Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pieter Malan: Wat ons miskyk in Maties se sage

Onder siniese studente van realpolitik was daar min twyfel oor die uitslag van regter Burton Fourie se ondersoek na die verkiesing van die nuwe Matie-kanselier, oudregter Edwin Cameron.

Fourie is deur die universiteitsraad gevra om ondersoek in te stel na gesprekke tussen prof. Wim de Villiers en Cameron oor laasgenoemde se benoeming as kanselierskandidaat wat plaasgevind het terwyl Cameron besig was om die konstitusionele hof se uitspraak in die Stellenbosse taalsaak te skryf. Hy beperk hom tot die vraag of De Villiers “onwettig of oneties” opgetree het en of hy in die proses probeer het om die uitspraak in die universiteit se guns te beïnvloed. Daarvoor vind hy (heeltemal tereg) geen bewyse nie. Deur die fokus van die ondersoek gerieflik eng te hou, systap hy netjies die veel belangriker kwessie: Het De Villiers en veral Cameron deur hul optrede die geloofwaardigheid van die konstitusionele hof en die uitspraak in die taalsaak ondermyn en skade gedoen?

Dis baie duidelik waarom Fourie so ver as moontlik van dié vraag weg stuur. Want so ’n bevinding sou die integriteit van ’n gesiene kollega in twyfel trek, ’n skadu oor Cameron se aftrede werp en sy posisie as pasverkose kanselier van een van die land se voorste universiteite in gedrang bring.

Deur al die fokus op De Villiers te plaas, kyk vriend en vyand gerieflikheidshalwe die onverkwiklike rol mis wat Cameron en ander raadslede van die universiteit in die sage gespeel het. Uit gebeure is dit duidelik dat as gevolg van Cameron se onvermoë om ’n duidelike en ondubbelsinnige streep in die sand te trek oor wat as onaanvaarbare gedrag van litigante in ’n saak beskou word (en daarby te hou), het die jammerlike sake gou so handuit geruk dat hy van ander verwag het om hom uit sy eie morele doodloopstraat te lei.

Wat het gebeur om die regter se vrese dat hy “hopeloos gekompromitteer” sou word, te besweer?

In die geval staan of val alles by ’n telefoongesprek wat aan die einde van Julie tussen De Villiers en Cameron plaasgevind het. In dié gesprek vra hy vir Cameron of hy ’n benoeming as kanselierskandidaat aanvaar. Cameron sê hy sal daaroor dink.

Op 2 Augustus antwoord die regter deur te sê dat hy “hopeloos gekompromitteer” sou word as hy so ’n benoeming aanvaar omdat hy “omring is van die dokumente” in die Stellenbosch-taalsaak. Dit, sou die redelike mens dink, sou tog wees waar die saak eindig. Net daar in die kiem gesmoor.

So, wat het gebeur om die regter se vrese dat hy “hopeloos gekompromitteer” sou word, te besweer? Sou dit hom minder kompromitteer deur herhaaldelike kontak te hê met adv. Jean Meiring, ’n lid van die universiteitsraad? (Want onthou, die raad was óók party tot die saak).

Sou dit Cameron “minder kompromitteer” deur (in sy eie woorde) “aangrypende bespreking(s)” met die rektor te hê oor “identiteits- en ander issues wat op die kanselierskap betrekking het”? Kan ’n mens die redelike waarnemer verkwalik as hy sou wonder of hierdie “aangrypende besprekings” ook gehandel het oor die universiteit se voorneme om uitnemendheid deur ’n Engelse monolinguistiese taalbeleid na te streef? Sou hierdie gesprekke dalk ’n invloed kon hê op die uitspraak wat Cameron besig was om te skryf? Natuurlik is dit onmoontlik om te sê. Maar dis presies waarom sulke gesprekke in die eerste plek nie moet gebeur nie.

Wat wel duidelik word uit Fourie se verslag, is dat Cameron, ten spyte van sy aanvanklike waarskuwing dat ’n benoeming hom “hopeloos” sou kompromitteer, onophoudelik bestook word met verdere versoeke om sy posisie te heroorweeg. Maar in plaas daarvan om sy vryers beleefd te verwys na sy aanvanklike standpunt, verklaar hy homself – vreemd genoeg – gewillig om “oorreed te word”. Wat ’n vreemde reaksie van ’n man wat slegs twee weke tevore nog bang was dat sy benoeming “onder gebillikte (sic) bevraagtekening” sou kom.

Teen hierdie tyd is die edelagbare regter en diegene wat hom ywerig die hof maak so ver in die pad van “hopelose kompromittering” af dat die enigste opsie is om die teenparty in die hofsaak, Gelyke Kanse, by die sameswering te betrek.

Dis beduidend dat dit Cameron se voorstel is dat sy ondersteuners vir adv. Jan Heunis bel. Hulle stel aan Heunis ’n opsie waarvoor hy onmoontlik kan nee sê: Sou jy omgee as ons regter Edwin Cameron as kanselier benoem? Wat kan Heunis sê anders as, “nee, natuurlik nie”? Die regter is immers besig om ’n uitspraak te skryf wat jy hoop om te wen! Hoe kan jy nee sê en in die proses ’n gesiene regter se kanse beduiwel om kanselier te word van ’n topuniversiteit?

Vir Cameron is dit ’n wen-wen-situasie. Nie net baan Heunis se instemming vir hom die weg om die benoeming te aanvaar nie, maar veel belangriker: Hy verplaas die morele las van sy besluit op Heunis. In plaas daarvan om self te stoei met sy eie gewete en die “hopeloos gekompromitteerde” posisie waarin hy homself bevind, kan hy met ’n skoon gewete sy groen regters-voorskoot verruil vir Maties se swart toga met goue tossels.

Alles in ag genome is Fourie reg oor een ding: Wim de Villiers is nie die man wat in die beskuldigdebank moet staan nie. Maar dit beteken nie álmal is sonder blaam nie.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.