Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Phakisa is deel van verbete plundertog
Elise Tempelhoff

Die ANC-regering wil ons op verskeie maniere mislei: Een hiervan is sy ambisieuse Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat nie aan die gang kom nie. Die belangrikste rede hiervoor is dat ons nie genoeg water vir die plan het nie.

Om die NOP aan die gang te kry is die ANC nou op ’n plundertog om op kort termyn werk te skep en die bevolking tevrede te hou. Die jongste voorbeeld van dié plundering van natuurlike hulpbronne is dat die departement van minerale bronne ’n mynreg aan die Australiese mynhuis Sylvania uitgereik het vir die ontginning van platinum in een van Suid-Afrika se natuurwonders: die Nylvloedvlakte.

Nog ’n voorbeeld is die mynreg en omgewingsgoedkeuring, asook ’n waterlisensie, in die kritiek belangrike “waterfabriek” in die bewaarde Mabola by Wakkerstroom. Hier ontspring ’n hele klomp groot riviere.

Die ANC se plundertog is nou van die land na die see uitgebrei. Terwyl baie energie daaraan gewy word om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, het PetroSA (met Zuma en die departement van minerale bronne se hulp) die oseaan rondom Suid-Afrika reeds in massiewe blokke verdeel en feitlik op ’n skinkbord aan internasionale olie- en gasmaatskappye gegee. Onder hulle is Exxon­Mobil, wat reeds besig is om van Alexanderbaai aan die Weskus tot Kosibaai aan die ooskus seismiese soektogte te doen. Die soek­-togte, waaraan Sasol, Total, Sungu Sungu, Rhino Oil en ander deelneem, word onder die vaandel van Operasie Phakisa uitgevoer. Laasgenoemde is deel van die NOP.

PetroSA erken op sy webwerf dat die aktiwiteit in die oseaan die laaste maande toegeneem het en meld dat omgewingsbewustes toenemend by hom oor die lawaai in die see kla. Hulle is ook bekommerd oor die toenemende aantal walvisse, dolfyne, pikkewyne, robbe en verskeie seevoëls wat strand.

Dit het tyd geword dat Suid-Afrikaners die volle omvang van Operasie Phakisa besef.

Dit het tyd geword dat Suid-Afrikaners die volle omvang van Operasie Phakisa besef omdat dit verreikende gevolge vir die kusgebiede, voedselsekerheid, werkskepping en toerisme kan inhou. Wat gaan van bestaansvissers en toerisme in plekke soos Kaapstad, St. Lucia, die wonderskone Wildekus, Mosselbaai, Plettenbergbaai en Knysna word?

Om net ’n voorbeeld te noem: Walvisse en dolfyne gaan verdwyn omdat die seismiese soektogte dié diere van koers af gaan dwing.

Die eksplorasie in die oseaan hou moontlik nuwe bronne van energie in, maar moenie vergeet nie, dit is fossielbrandstowwe, en die res van die wêreld is stelselmatig besig om na hernubare energiebronne oor te skakel.

Phakisa beteken “maak gou” in Sotho en ’n mens kan maar net aflei dat die regering haastig is om die projekte aan die gang te kry. Natuurlik is miljarde dollars op die spel en internasionale energiemaatskappye lek reeds hul lippe af om olie- en gasbore in die redelik ongerepte Indiese en Atlantiese Oseaan hier by ons op te rig.

Kan Suid-Afrika dit bekostig om ter wille van die soektog na fossielbrandstowwe die lewe in die oseaan op te offer? Gaan kyk gerus op PetroSA se webwerf en soek die kaarte. Dan kan ons die gesprek voortsit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.