Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: Bly stil, jonger Piet, en kom bietjie by
Piet Matipa

Ek het ’n stoute seun geword, bril en al.

My taalfabriek was eens die produsent van vars gebakte, skoon en deurdagte sinskonstruksies. My gedrag was soos dié van ’n dame: subtiel, hoflik en agter pleks van voor op die wa.

My tande het gereelder buite rondgehang soos ’n tou by die lisensiekantoor.

Nou gebruik ek graag ’n kragwoordjie as byvoeglike naamwoord, trappe van vergelyking en intensiewe vorm.

My gedrag is dié van ’n lastige skoolkind, blatant, soms bar en nie eens voor op die wa nie, maar selfs voor die wa.

My tande is agter lippe toegesluit en sien slegs lig wanneer daar gesmul word.

So, hierdie is ’n intervensie, ’n ingrypingspoging, ’n regrukaksie. Piet, jonger Piet, is ’n rapsie bekommerd oor jou.

Nie omdat hy jou vreugde wil demp soos ’n kragonder­breking voordat die geiser kan warm word nie.

Hy wil juis hê jy moet die laaste jare van jou 20’s geniet, maar binne jou baan en nie soos mense wat tik terwyl hulle bestuur nie.

Onthou jy die dae toe jy ­foto’s op sosiale media gelaai het terwyl jy en jou vriend ­lekker gekuier het?

Net jul tande het vir die kamera geflash en niks anders nie. Nou laai jy foto’s van jouself op in jou onderbroek terwyl jy rooiwyn drink; jy hou nie eens van rooiwyn nie.

Wat is hierdie foto’s waar jy mense soen, soek jy aandag? Dit is baie ontstellend om jou so te sien. ’n Drukkie is liggame wat soen, doen dit liewers.

Piet iets is nie #@*-warm of #*@*-koud nie. Dit is vuurwarm en yskoud. ’n Kat in ­Nederlands beteken iets anders in Afrikaans. ’n Teef is ’n wyfiehond en nie jou vriende se name nie, al bedoel jy dit uit liefde.

Stuit die gebruik van besoedelde taal en maak asof jy nie ’n beperkte woordeskat het nie.

Ek weet jy hou van dans, maar jy doen dit te veel en te wild. G’n wonder jy het jou voet geswik nie. Jou liggaam het so moeg geraak vir jou rukke en skutte dat die regtervoet een vir die span gevat het. Gaan liewers so in die gim tekere. Jy is ’n volwassene en nie ’n halfwassene nie.

Wees ook vriendeliker, jy lyk vreemd wanneer jy ernstig is. Lag meer en nie net vir ander mense nie.

Piet al hierdie is nie om jou te kritiseer nie, maar jonger Piet ken jou beter as dit.

Goed. Ek besef ek is nie meer wat ek was nie, jonger Piet, maar wil jy regtig hê ek moet soos jy wees? Jou probleem is jy het niemand gesoen nie. Nou moet ek die opvangwerk doen. Die enigste verskil tussen ’n onderbroek en ’n broek is die een is oor die ander een, hul dien tog dieselfde doel.

Ons al twee weet dat ek ’n beter woordeskat as jy het, jonger Piet. ’n Kragwoord is soms ’n uitlaatklep. Ek lag wel, jonger Piet, maar nie vir enige simpel ding soos jy nie.

Ja, ek moet perke kry en ja, ek het ’n bietjie stouter word, maar jy moet besef, jonger Piet, ek en jy is lankal nie meer dieselfde nie.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Mening  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.