Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Croucamp: Wit mense verstaan nie kampusgeweld

As kinders moes ons dikwels met godsdiens ’n halleluja sing wat begin het: “As die lewenstorms woedend om jou slaan . . .” In ons onkunde het ons gehoor: “As die lewe storm, moet jy woedend om jou slaan.”

Dis wat ek gedink het toe ek Charles Smith se rubriek gelees het wat konseptueel gependuleer het tussen ou Afrikaner-slagofferskap en misplaaste politieke blaam.

Suid-Afrikaners – en veral wit Suid-Afrikaners – het nie werklik ’n begrip van die geweld op universiteite nie.

64% van die kinders in hierdie land word groot in ’n huishouding met net ’n enkele voog. In ’n beduidende persentasie huishoudings is daardie voog nié die biologiese ouer nie. Te dikwels is die voog ook nie ’n volwassene nie. Hierdie verskynsel het natuurlik sy oorsprong in onder meer die apartheidstaat se beleid van arbeidsmigrasie en meer onlangs in moderne verstedeliking. Daar is min veranderlikes wat maatskaplike bestendigheid so bevorder soos gevestigde gesinstrukture.

Ook die gewelddadige aard van misdaad in Suid-Afrika kan van hierdie beskouing ondersoek word. ’n Ander aspek van die geweld op kampusse wat onkrities veronderstel word, is dat dit armoedige studente uit plakkerskampe is wat verantwoordelik is vir die misdadige aard van die protes. Die feit dat rektore, dosente en selfs die skatryk politikus en uitvoerende hoof van Eskom, Brian Molefe, se seun aan die vernietiging deelneem, behoort te bevestig dat dit die swart middelklas is wat bloed stort vir groter toegang tot die voordele van die staatskas en die ekonomie; waarskynlik ten koste van die armstes.

Afrikaners kan na hulself in die privaatdomein omsien, die staat het groter en meer komplekse behoeftes of uitdagings wat onderwys betref.

Daar is ongeveer 6 miljoen swart middelklas Suid-Afrikaners wie se kinders in die beter skole is. 70% van die kinders in privaatskole is swart en middelklas.

Hulle daag in groot getalle by universiteite op wat deur die wit regering en die apartheidstaat vir ’n klein deel van die bevolking gebou is.

Gegewe die werklikheid van die vraag wat die kapasiteit by verre oorskry, moet Afrikaners dalk net hul aandrang op Afrikaanse universiteite heroorweeg.

Afrikaners kan na hulself in die privaatdomein omsien, die staat het groter en meer komplekse behoeftes of uitdagings wat onderwys betref. Anders as die wit middelklas het die swart middelklas egter nie ’n bate-gefundeerde demografiese dividend om op terug te val wanneer die ekonomie verlangsaam nie.

Dit beteken dat die wit middelklas steeds groter toegang tot kapitaal het. Alle middelklas-gesinne word in skuld gedompel deur skool en studiekoste, maar die wit middelklas het ’n historiese toegang tot bates, kapitaal en gehalte-onderrig terwyl die swart middelklas vir ’n enkele generasie daardie voorreg geniet.

’n Ander belangrike aspek is dat leierskap en verantwoordelike ouerskap ontbreek. Molefe vermaan nie sy seun omdat hy onverantwoordelik omgaan met politieke bevryding nie, hy moedig hom in die openbaar aan om sy bevoorregting te misbruik.

Polities doen die regering presies dieselfde, en soos die jong Molefe, maak die minister van hoër onderwys daarop aanspraak dat hy vir die regte van die armstes onder die armes opstaan; dit weet ons egter reeds is ’n massiewe leuen. Maar, nou ja, wat Charles Smith betref: Die pen is magtiger as die swaard, maar net totdat die pen moedswillig misbruik word as ’n swaard.

Om Afrikaners as slagoffers voor te hou is ’n vorm van verraad wat ons duur te staan gaan kom. Ironies genoeg is dit dikwels een van die aanklagte wat wittes voor swart mense se deur lê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.