Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Pauw se boek laat my magteloos en verslae'

Hoe moet ’n mens na hierdie dubbele spraak luister? vra Danny Titus oor Jacques Pauw se plofbare boek en pres. Jacob Zuma se belaglike uitlatings.

Jacques Pauw se onthullende boek The President’ Keepers, wat soveel geheime verklap dat die staat dit probeer verban.

Die skoknuus oor korrupsie wil net nie ophou nie. Pauw se The President’s Keepers hou jou op die punt van jou stoel. Die inligting oor ons Nommer 1 en dié se maters is byna onweerlegbaar verdoemend.

Pauw maak vir ons deure en vensters oop wat ons in naïwiteit, goedgelowigheid en ’n grashalmpie van die moraliteit van ons struggle aanvanklik nooit wou aanvaar nie. Nou is dit daar en ons staan magteloos en verslae. Pauw verwys na Zuma se oorwinningstoespraak toe hy oudpres. Thabo Mbeki in 2007 verslaan het. “Zuma het Mbeki as ’n ‘vriend en ’n broer’ beskryf. Toe begrawe hy hom.”

Teen 2011 het die BBP-belastingbetalerseenheid by Zuma gepleit om sy belastingsake in orde te kry. Ironies genoeg spreek die president dieselfde tyd die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se toekenningseremonie in Johannesburg toe.

Hy sê die SAID moet “sonder vrees of voorkeur optree om te verseker dat elke Suid-Afrikaner die wet ten volle nakom – ongeag watter posisie hulle mag beklee”. Ai, Meneer die president! Dít terwyl die einste belastingdiens by jou moet pleit om die wet na te kom. Jy is duidelik bo die wet verhewe.

Reg en geregtigheid is ’n vae skim teenoor die bewese wetteloosheid wat van alle kante ons jong demokrasie stukkie vir stukkie opvreet.

Die president gaan voort dat die SAID ’n belangrike rol speel in die stryd teen bedrog en korrupsie deur saam te werk met wetstoepassingsagentskappe om nie-nakoming uit te wis.

Words, words, words,” het Hamlet gesê.

Hoe moet ’n mens deesdae na hierdie dubbele spraak luister?

Pauw sê in sy boek ten spyte van al die onthullings moet ’n mens tog nie dink dat daar enige gevolge gaan wees nie of dat die wetstoepassingsagentskappe gereed staan om hul werk te doen nie.

Dr. Danny Titus

Reg en geregtigheid is ’n vae skim teenoor die bewese wetteloosheid wat van alle kante ons jong demokrasie stukkie vir stukkie opvreet.

Die enigste party wat hier ’n verskil kan maak, sê Pauw, is die ANC, ons regerende party.

Maar uit hierdie oord kan niks verwag word nie, sê kommentator Ranjeni Munusamy. In die party se mediaverklaring ná die president se optrede in die parlement bevestig hy net die dubbele spraak: “Die ANC prys pres. Jacob Zuma vir sy voortgesette en rigtingvaste toewyding om aan die mense van Suid-Afrika verantwoording te doen deur gereeld voor die parlement te verskyn om vrae te beantwoord oor talle van die mees knellende vraagstukke wat Suid-Afrika vandag in die gesig staar.”

Op goeie Afrikaans sê die party dit met ’n straight face.

Ons het ’n ander Suid-Afrika as die politiek van korrupsie, van leuens en van diefstal.

’n Mens voel byna die roeringe van die 70’s en die 80’s wanneer die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad praat. “Sommige van ons leiers het slawe geword van ’n nuwe generasie van koloniale onderdrukkers,” het hy gesê. Dis ’n morele en ekonomiese onderdrukking wat manifesteer in een familie se kaping van ons land, en ’n president wie se integriteit, hart en siel gekompromitteer is.

Die aartsbiskop het dit duidelik gestel dat hy nie geleenthede bywoon waar Zuma praat nie, die parlement ingesluit. Hy maak dan ook die stelling dat die ANC se tyd verby is. Miskien moet ons sê dat die glorieryke beweging sy deel gedoen het. Dis nou tyd om na die glorieryke mense van Suid-Afrika te kyk.

Dit is soos toe die apartheidsmure begin val het: Gewone mense het nee begin sê, veral op grond van hul geloof. Ons het ’n ander Suid-Afrika as die politiek van korrupsie, van leuens en van diefstal.

Die ander stem wat my na die roeringe van die 70’s en 80’s terugvoer, is die anti-apartheidsaktivis Peter Hain, deesdae lord Hain. Sy toespraak voor die Britse Hoërhuis is ’n kragtoer.

Soos wat die stryd teen apartheid geïnternasionaliseer is, draai hy nou ook die internasionale krane oop teen die land wat apartheid oorwin het, ’n Nelson Mandela uit die gevangenis laat stap het, ’n jong demokrasie geskep het en tans ’n ommekeer na korrupsie, geldwassery, bedrog en diefstal gemaak het.

Terwyl ons wetstoepassers swyg, betrek Hain die internasionale wêreld met “smoking gun”-getuienis wat hoop om miljarde Suid-Afrikaanse rande terug te bring en om die korruptes en hul medepligtiges agter tralies te kry.

Maar ja, nou is dit terug na die boek(e), terwyl ons nog kan.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur.

Meer oor:  Anc  |  Jacques Pauw  |  Jacob Zuma  |  Danny Titus  |  Staatskaping  |  Korrupsie  |  The President's Keepers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.