Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pik sou beter as Roelf gevaar het

Wyle Pik Botha was geen perfekte mens nie – daaroor sal almal wat hom geken het, saamstem. Maar as ’n mens sy essensie in één woord moet saamvat, sou dit waarskynlik wees “meesteronderhandelaar”.

In die loop van die jare is talle verhale vertel van hoe Pik Afrika-politici met sy sjarme oorweldig het. Dit was ’n sjarme wat hy doelbewus aan- en afgeskakel het, wat daarop gemik was om mense te oorrompel.

Leopold Scholtz

Dit het minder goed met Westerse eweknieë gewerk. Trouens, dit het soms effens aweregs gewerk. Maar met Afrika-leiers was dit hoogs doeltreffend.

Pik het hom dan geposisioneer as ’n Afrikaan, weliswaar ’n Afrikaan met ’n wit vel, maar iemand wat swart Afrikane emosioneel verstaan en ’n lotsverbondenheid met hulle deel.

Só het hy hul agterdog teen dié verteenwoordiger van ’n gehate apartheidsregime dikwels oorwin. Waarskynlik was dit sy grootste waarde as minister van buitelandse sake.

Daarom is dit nog altyd moeilik om te verstaan waarom F.W. de Klerk hom in die belangrike jare 1990-’94 nie as hoof-onderhandelaar met die ANC aangewend het nie.

Die man wat toe daardie rol gespeel het, Roelf Meyer, het sy bes gedoen, maar die ANC se hoofonderhandelaar, die huidige pres. Cyril Ramaphosa, het kringe om hom gehardloop.

Pik sou sonder enige sweem van twyfel beter gevaar het. Die vraag is natuurlik hóéveel beter. Dié vraag is belangrik, veral as ’n mens die veranderende magsverhoudinge in die land van destyds behoorlik ontleed.

Die meeste mense het besef dat die ANC die verkiesing van 1994 sou wen. Namate die verkiesing nader gekom het, het die NP-regering se uurglas leeggeloop en het sy magsbasis onder hom begin verswak. Sommige mense het De Klerk dit kwalik geneem dat hy nie die weermag gebruik het nie.

Maar hoe op aarde moes hy dit gedoen het? Moes hy tenks in Soweto ingestuur het? En dan? Wat maak die hond met die bus as hy hom gevang het? Só ’n onbekookte stap sou die oorgang totaal beduiwel het.

Maar goed, wat gebeur het, het gebeur, ons moet daarmee saamleef en die beste van ’n slegte saak maak.

Die punt is dat die veranderende magsverhoudinge die De Klerk-regering se onderhandelingsvryheid beperk het. Dus sou ’n Pik Botha aan die hoof van die regering se onderhandelingspan nie dramaties beter as een met Roelf Meyer aan die spits gevaar het nie.

Tog – en dis iets wat ’n mens uiteraard nie kan bewys nie – meen ek met Pik aan die stuur sou sekere detailkwessies ’n beter uitkoms gehad het.

’n Mens dink byvoorbeeld aan taalregte, wat in die uiteindelike Grondwet te veel vryheid vir moedswillige ANC-regters laat om Afrikaans te kniehalter.

Nog een is dat Pik moontlik ’n afsnydatum vir regstellende aksie kon beding het, iets wat kragtens die huidige Grondwet onbepaald kan voortduur.

Wat Pik (of enigiemand anders) nié sou kon reggekry het nie, was om die NP aan die bewind te hou en apartheid te laat voortbestaan.

Die laaste dae het ek verskeie regse ekstremiste gesien wat soos ploerte tekere gegaan het oor Pik as “verraaier”, waardeur hulle bloot iets van hul eie karakter openbaar.

Teen 1990 was daar geen enkele manier onder die son waarop apartheid sou kon oorleef nie. Waaroor weldenkendes kan saamstem, is dat Meyer nie die soort persoonlikheid gehad het om maksimum toegewings uit die klipharde ANC-onderhandelaars te kry nie.

Maar goed, wat gebeur het, het gebeur, ons moet daarmee saamleef en die beste van ’n slegte saak maak.

Dit kan ons slegs op een manier doen: Veg beleefd, maar ferm vir die regte wat die – toegegee, onvolkome – Grondwet aan ons toeken.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Pik Botha  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.