Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pik doen meer vir land as Panyaza
Barnard Beukman

Daar is volle begrip daarvoor dat enigeen wat onder apartheid gely het nie sy of haar weg oopsien om hulde te bring aan enige apartheidspolitikus nie. Dit is sy of haar volle reg.

Daar is inderdaad onder die bevoorregte klas van apartheid grotendeels nog te min begrip vir die omvang van die onderdrukking. En baie werk is nog nodig om dit ten volle te verstaan.

Dit is een van die redes waarom daar in dié rubriek destyds sterk standpunt ingeneem is teen premier Helen Zille se lukrake verwysing na die voordele van kolonialisme – dít in weerwil van sowat 70% van lesers wat tot steun van haar gereageer het.

Al moet ons sensitief wees vir mekaar se pyn, gaan dit in ’n diverse land nie help om vir mekaar helde te kies nie. Net so min as wat wit mense kon bepaal dat Lucas Mangope en Kaiser Matanzima enige swart mense se leiers of helde moet wees, kan wit mense en bepaald Afrikaanssprekendes nie ingeperk word tot ’n lysie van Bram Fischer en Beyers Naudé nie. (Mosiuoa Lekota – toe nog in die ANC – en Ebrahim Rasool het genl. Christiaan de Wet darem ook tot die lys gevoeg as een van die eerste Afrika-vryheidsvegters.)

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys en provinsiale onderleier van die ANC, is binne sy volle reg om te sê hy wil nie oorlede Pik Botha gedenk nie

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys en provinsiale onderleier van die ANC, is dus binne sy volle reg om te sê hy wil nie oorlede Pik Botha gedenk nie. Al is dit in teenstelling met die ANC en van sy kollegas.

Sy aanklag teen Botha is dat hy “apartheid verdedig het en die vryheid van swart mense vertraag het”.

Indien dit nodig was dat ons ’n vreedsame ontbondeling van apartheid moes kry en ’n onderhandelde skikking vir daarna, was Botha juis een van dié wat gelyke regte versnel het. Die magselite moes oortuig word om nie net weens die werklikhede van die dag nie, maar uit oortuiging te aanvaar dat apartheid verkeerd is en dat daar onderhandel moes word vir ’n inklusiewe en regverdige alternatief.

Dit is wat hy sy hele loopbaan lank gedoen het en dit het waarskynlik daartoe bygedra dat hy nooit die hoogste pos beklee het nie.

In die nuwe demokratiese bestel ná 1994, wat deur die ANC goedgekeur is, is hy tot die eerste parlement verkies. En ingevolge die oorgangsbedeling deur oudpres. Nelson Mandela in die eerste demokratiese kabinet aangestel. So, laat ons net balans in enige oordeel behou.

Lesufi is deel van ’n onderwysbedeling waar in die 2016-’17-boekjaar net 16 van die begrote 59 skole landwyd gebou is.

As deelnemer aan enkele projekte waar diverse deelnemers oor die verlede en die gevolge van apartheid praat, is dit my gevolgtrekking dat dit inderdaad nodig is. Maar die amper histeriese manier waarop apartheid die heeltyd nader gesleep word om mislukkings van die huidige regering te verbloem, het ’n roemlose hoogtepunt bereik met Britse beeldpoetsers wat gehuur is om “witmonopoliekapitaal” uit te dink.

Lesufi is deel van ’n onderwysbedeling waar in die 2016-’17-boekjaar net 16 van die begrote 59 skole landwyd gebou is. Meer as R600 miljoen vir nuwe skole is as “verlore” verklaar.

Uit Asadi, die inisiatief vir versnelde skoolinfrastruktuur, is vir die 2017-’18-boekjaar geld voorsien vir die bou van 12 Gautengse skole in die eerste drie kwartale. Net een het gerealiseer. En landwyd is net agt uit die beoogde 33 skole gebou.

Voorts sit Lesufi in die Gautengse regering, onder wie se toesig sommige van die oorlede Life Esidimeni-pasiënte agterop oop bakkies weggery is na ’n dood deur erge verwaarlosing.

In die openbare ondersoek het een van die slagoffers getuig dat die apartheidsbedeling beter vir haar broer gesorg het “as die demokratiese regering waarvoor ek gestem het”.

So wie vertraag nou die vryheid en bemagtiging van swart mense?

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Pik Botha  |  Max Du Preez  |  Afsterwe  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.