Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: Die tweelingsusters van die kuberwêreld
Piet Matipa

Ek is nou ook ’n kuberkyser. Niks om oor te spog nie, baie om oor te spot, ja. So het ek vir my ’n profiel geskep op Tinder, die wêreldleier in lus en “liefde”, om die webwaters te toets. Dit was yskoud.

Dit is idealisties om te glo dat liefde blind is.

Liefde en lus is tweeling­susters en mens vergeet dat lus perfekte visie het.

Nou op die app Tinder is dit baie belangrik om jou bakkies ten toon te stel vir jou mede­kubermens om jou te takseer op jou uiterlike.

Jy het die geleentheid om ses visuele stimulante van jouself daarop te laai.

Dit dien as ’n brosjure van jouself. Die foto’s wat jy kies, is baie belangrik, want dit moet sorg vir aanvraag.

’n Mens kry ook die kans om ’n klein skrywe by te voeg. ’n Poging tot dimensie.

Die meeste skryf oor hul sin vir humor en hoe gemaklik (chilled) hulle is. Dan is daar diegene wat liedjies aanhaal.

Die slot bevat gewoonlik ’n kragtige aanhaling. Byvoorbeeld: “Ek is Karel, het ’n goeie sin vir humor, hou daarvan om aktief te wees, gym drie keer ’n week. Die lewe is te kort om dit nie te geniet nie.” En dies ­meer . . .

As Karel jou aandag vang op die app, swipe jy regs. As hy ook vir jou regs swipe, kan julle gesels.

As die brosjure nie voldoen aan jou vereistes nie dan swipe ’n mens links.

Links is soos die asblik. Jy hoef nooit weer gekonfronteer te word deur die lelike bakkies nie. Dit is soos ’n speletjie.

Ek het heerlik gespeel met byklanke. As iemand se ad­vertensiemateriaal veel te ­wense laat, gaan hulle asblik toe en dit gaan gepaard met “oe, nee”.

As daar een is wat ’n fees vir die oog is, dan gaan hulle onmiddellik na die kuberliefdesrak toe met ’n bygeluid: “Ja, lekker.”

Jy is gereduseer tot een oomblik van jou lewe wat jy vasgevang het toe jou tande op hul mooiste was.

Ek het so een of twee in die kol geswipe uit die honderde. Hulle sit op die rak, nog geen gesprek is gevoer nie.

Wat sê ’n mens vir ’n wildvreemdeling behalwe “hi” en dan wag jy vir ’n “hi” terug.

Daarna volg ’n “hgd” (hoe gaan dit?) en dan kry jy ’n “goed, hgd met jou?” terug.

Kubergesprekke het so min hup in hul stap soos ’n skilpad.

Dit begin stadig en bly stadig, of dit tel soveel spoed op dat jy jou ná die tyd skaam vir alles wat jy kwytgeraak het.

’n Gesprek in die kuberruim vergelyk darem nie met die ­ware Jakob nie.

As kuberkyser het ek ’n paar dinge wys geraak.

Dit stroop jou van ’n identiteit, uniekheid en persoonlikheid.

Jy word ’n foto.

Jy is gereduseer tot een oomblik van jou lewe wat jy vasgevang het toe jou tande op hul mooiste was.

In die kuberruim is jy net ’n nommer, net nog een.

So, die persoon met wie jy praat, gesels heel waarskynlik met 12 of 20 ander.

Die kuberwêreld het my herinner hoewel liefde blind is, het sy ’n tweelingsuster wat haar lei en dit is lus.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Tinder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.