Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pieter Malan: Wie gaan Wuppertal met visie heropbou?

Suid-Afrika is ’n land wat uitblink in morele verontwaardiging.

Ons is verontwaardig oor alles. Oor rassisme, skape wat op die strand geslag word, sportkwotas – blaai net deur hierdie koerant en jy sal nog minstens drie dinge kan identifiseer waaroor ons landgenote verontwaardig is.

Ons is so verontwaardig dat ons heel dikwels dít wat regtig fout is miskyk en niks doen aan dié dinge wat regtig saakmaak nie.

Dit is wat ware visioenêre onderskei van die res van ons. Hulle kyk verby die vlamme, luister verby die geraas op die agtergrond en doen die dinge wat regtig ’n verskil maak.

Twee weke gelede het die helfte van die sendingdorpie Wuppertal afgebrand. Vir diegene onbekend aan die noordwestelike uithoek van die Wes-Kaap: Wuppertal – en ’n handvol satelliet-nedersettings – lê genestel in die oostelike skaduwee van die Cederberge. Dis ’n gebied ryk aan natuurskatte met talle inheemse spesies. Om die waarheid te sê, is die streek so bekend vir sy natuurskatte dat sy kultuurskatte – waarvan Wuppertal, gestig in 1865, die pêrel in die kroon is – dikwels tweede viool speel.

Nou, met 53 van die 113 huise in die dorpie vernietig, staan dié kultuurerfenis op die rand van uitwissing. Die meeste van dié geboue is só erg beskadig dat dit gesloop sal moet word en die behoefte aan dringende oplossings vir die behuisingsnood, ’n tekort aan geld en ’n gebrek aan ’n langtermyn-visie laat die gevaar dat een van die land se groot kultuurskatte blywend geskaad kan word.

Wie gaan die Anton Ruperts wees wat die telefoon gaan optel om hul hulp aan te bied?

Dit situasie laat mens onwillekeurig dink aan ’n ander Wes-Kaapse ramp. Vanjaar presies 50 jaar gelede is die dorpe Tulbagh en Ceres deur ’n reuseaardbewing getref en bykans vernietig.

Die ramp, word vandag gesê, was die beste ding wat ooit met Tulbagh gebeur het. ’n Komitee om die restourasiepogings te koördineer het letterlik ’n dag ná die ramp reeds vergader – ’n proses waarin die miljoenêrsakeman Anton Rupert ’n groot rol gespeel het.

Tulbagh trek vandag nog voordeel uit Rupert en ander se visioenêre ingrype om die dorp te help red. Wat destyds vir die meeste net gegaan het oor die bewaring van ’n straat vol ou huise uit die 18de en 19de eeu, vorm vandag die grondslag waarop die dorp se finansiële voorspoed gebou is – soos die 72 gastehuise op die dorp getuig.

Was dit nie vir hierdie visioenêre nie, was Tulbagh vandag net nóg ’n dorpie in die Breëriviervallei uitsluitlik van landbou afhanklik vir sy oorlewing. Rupert en sy tydgenote se ware insig was dat die bewaring van ou geboue oor meer as witgekalkte mure en Kultuur met ’n hoofletter “K” gaan. Net soos jy ’n boom plant sodat jou kleinkinders in sy skaduwee kan speel, betaal bewaring sy dividende eers oor 30 of 40 jaar, lank nadat die bouers wat die krake reggemaak het self onder die kluite lê.

Wat my terugbring by Wuppertal.

Hoe – en wie – gaan verseker dat dié sendingdorpie uit die katastrofe opstaan beter, sterker en selfs meer skilderagtig as wat hy daar uitgesien het vóór die brand?

Wie gaan die Anton Ruperts wees wat die telefoon gaan optel om hul hulp aan te bied? Want kom ons wees eerlik, ’n versekeringsuitbetaling of ’n paar honderdduisend rand se skenkergeld van welmenende enkelinge gaan nie genoeg wees om ’n regtig visioenêre projek aan die gang te kry nie. Destyds het die staat ruim hand bygesit om Tulbagh te red. Vandag is ons staat bankrot.

Maar ook: Gaan die kerkleiers van die Morawiese Kerk, aan wie die grond en geboue wat in die brand verwoes is behoort, genoeg insig hê om te besef dat dié dorpie ’n kultuurskat is wat aan die hele land behoort en dat hulle daarom nie alleen die heropbouproses kan bestuur nie.

Gaan die gemeenskap van Wuppertal en die gesinne wat alles in die brand verloor het die geduld hê om te besef dat die proses ook reuse-eise aan hulle gaan stel?

Prosesse soos dié het die gewoonte om vas te val in eindelose debatte en onderlinge twiste – veral waar emosiebelaaide kwessies soos huis en haard betrokke is. Wat beteken dat êrens langs die pad iemand sy eie belang opsy moet skuif en na die groter prentjie moet kyk.

Uiteindelik wil ’n mens hê dat Wuppertal beter en mooier daar moet uitsien – op so ’n manier dat ’n mens oor 50 jaar kan terugkyk en sê: Die Oujaarsvuur op 30 Desember 2018 was die beste ding wat nog ooit met Wuppertal gebeur het.

  • Pieter Malan is die redakteur van Weekliks.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.