Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Petrol: Paniek, nie populisme

In November 2016, nadat Donald Trump die Amerikaanse presidentsverkiesing gewen het, het “populisme” ’n gewilde beskrywende term geword vir die tyd waarin ons leef.

Die Brexit-referendum in Junie 2016, die opkoms van die EFF in ons munisipale verkiesing in Augustus 2016, die Amerikaanse presidentsverkiesing daardie jaar en die golf van nasionalisme wat oor Wes-Europa gespoel het, staaf die gebruik van “populisme” om talle van die politieke verskynsels van ons tyd te verduidelik.

In al dié gevalle het politieke leiers ’n beroep op “die mense” doen om op te staan teen “die elite”.

Populistiese leiers kommunikeer aan “die mense” (wat gewoonlik ’n homogene groep is) dat hulle – anders as die sogenaamde korrupte elite – deugsaam is en dat hul regte, waardes, welvaart, identiteit en stem weer tot ’n regmatige plek herstel moet word.

Die voorkoms van populisme is ’n risiko, want dié beweging in ’n politieke landskap is telkemale emosioneel.

Die voorkoms van populisme is ’n risiko, want dié beweging in ’n politieke landskap is telkemale emosioneel.

Dit veroorsaak onvoorspelbare gedrag in groepe. Woedende populistiese groepe kan met hul gesamentlike aksie instellings wat oor leeftye opgebou is, in ’n paar dae afbreek.

In November 2017 het die befaamde Amerikaanse teoretikus en filosoof Judith Butler op ’n omstrede besoek aan São Paulo gesê:

“Miskien kan ons saamstem dat ons nie net te doen het met die opkoms van outoritêre politiek nie, maar deur die normalisering daarvan . . . Ons is enersyds hoopvol oor massa-mobilisering en andersyds vreesbevange oor regse populisme.”

Butler se stellings oor populisme in daardie stadium is vir my treffend, want dit het die spanning van die tyd so goed vasgevang. 2016 en 2017 was jare waarin groot groepe mense oorgegaan het tot gesamentlike aksie en kollektief gestem het in verkiesings en referendums om die wêreld te verander. Dié potensiaal vir gesamentlike aksie het Butler hoop gegee, maar dié wat die verwikkelinge dopgehou het (Butler inkluis), was ook bekommerd dat massa-aksie die veiligheid van ’n Westerse, liberale orde tot ’n val sal bring.

Tegelykertyd weet Suid-Afrikaners dat dit nie so eenvoudig is om populisme as slegs “regs” te beskryf nie.

Tegelykertyd weet Suid-Afrikaners – uit ons ervaring met ons eie politiek – dat dit nie so eenvoudig is om populisme as slegs “regs” te beskryf nie.

Vanjaar het kommentators populisme as term op ’n verwaterde wyse begin gebruik in hul poging om sin te maak van amper elke bakatel in die politiek. Populisme verteenwoordig nou ’n onduidelike politieke euwel en dit het te maklik geword om die skuld vir probleme aan populisme toe te skryf.

’n Onlangse voorbeeld hiervan is die petrolprysstyging wat deur die departement van energie versag is (vir die eerste keer sedert 1990) met die aankondiging dat die prys met net 4,9c per liter pleks van die verwagte 23c tot 25c sou styg. Volgens die departement het die regering besluit om tydelik in te gryp om verbruikers verligting te gee.

Dis duidelik dat die ANC-regering se poging om verbruikers te help, ongeoorloof is – dit stel net die pyn van ’n drasties verhoogde petrolprys uit. Daar word voorspel dat die grootste petrolprysskok in byna vier jaar nou voorlê.

Sommige kritici het die regering se ingryping as “populisme” beskryf. Daar is selfs gesê dat die ANC besig is om “die mense” te paai in die aanloop tot die 2019-verkiesing.

Ons draai onsself ’n rat voor die oë as ons dink dat die wanhopige manier waarop die regering die ekonomie en petrolprys bestuur, “populisme” is. Dit is eerder senuweeagtige en onvoldoende pogings om kop bo water te hou in ’n ekonomiese storm wat die onopgewasse ANC-regering sélf skep.

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Alida Kok  |  Politiek  |  Petrol  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.