Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Petrolprys daal; dit kos minder om tuis te bly

As ek soggens donkerdag my koerant daar by die hek gaan haal, kan ek nie in die voortuin al sien wat nuus is nie (en moenie dink ek kry hom verniet nie; nee, ek is al dekades lank ’n gedweë, dankbare intekenaar).

En as daar dan in die voorhuis lig op die saak skyn, sien ek gewoonlik nuus wat wel nuus is, maar ook gereeld nuus wat nie nuus is nie. Ou nuus of nuus so logies dat dit ook nie nuus is nie.

So byvoorbeeld was dit nie vir my nuus dat ons in die greep van ’n kouefront was of dat 93% van ons munisipaliteite hul alie gesien het nie.

Blouwillem
Blouwillem

Dit wil sê die temperatuur en onse minsipale is albei by Dag Zero.

Nee wat, ek kon mos aan my ou bibberende gebeentes voel hoe koud dit is en ry mos genoeg deur ons eensame platteland om te weet dat elke tweede ou dorpie (of liewer, meer as nege uit tien) in sy peetjie is. In die geval van die Vrystaat totaal verys en ver-Ace.

Terloops, ek weet nie wie se peetpa Peet is na wie hierdie mooi gesegde van ons genoem is nie, maar die Ingels daarvan lui: “To have gone west.”

Nou ja, dat ons ou landjie nou so ver wes is as wat hy kan, dié is seker.

Maar dan gaan die bohaai steeds nie oor krag en skoon water nie – nee, net oor die arme minsipale ramptenarre wat nie hul salarisse gaan kry nie.

Kry vir julle, julle!

Die ander aardskuddende niks-nuus-nuus wat die laaste tyd aan ons niksvermoedende siele opgedis is, is die bevinding van die Britse Royal Society for Public Health (RSPeeH) dat vroue meer toilette nodig het as mans.

Die Einsteins wat tot hierdie aardskuddende bevinding gekom het, beveel dan ’n een-tot-twee-verhouding tussen die Adams en die Evas se geriewe aan.

Een tot twee?!

Elke tweede dorpie, of liewer, meer as nege uit tien, is in sy peetjie in. In die Vrystaat se geval totaal verys en ver-Ace.

“I say, old chap, shouldn’t that rather be four or five to one?” Want, ou chappie, ek weet nie van julle chappies daar op Twickenham nie, maar hier by Loftus, Nuweland en by ons volksfeeste kan die Adams mos inniebos in loop as die note druk terwyl die arme ou Evatjies se toue oral minstens drie keer so lank soos die biertuin s’n is.

Ag nee, manne, hoe het dit ons so staan-staan dan nou honderde jare gevat om hierdie eenvoudige sommetjie oor die sit-sittery te maak?!

Ek moet darem toegee dat die meeste nuus nuwe nuus-nuus is, hoewel meestal nie aangenaam om te verneem nie.

Lekker nuwe nuus was om die afgelope week te hoor dat ons brandstofpryse gaan daal.

Soos oom Johnny opgewonde sê, dit sal nou minstens vir hom goedkoper wees om tuis te bly.

En dan goeie krieketnuus: Sommige van die Proteas se meisies het ingewillig om hulle die 10de Julie op O.R. Tambo te gaan haal. Gaaf van hulle, nè?

Meer oor:  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.