Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: Pretoria, jy is my stukkie, my gabba

My geliefde Pretoria (of soos ek jou noem, ­Pietoria).

Ek skryf die brief met ’n hart so morbied en ’n gemoed so laag soos wanneer ’n mens vroeg moet opstaan in die onsimpatieke wintersoggend.

Ek verruil jou vir jou gevaarlike suster, Johannesburg.

Nooit sou ek dink dat my tong die onsmaaklike sin sal maak nie.

Dit voel kompleet asof ek myself op dieselfde plek oor en oor byt wanneer ek sê Johannes . . . ek kan nie eens die sin voltooi nie. My tong voel asof dit in kasterolie marineer.

Ek wou hê jy moes die nare nuus oor my ekstra-large lippe hoor. Die laaste ding wat ek wil hê, is dat jy jouself verkwalik. Ek het die sware besluit geneem om nader aan die werk te wees. Ek is nie meer opgewasse vir die lang pad nie.

My liefste, die N1-snelweg ­beproef my daagliks. Soveel mense se moeders verdien nie om gevloek te word nie.

Daar is elke oggend ’n vragmotor wat in die middel van die pad van duisternis staan. Hier is motors soos magnete – hulle moet teen mekaar bots.

Dan is daar die bakkies wat in digte verkeer ry asof hulle op Kyalami is.

Ek het al gedink dat bakkie-eienaars voortdurend met ’n swanger vrou ry wie se water gebreek het, of dat hulle ’n groot nood en ’n klein blaas het.

Om twee uur in verkeer te sit teer my pad na die hel toe. Ek moet bloot nader trek. Ek hoop jy verstaan.

Pietoria, ek gaan jou mis, nie vir jou Jakarandabome nie. Pers was nog nooit vir my ’n kleur wat saak gemaak het nie. Jy is nie so wild soos jou suster Kaapstad, gevaarlik soos Johannesburg of niks gewoond soos Potchefstroom nie.

Jy is konserwatief, maar ­wêreldwys. Hoewel jy preuts is, het jy ’n wilde kant waarby ek aanklank vind.

Johannesburg is ’n besige meisie. Hoe gaan ek haar ooit vertrou?

Om in die straat te loop is om te adverteer om gekaap te word. In Pretoria smash and grab ­hulle om fone te steel, maar in die buurstad doen hulle dit om babas te steel.

Ek is te broos om in die wêreld se hoofstad van misdaad my kop neer te lê. Dit is ’n bietjie jou skuld, Pietoria. Jy het my beskerm van die walglikheid van die wêreld.

Jy het my ook gewoond gemaak om meestal in Afrikaans te dink. In Johannesburg is dit iets wat 22 jaar gelede gepraat is. Nou moet ek knaend Google translate as ek wil kommunikeer.

Ek weet ek oordryf ’n bietjie, maar om jou vir totsiens te sê was nie in my lang- of korttermynplanne nie.

Jy is my stukkie, my gabba. Ek wil saans aan jou warm boesem lê, want Johannesburg is twee grade kouer.

Hoewel dit nie dieselfde gaan wees nie sal ek steeds vir jou kom kuier, maar soos ’n booswig in ’n liefdesroman staan die brandstofpryse in die pad van ons geluk.

Totsiens, my eerste en enigste Pietoria. Liewe Johannesburg, vat dit asseblief stadig met my, jy is nogal groot. 

Meer oor:  Trek  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.