Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pieter du Toit: ANC gee nie eens meer voor
Pieter du Toit

Die ANC gee nie eens meer voor dat die staat en die regerende party twee aparte entiteite is nie, skryf Pieter du Toit ná ’n ANC-nuuskonferensie oor die SAUK.

Daar is geen skeidslyn meer tussen staat en party nie.

Dít is duidelik ná die verstommende nuuskonferensie Dinsdagmiddag by Luthuli-huis waar Jackson Mthembu die media oor die voortslepende onstuimigheid by die SAUK toegespreek het.

Terwyl die sosiale media gegons het oor die skerp kritiek wat Mthembu uitgespreek het oor Hlaudi Motsoeneng, SAUK-bedryfshoof, se inmenging by redaksionele besluite, edikte en skrikbewind, het die subteks baie gesê oor die ANC se aanpasbare verstaan van ’n grondwetlike demokrasie en die skeidslyn tussen staat en party.

“Ek praat met julle as voorsitter van die ANC se subkomitee oor kommunikasie . . . ons hanteer alle sake rondom beleid, ek is seker alle Suid-Afrikaners wil sien dat dinge by die SAUK verbeter,” het Mthembu gesê.

Mthembu – wat in sy vrye tyd as ANC-LP en hoofsweep dien – het uitgevaar teen Motsoeneng en gesê hy kan Suid-Afrika verseker die ANC het “nog nooit” by die SAUK ingemeng nie en dat die regerende party óók deur Motsoeneng benadeel is.

Boonop gaan Mthembu en sy kollegas die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, en die SAUK-raad Maandag voor hom daag om te verduidelik wat aangaan en wat hulle doen om die aangeleentheid rondom die SAUK te beredder.

“Natuurlik kan ons haar beheer; as ons nie kan nie, wat sal die punt wees om haar in te roep?” het hy by Luthuli-huis aan joernaliste gesê.

Dis hieruit duidelik daar is nie eers meer ’n skyn van enige skeiding tussen staat en party nie.

Mthembu self is ’n probleem. Hy is die ANC se hoofsweep in die parlement. Dít moet sy primêre verantwoordelikheid wees, nie om voorsitter van ’n ANC-subkomitee te wees nie.

Dis hieruit duidelik daar is nie eers meer ’n skyn van enige skeiding tussen staat en party nie.

Hy moes al lankal uit die hoofde van sy verkose amp deur middel van parlementêre prosesse ingegryp het.

Waarom?

Want die SAUK is ’n statutêre liggaam wat gerig word deur wetgewing en regulasies wat in die parlement opgestel word. Die SAUK se raad word deur lede van die portefeuljekomitee oor kommunikasie aangestel. Op hul beurt stel hulle die SAUK se uitvoerende bestuur – soos die groep- of die bedryfshoof – aan, terwyl die minister kragtens wet die staat in die beheerstruktuur verteenwoordig.

Maar nou moet die minister en die raad Luthuli-huis toe, terwyl daar nog nie ’n roering in die parlementsgebou in Kaapstad is nie.

Muthambi en die SAUK-raad behoort voor ’n oop, veelparty- parlementêre komitee te verskyn, nie met geslote deure by die ANC se hoofkwartier nie. As dit nie gebeur nie, gaan niemand Mthembu ooit glo as hy sê “die ANC het nog nooit by die SAUK ingemeng” nie.

Ons moet egter nie naïef wees oor realpolitik nie: Muthambi is ’n ANC-ontplooide, so ook die meeste van die SAUK-raad, daarom sou mens dit dalk nog kon sluk as die parlement al iets gedoen het. Die parlement het egter nog niks – níks! – gedoen nie.

Mthembu is reg as hy sê alle Suid-Afrikaners wil sien dat die situasie by die SAUK normaliseer. Suid-Afrikaners wil egter sien dat dit sonder politieke inmenging gebeur, in oorleg met wetgewing en die Grondwet en in lyn met die beginsel van skeiding tussen staat en party.

“Ons gaan ook ’n ondersoek eis na die skade wat die SAUK-gemors aan die ANC se beeld gedoen het,” het Mthembu in ’n stadium gesê.

Dís dalk eintlik waaroor dit gaan en Mtuhambi en die raad gaan dalk net een vraag van Mthembu en sy kollegas in die subkomitee moet beantwoord: “Kon Motsoeneng nie meer subtiel gewees het nie?”

Jackson Mthembu, voorsitter van die ANC se subkomitee oor kommunikasie, op die nuuskanaal eNCA in Netwerk24 se Johannesburgse nuuskantoor.

Meer oor:  Pieter Du Toit  |  Jackson Mthembu  |  Sauk  |  Anc  |  Sensuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.