Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Petrol te duur? Gaan tuis op ‘trip’ met ’n zol

Ja nee, toe ons 30-13 voor is, toe klap die vonkelwynbottels se proppe soos masjiengeweervuur.

My jare lange boeremarkkameraad, ou Sarel, was Saterdag heeldag 80 en die Bokke lekker loslit aan die wen.

Blouwillem

Maar nou ja, sal ons nooit leer nie dat jy teen die All Blacks moet speel (en ek bedoel spéél!) tot lank nadat die eindfluitjie geblaas het (ja, eintlik totdat húlle klaar gestort het), as jy wil wen.

Maar die proppe was uit en al het die Bokke verloor, was ou Sarel steeds 80 en ons trots op ons manne en toe vergeet ons maar van verloor.

Oom Johnny sê dit voel vir hom die Bokke was soos ’n bokser wat 15 rondes op punte wen en dan in die 16de met ’n gelukkige steelhou planke toe gestuur is.

Maar minstens is daar nou ’n paar Saterdae oop vir rugbyspelers om te trou of matriekafskeid toe te gaan.

Matriekafskeid bly dese dae maar vir jou ’n groot gedoente.

Dis nie net die rok wat die arme pa’s by die bankbestuurders laat sit en smeek nie.

Die groot ding is nou mos in watter eksotiese ryding die tweetjies daar by die afskeid opdaag.

Dis enigiets van ’n Rolls-Royce, ’n antieke stroper, ’n 12-perdekoets, ’n hibried-draadkar en nou Kaylee Rough wat daar in Thabazimbi in ’n doodskis opgedaag het.

Nee kyk, daai’s nou vir jou rough, hoor!

Ek moet darem sê ek het self amper in ’n doodskis by mý matriekafskeid opgedaag nadat ou Bergbobbejaan my die week voor die groot geleentheid in die houtwerkklas met ’n bordpasser bygekom het.

Ja, Julias, dis nie net jy wat ’n E vir houtwerk gekry het nie.

En dan natuurlik die after-paartie, wat nog groter as die rok en die ryding is. Ek huiwer om meer te sê oor ons jare se after-paartie, want ons het nie eens so ’n paartie gehad nie. Ja, my skooljare was so tussen Van Riebeeck se landing en die Guptas.

Jy moet weet dinge raak nou rof as hulle jou kar steel, maar die kar los en net jou petrol vat!

Ons manne het nadat ons saam met ons ouers terug huis toe is (kan jy glo hulle was saam?!) ons stemmige voorstellings-/matriekafskeid-/ gradeplegtigheid- en amperse troupak gaan uittrek en kaal saam met die LO-juffroutjie gaan swem in die skool se swembad daar hoog teen die Magaliesberg se kruin (die deel oor die juffroutjie is die deel wat ons bygelieg het vir ons pelle wat nie daar was nie).

Maar Dik Daan reken die duurste item vir die matriekafskeid is nie die rok of die ryding nie.

Nee, dis die brandstof afskeid toe en terug.

“Jy moet weet dinge raak nou rof as hulle jou kar steel, maar die kar los en net jou petrol vat!” sê hy.

Verder reken hy die regering het dagga gewettig net toe brandstofpryse deur die klankgrens is sodat jy met ’n zol by die huis kan sit en sonder om ’n tree te ry net daar by die huis op ’n trip kan gaan.

Meer oor:  Blouwillem  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.