Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pasop vir SA as ’n ‘lekker land’

Op pad werk toe kom die berig oor die radio: “Die regering, onder leiding van Tito Mboweni, gaan R37 miljard beskikbaar maak vir opruiming, herstelwerk en skadevergoeding weens die vandalisme in KwaZulu-Natal en Gauteng drie weke gelede.”

Anton van Niekerk

Die skade van hierdie gebeure in totaliteit word geskat op sowat R50 miljard en die totale lewensverlies was meer as 300. Behalwe vir ’n verdere R2,5 miljard wat deur die parlement aan hierdie “hulppakket” toegevoeg gaan word, kom die R37 miljard volledig uit die staatskas – met ander woorde uit ons as belastingbetalers se sak.

Vir dié van ons wat, in die lig van al die gruwelverhale oor die stand van ons ekonomie, wonder hoe die staatskas so ’n enorme bedrag kan bekostig, kom die trooswoord: “. . . dit word verhaal uit groter as verwagte belastinginkomste”.

Speel vir ’n oomblik ’n denkspeletjie saam met my. Filosowe noem dit ’n “denk-eksperiment”. Hierdie soort “eksperimente” kan soms kompleks wees, maar vandag s’n, waarborg ek, is baie eenvoudig.

Kom ons verbeel ons dat die wêreld en omstandighede in Suid-Afrika – veral in KwaZulu-Natal en Gauteng – vandag grootliks dieselfde is en lyk soos op 9 Julie vanjaar. Dan, liewe lesers, was die volgende die geval: Eerstens het meer as 300 mense wat nou dood is, dan nog gelewe. Hulle was dalk nie almal ewe gelukkig of voorspoedig nie; baie (moontlik die meerderheid) van hulle was werkloos en het ’n sukkelbestaan gevoer. Maar hulle het gedeel in dit wat die meerderheid mense in die wêreld beskou as ons belangrikste waarde: Om te lewe, om die vreugde daarvan te ervaar om mee te doen aan die wêreld en om iets vir ander mense te beteken of te kan beteken.

Tweedens, as die twee streke vandag gelyk het soos drie weke gelede, was supermarkte, industrieë, – tot, van alles, ’n ammunisiefabriek en depot – daar operasioneel.

Want die plunderaars was nie primêr arm mense wat moet steel om te kan eet nie. Die plunderaars se aksies was beplan en georganiseerd: Gryp en vernietig, nie slegs kos nie (soos miskien rasioneel sou wees vir baie honger mense), maar steel letterlik alles wat voorkom: yskaste, televisiestelle, rekenaars, selfone – enigiets.

Vergelyk, liewe leser, hoe die wêreld drie weke gelede gelyk het in vergelyking met hoe dit nou lyk.

Nou gaan daardie R40 miljard bestee word aan die herstel van geboue, winkels en industrieë wat drie weke gelede volledig reeds daar wás en wat fluks gefunksioneer en sake gedoen het om vir (arm!) mense kos op die tafel te sit.

Derdens, en veral beduidend: Dink daaraan dat ons drie weke gelede, weens “verbeterde belastinginkomste” amper R40 miljard meer beskikbaar gehad het om óf ons skuld te help delg, óf om Eskom (waarsonder die ekonomie tot stilstand kom) by te staan, of om kleinsake te stimuleer ter wille van werk vir die armes.

Nou gaan daardie R40 miljard bestee word aan die herstel van geboue, winkels en industrieë wat drie weke gelede volledig reeds daar wás en wat fluks gefunksioneer en sake gedoen het om vir (arm!) mense kos op die tafel te sit. Die neseiertjie wat ons ekstra kon vergader omdat die belastinggaarder sy werk behoorlik gedoen het, verdwyn nou ten einde vandale se bydrae tot ons wêreld tog weer goed te probeer maak.

Wat is die boodskap van dié plundertog en van die wyse waarop die regering skoorvoetend die verwoesting met ’n reusehulppakket probeer regmaak?

Wat is die boodskap wat hiermee gestuur word aan die wêreld, maar veral ook aan die oorblywende potensiële vandale in ons midde?

Ons moet werklik oppas dat die beeld geskep word van Suid-Afrika as ’n lekker land, waar ’n mens kan steel, plunder en vernietig soos jy wil; Pappa regering sal wel instaan vir die rekening.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Polisie  |  Plundering  |  Woede  |  Betogings  |  Skok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.