maar is boonop gevaarlik.

Die DA se wegbeweeg van klassieke en moderne liberalisme in 2019 se verkiesing, verraai dié party se eie twyfel oor die pad vorentoe.

Die voormalige staatspresident C.R. Swart het gesê: “Hoede af vir die verlede en baadjies uit vir die toekoms”. Foto: Wikipedia

‘Baadjies uit vir die toekoms’

Die enigste oplossing vir ontwikkeling en die sosio-ekonomiese probleme in Suid-Afrika is om weg te beweeg van geykte ideologieë en groter klem op praktologie te plaas.

Die klem op praktologie beteken die afskud van die hol refrein van ideologiese slagspreuke en om eerder na praktiese oplossings te kyk en veral hard te werk om dié oplossings te verwesenlik.

Die voormalige staatspresident C.R. Swart het immers gesê “hoede af vir die verlede en baadjies uit vir die toekoms.”

Anders gestel: Eer wat in die verlede gebeur het en eer ook diegene wat hul lewe vir vryheid opgeoffer het. Maar ten einde die menswaardigheid van diegene wat bevry is te verbeter, moet die ekonomie verbeter word en dit vereis praktiese oplossings en harde werk.

In die plek van ideologiese slagspreuke moet vrae gevra word soos:

* Hoe kan die ekonomie verbeter word en ekonomiese groei verseker word?

* Hoe kan meer werkgeleenthede geskep word?

* Hoe kan verhoed word dat meer as ’n miljoen skoolkinders weer hul skooljaar moet herhaal?

* Op watter wyse kan geweld op grond van geslag en xenofobiese geweld in die land uit die weg geruim word?

Dit is belangrik dat ’n praktiese beskouing en brutale eerlikheid deur die plafon van ideologiese obsessies breek en dit is net haalbaar as daar prakties en eerlik gedink en gehandel word.

Die Nasionale Gesondheidsplan het wel ideologiese meriete, maar prakties is dit reeds op sy Titanic-nooiensvaart.

Daar is te veel politici wat nie onbevange kan debatteer nie, omdat hulle in ideologiese denke vasgevang is. Hierdie gevangenisskap maak dit onmoontlik om te besef wat die skade van grootskaalse ideologiese gefundeerde grondverdeling sal wees en die invloed wat dit op die ekonomie gaan hê.

Die belangrikheid van ’n eerlike debat oor die voorgestelde plan vir Nasionale Gesondheidsversekering is kernbelangrik. Die plan het wel ideologiese meriete, maar prakties is dit reeds op sy Titanic-nooiensvaart.

Staatshospitale het onder die kuratorskap en bestuur van die staat in ’n septiese tenk van swak diens en onbeholpenheid verval. Op watter wyse, wat korrupsie en onbevoegdheid uitsluit, kan die staat verwag om die gesondheidsplan beter te bestuur?

Die staat behoort eerder prakties te dink en eerstens die bestaande staatshospitale op aanvaarbare vlakke te laat funksioneer.

Die openbare diskoers oor ander staatsbeheerde ondernemings moet ook handel oor die wenslikheid van privatisering of staatsbesit en hoe byvoorbeeld Eskom reggeruk kan word, eerder as om te fokus op die transformasie van die bestuur en tegnici.

Vakbonde moet van hul ideologiese retoriek gestroop word en eerder aangemoedig word om verantwoordelik op te tree met die nasionale belang as prioriteit.

Ons benodig meer praktiese stappe en minder ideologiese drome om die land weer op dreef te kry. Dit is nog nie te laat nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pieter Labuschagne  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.