Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Patriotisme, nasionalisme en wêreldburgers
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Siya Kholisi en die Bokke het ons baie trots gemaak!

Vir ’n verandering was dit goed om ’n Suid-Afrikaner te wees. Vir ’n rukkie kon ons ons verskille parkeer en net mense wees wat dit geniet om te wen. Ons het ’n gevoel van patriotisme gehad.

Terug na voorverlede week toe polisielede buitelanders met geweld uit die gebou van die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) in Kaapstad gesleep het.

Baie is aangerand en blootgestel aan skokgranate. Die ergste was die kinders wat wreed van hul moeders afgevat is. Die ma’s kon die kinders slegs terugkry as hulle uit die gebou sou kom.

Dit was grootskaalse menseregteskendings. Dit herinner aan die skeiding van ouers en kinders op die Mexi-kaanse grens in die Trump-koninkryk.

Die beskouing van wat ’n nasie is, is altyd ’n wisselwerking tussen nasionalisme, patriotisme en wêreldburgerskap (cosmopolitanism). Dit gaan oor wie is by die nasie ingesluit en wie in die nasie verwel­kom word.

In haar boek Towards Corporeal Cosmopolitanism (2017) redeneer Anjana Raghavan dat wêreldburgerskap oor ballingskap en verwelkoming gaan – waar mense vandaan kom en hoe hulle in ’n nuwe plek verwelkom word – hoe mense die gevoel van tuiste ontwikkel.

Dit het baie min met die rede te doen, en baie meer met emosie.

Dit het baie min met die rede te doen, en baie meer met emosie. Die rede sou wou vra dat ons met die buitelanders moes sit en aan hulle verduidelik dat daar nie onmiddellik aan hul versoeke (om ontruim te word) voldoen kan word nie.

Wat ons gesien het was die sinlose geweld van die polisie en die woede en vrees van die buitelanders.

Raghavan maak ook die punt dat ons nie moet vergeet nie dat die stryd tussen “om te behoort” en om uitgesluit te word, baie dikwels op die liggame van vroue gevoer word. Soos ons gesien het, het die moederskap van vroue in gedrang gekom.

Die behoefte om êrens te behoort is belangrik vir alle mense. Daar is mense wat wêreldburgers is omdat hulle geen keuse het nie (weens oorlog, terreur of ekonomiese agteruitgang in hul lande van herkoms). Maar daar sal altyd ’n plek wees waarna hulle hunker.

Is patriotisme deel van wêreldburgerskap?

Vra maar vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon wat nooit ophou om die politiek in Suid-Afrika dop te hou of die koerante aanlyn te lees nie.

Is patriotisme deel van wêreldburgerskap? Raghavan se antwoord is dat ’n mens wel patrioties kan wees en terselfdertyd wêreldburgerskap kan aanneem. Patriotisme wat egter in nasionalisme gefundeer is, lei tot geweld teen “die ander”, diegene wat nie oorspronklik deel van die nasie was nie.

Wêreldburgerskap kom baie makliker vir diegene wat geld het en kan reis en in veilige plekke kan bly. Uitsluiting is die lot van arm mense en spesifiek swart vroue. Hulle lewens word gereken as waardeloos, diegene wat ’n las op die staat is, wat vergeet kan word.

Emosies word losgelaat op hierdie liggame wat in baie opsigte ’n lewe verteenwoordig wat niemand wil hê nie.

Ons moet onsself afvra, nou in ons oomblik van sterk gevoelens van pat­riotisme, hoe ons voel oor die ander wat hunker na hul tuislande, wat nou in niemandsland vasgevang is. Hoe word hulle verwelkom?

Raghavan sê dat daar ’n sekere isolasie is in uitsluiting wat gepaardgaan met ’n liggaamlike ervaring van veragting en fisieke verwerping by diegene wat ander uitsluit. Dit is die beginsel waarop xenofobiese geweld werk. Dit is die behoefte om dié gevoelens uit onsself te werp deur buitelanders aan te val.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement politieke wetenskap.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Rugby  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.