Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pasop vir Big Brother en sy neef Big Data!

Een van die temas in Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld het ’n onheilspellende verwantskap met mense se bekommernisse dat die staat van inperking ’n soort van profesie is oor hoe die Suid-Afrikaanse owerheid die land en sy mense in die toekoms daadkragtig wil beheer.

Wilhelm Jordaan

Dié tema het te doen met hoe Chinese vindingrykheid, deur slim digitale tegnologie, gesigsherkenning op enige plek vervolmaak het en mense se bewegings kan dophou soos wat die owerheid dit nodig ag. En om op te tree soos die owerheid dit goed vind . . .

Dít is niks anders nie as die “reïnkarnasie” van ’n “panoptiese ideaal”, soos die Engelse filosoof Jeremy Bentham dit in 1787 voorgestel het – ’n tronk (die panoptikon) wat só ontwerp is dat die bewaarders alles kon sien wat die gevangenes doen sonder dat die gevangenes dit weet.

Die Franse filosoof Michel Foucault het dit beskou as ’n metafoor vir ’n soort sosiale kwarantyn waardeur mense se gedrag deur die maghebbers “genormaliseer” kan word.

Met Covid-19 as die paaiboelie is in owerheidskringe ’n ontstellende mentaliteit merkbaar wat herinner aan dié “alsiende” bewaarders se beheersug – om landsburgers as misdadigers te hanteer wat om elke hoekie en draaitjie die skrik op die lyf gejaag moet word. En wie se gedrag volgens die beginsel van blinde gehoorsaamheid deur die owerheid voorgeskryf word.

Sover ’n mens weet, is alsiende digitale apparaat nog nie op groot skaal by ons in werking nie. En tog . . . Daar is ’n app ontwerp wat mense se bewegings ná kontak met ’n Covid-19-besmette mens kan navolg en opspoor. Dit klink goed, dit dien mos ’n goeie doel, dink ons . . .

Wat ’n mens egter moet byvoeg, is dat slim digitale apparate wat op kunsmatige intelligensie se algoritmes berus, alreeds floreer en ’n bedreiging vir mense se identiteit, privaatheid en veiligheid inhou.

Daaruit die kommervrae: Waar word sulke data geberg? In wie se hande is dit?

Die historikus Yuval Noah Harari skryf in sy 21 Lessons for the 21st Century oor digitale diktatorskappe waarin groot databanke alles van jou weet, lank voordat jy dit weet. Hy voorsien groot data-oorloë om byvoorbeeld politieke mag oor mense te bekom en te behou, want deur massas data word die mens voorspelbaar én beheerbaar.

Daaruit die kommervrae: Waar word sulke data geberg? In wie se hande is dit? Waarvoor word dit aangewend? In wie se belang is dit?

In haar boek The Age of Surveillance Capitalism skryf Shoshana Zuboff uitvoerig oor een só ’n aanwending, naamlik om menslike belewenisse en gedrag te monitor en as databank te gebruik om hul gedrag en koopvoorkeure ter wille van geldelike wins te verander.

Wat is al hierdie dinge anders as die vermenigvuldiging van die Orwelliaanse nagmerrie? Big Brother en sy neef Big Data hou jou dop. Pasop!

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Inperking  |  Tegnologie  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.