Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: ‘Koester daai hare, daar kom ’n dag’

Daar kom ’n dag wanneer ’n man gebles word.

Dié tipe blessing wat g’n testosteroon-eienaar wil hê nie.

Die Here gee en daar kom ’n tyd dat Hy ook neem. Dan sit ’n man nou sonder hare of met ’n C-vormige haarstyl – die laaste bietjie haartjies wat met hoop aanhou klou en hunker na die dae toe die familie nog heel was.

Die dag wanneer natuur sy snoeiskêr ontdek en nie skroom om dit te gebruik nie.

Die hare emigreer en maak sommer seker hul nageslagte trek saam – dit los ’n gedeelte van die hoof blinkleeg; dit lyk skoon soos ’n skaatsbaan.

Die jeug het die groener weivelde kom steel, soos ’n minister.

Nou moet persoonlikheid vorentoe tree, want dit wat die kop interessant gemaak het, is een vir een afgerokkel.

Ek het my nagrus geniet totdat ’n droom van my bleswording daarin gesluip het. Vir ’n kitsoomblik was ek verinneweer.

Gelukkig is my hare gehoorsaam en gedissiplineerd

Ek weet nie hoekom nie, want ek is nie gewoond daaraan om hare op my kop te hê nie.

My luiheid het die oortuigingsvermoë van ’n diktator en het altyd toegesien dat ek my ongekamde-google-maps-kroese afskeer, want om dié netjies te kry, was ’n moeisame taak.

Eers later het ek besluit om ’n poging aan te wend en ’n bosgedoente op my sjokoladehoof te groei. Dit het tyd en geduld gevat tot ek dit byna reggekry het om ’n gebrande Tafelberg op my kop te kry.

Dit was moeite om soggens die tafel op te hys. Ek moes dié in ’n blok in neuk en hoop dit gaan bly staan – gelukkig is my hare gehoorsaam en gedissiplineerd.

Dit roer nie eens as die wind sê spring nie. Nadat die Tafelbergie op was, moes ek koes en keer vir diegene wat niks gewoond is nie wat daaraan wou vat.

Ons hare koester en dit liefhê, dit bederf met duur sjampoe, dit groei – dit moet aan ons klou soos maanhare

A nee a, ’n mens voel nie net sommer aan enigeen se hare nie.

Voel met jou oë. Dit gaan mos nie aangenaam wees as ek aan jou bolla ruk en pluk net omdat dit my fassineer nie.

Dit is die eerste keer dat ek werklik gevoel het hoe dit is om ’n versiering op die hoof te hê. Ek het daarvan gehou, maar het dit mettertyd platgeslaan, want die moeite was te veel.

Hoewel ek luiheid gereeld vry, wil ek steeds die opsie hê om ’n Tafelberg te groei. As ek gebles gaan word, gaan daai voorreg van my weggepluk word en gaan my kroesies eienaarloos wees.

My liewe testosteroondraers, ons het baie om voor dankbaar te wees, ek weet.

Ons moet maar ons lot aanvaar. Ons hare koester en dit liefhê, dit bederf met duur sjampoe, dit groei – dit moet aan ons klou soos maanhare.

Hare is vir ’n tyd ons grimering. Ons is natuurlik daarmee getitivate. Maar ná ’n goeie partytjie smelt grimering af.

’n Blessing is soos e-tol, my broers. Ons sal dit nie kan vermy nie.

Die Here gee, die Here neem . . . skaaf dus solank aan daardie persoonlikheid, Adam.

Meer oor:  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.