Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: My gasverskyning in die martelkamp

Soos ’n tussenseisoen­verkoue het ek weer my verskyning in die gimnasium gemaak.

Die plek waar selfbeelde gesloop word.

Ek het vantevore gal gebraak oor gimnasiums, maar my haatgevoelens is weer uit die dood opgewek toe ek eergister besoek gaan aflê het.

Almal van ons kry ’n motiveringsaanval en besluit van interval tot interval dat dit tyd is om die lyf soos klei te hervorm.

Ek is mos net been en my vel is soos ’n laken oor ’n ou matras. Dus het ek dit weer goedgedink om ysters te lig sodat die spiere kan voorplant.

Die gees het so aan my vlees gekarring dat ek toe weer my gasverskyning in die kamp van onderdrukking gemaak het.

Die ongemak het aan my geklou soos ’n winterjas terwyl ek tussen die spierslawe verby ge­stap het.

Soos voorheen genoem het ek my kykassistent (bril) liefs in my voertuig laat rus – wat die oog nie sien nie . . .

Dié was ’n ander gimnasium, ’n larney een. Jy kan TV kyk terwyl jy draf en daar is ander Eerstewêreldse onnodighede.

Draf is een van my sterk punte. Dis om met die masjinerie te werk wat veel te wense oorlaat.

Ek het Donderdag besluit dit is beenmartel-dag. Soos die gimgangers dit noem: leg day.

My motivering loop tans op leeg. My gimkennis is die definisie van laagtepunt.

Ek besit twee loopriete, ’n kuit of twee sal nie te versmaai wees nie.

Ek het by ’n masjien gaan sit wat ek aangeneem het is vir die bene. Daar is prentjies op die toestelle wat vir die gimongeletterdes presies wys hoe om die bepaalde liggaamsdeel te straf.

Nugter het geweet hoe die een waarop ek was, gewerk het.

Ek het probeer lig en afdruk, maar kon die ding nie ontsyfer nie.

My gesig het ’n leuke uitslag gekry. Dit was vir spierslawe duidelik dat ek nie ’n gereelde besoeker is nie. Die lug het gestink van vernedering.

Ná so tien minute van mislukking het ek besluit om my sorge weg te drink by daardie fonteinkraan – waar ’n mens ’n knop druk en die water met jou bek moet vang.

Ek het natuurlik my waterbottel vergeet. Daar is ek weer beproef, want ek het geen benul gehad waar die knoppie is nie.

Ek het die kraan ontleed en kon tot geen nuwe insigte kom nie.

Almal het toegekyk hoe die sukkel my oorrompel. Ek het opgegee.

Terwyl ek op die roeimasjien was, het ’n spierslaaf gaan water drink en ek het toe gesien dat die knoppie lewensgroot aan die kant sit.

In dié stadium was die roeimasjien een van die min goed wat ek onder die knieë gehad het.

Ná my poging tot ’n gimsessie het ek gaan stort, maar was so skaam om voor almal aan en uit te trek dat ek dit in die toilet gaan doen het.

Privaatheid is ’n woord wat nie in ’n gimnasium gespel kan word nie.

My motivering loop tans op leeg. My gimkennis is die definisie van laagtepunt.

Blykbaar wen ’n aanhouer, ek sal maar moet wag en hopelik sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.