Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: Vriendinne is ‘hemelgebakte poeding’
Piet Matipa

Vroue, vriendinne, susters, Evas.

Ek het vandeesweek tydelike berou beleef omdat my pad van geboorte af skeef geteer is, want julle is hemelgebakte poeding. Julle is manna (of eerder vroua) uit die lug. Julle is water tydens ’n wedren. Julle is ’n Myprodol tydens babelas. Sonder julle op die ronde huis van die mensdom sal dinge skeef wees. Baie skeef.

My liefde vir julle is noord, waar die hart sit.

Ek wil julle só komplimenteer dat julle skoon gefopdos lyk. Ek wil nie net ’n loflied sing nie, maar ’n lofalbum opneem. Ek gaan julle so vet voer met mooihede dit gaan op julle heupe sit.

Hoekom? Want julle haal die “luk” uit misluk en sit dit in geluk.

Nie almal kan onder dieselfde haardroër geblaas word nie, maar die meeste vroue wat ek ken, beslis.

Vriendinne, van my nat-agter-die-ore-dae was julle vriendelikheid RSG (regtig sonder grense). Sonder julle is dit soos PSS (peper sonder sout) en SSP (sout sonder peper) en almal verkies PMS (peper met sout). Hier is ’n lys van my gunsteling Eva-dinge:

In my uur van vrees is julle soos ’n waaier tydens ’n hittegolf. Ek was by die tandarts en die aangenaamste vriendin het geskaaf en geskuur soos ’n mynwerker om my bek glimlagbaar te kry. Sy was vriendelikheid se eersteling. Sy was besorgdheid se kleinkind. Ek het  om verskoning gevra omdat sy so hard en so mooi aan my bakkies gewerk het.

Wanneer Vrydag ons verlos van die pyn en langdradige lyding wat deur Maandag begin is, wil mens nou tipies gaan dans. Julle Evas is een van die lekkerste dansgenote ooit. Vreemdeling of bekende. Julle persoonlikhede is so oop soos die N1 op ’n Sondag, geen nukke of grille nie.

Ek hou daarvan dat julle eerste reaksie altyd ’n glimlag is: eg of vals. ’n Glimlag is beter as ’n vuis.

Toe ek per ongeluk teen ’n suster vasloop, het sy nie geknor soos ’n hond wat met ’n ketting vasgeboei is nie. Sy het geglimlag en om verskoning gevra – al was ek die sondaar. ’n Adam het my een keer so gestamp dat my skelet gebewe het, maar dié het voortgegalop asof hy ’n rugbybal oor die doellyn moet kry.

Julle is deeglik, noukeurig, dink dinge deur. My tannie ­Wenette Snyman is ’n goeie voorbeeld. Ons Adams wil net ­ready, steady, go. Dan wil ons eers begin dink wanneer die ­pôpô die fan gebreek het.

Ek weet nie of dit vanpas is nie, maar julle is pragtige skepsels, veral jul buuste. Drukkie-kussings. Dit maak net ’n druk aangenamer.

’n Henneparty is soveel meer pret as ’n ramparty. Paintball en gholf is ’n voornemende bruidegom se voorland. Julle het allerlei prettighede, wat ek nie gaan verklap nie.

Ter afsluiting: mag julle vir jare FHM bly – Fenomenaal, Hemels, Mooi

Meer oor:  Piet Matipa  |  Mening  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.