Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pasop vir wolf tussen lammers
Prontuit
Johann Maarman

In die politiek het ’n mens nooit blywende vyande of vriendskappe nie.

Die een dag slaan jy jou tande in jou teenstanders se skouer, net om die volgende dag in mekaar se arms te spring.

Die beste voorbeeld van so ’n haat-en-liefde-gevoel was tussen die destydse Nasionale Party en die ANC. Hulle was geswore vyande wat glad nie brood met mekaar kon breek nie.

Op die ou end het die leeu en die lam by mekaar gaan lê en die NP van Marthinus van Schalkwyk is deur die ANC ingesluk.

Die paradoks is dat die apartheids­regime wat die ANC wou gelykmaak met die grond, deur die ANC gekis is. Die vroeëre jagter van “terroriste” het ’n oneervolle dood gesterf. Op die ou end moes hy kapituleer.

Teen dié agtergrond is dit vir die DA raadsaam om oor sy skouer te kyk, veral noudat “koalisieregering” die modewoord in die politiek geword het.

Hoewel die EFF glad nie ’n huwelikskontrak met die DA gesluit het nie, skaar die EFF hom aan die kant van die DA en almal wat teen die ANC gekant is. Hoe gevaarlik en onstabiel hierdie verhouding tussen die DA en die EFF is, manifesteer in die Nelson Mandelabaai-metro. Die koalisie is so gefragmenteerd dat dit enige tyd uiteen kan spat.

Die DA en die UDM het glad nie
ooghare vir mekaar nie en die een hou ’n pistool teen die ander se kop. As daar nou ’n koalisie is wat gedoem
is, is dit in die Nelson Mandelabaai-metro.

Die EFF, wat eintlik niks te doen het met die magstryd tussen Athol Trollip (burgemeester) en Mongameli Bobani (onderburgemeester) nie, het hul gewig agter die UDM ingegooi. Dit wys opnuut dat olie en water nie kan meng nie. Die DA en die UDM verskil dalk nie veel oor beleid nie, maar hier is dit ’n geval waar die stert die hond wil swaai.

Die EFF en die DA se beleid verskil ligjare van mekaar, maar het een gemeenskaplike doelwit, en dit is om die ANC tot ’n val te bring.

Die DA en die EFF se grootste gemene deler is om pres. Jacob Zuma uit die kussings te lig. Albei haat Zuma. Terwyl die EFF dit op ’n bruuske manier doen, is die DA subtieler in sy benadering.

As die EFF eerlik moet wees, het hy eintlik geen stok om Dlamini-Zuma mee te slaan nie behalwe dat sy Zuma se eksvrou is.

Wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die EFF en die ANC ideologies baie eerder aan
mekaar verwant is.

Radikale ekonomiese transformasie en grondhervorming is die twee pilare waarop die EFF sy steun bou.
Dis sy evangelie sedert sy ontstaan, en dit sal tot die volgende verkiesing so bly.

Interessant genoeg is dat Nkosazana Dlamini-Zuma haar presidentsverkiesing juis op radikale ekonomiese transformasie bou. Sy word beskou as die persoon wat Julius Malema terug aan die ANC se boesem kan kry.

As die EFF eerlik moet wees, het hy eintlik geen stok om Dlamini-Zuma mee te slaan nie behalwe dat sy Zuma se eksvrou is. En dit is waar die knoop lê. As Dlamini-Zuma daarin kan slaag om te bewys dat sy nie ’n marionet van haar eksman is nie, pluk sy die mat onder die EFF uit.

En dit is hoekom dit gevaarlik is vir die DA. Die EFF het al tekens getoon dat hy nie ’n betroubare koalisievennoot is nie. Sy lede het ’n arrogansie wat skrik vir niks.

Daarom sal die DA moet wakker bly, want die EFF is die politieke wolf in skaapsklere.

Wil die DA regtig met alle mag metro’s en munisipale rade beheer en uitgelewer word aan die nukke en grille van die EFF?

Pasop vir die wolf tussen die lammers.

Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Politiek  |  Eff  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.