Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Plaas Media24 liefs in ’n trust

Die gebeure die laaste weke betreffende MultiChoice en sy beweerde invloedwerwing by die Guptas het sy moedermaatskappy, Naspers, ongemaklik in die soeklig geplaas.

Hier word ’n magtige maatskappy (wat 25% van die JSE se kapitalisasie verteenwoordig en Media24 beheer) deur sy eie mense in die openbaar bevraagteken. Dit is ongekend, maar ook bevrydend.

Dit wys dat die joernaliste wat by Media24 se publikasies werk (Netwerk24, News24, Beeld, Die Burger, Volksblad en talle ander) die onafhanklikheid het (en gegun word) om almal oor dieselfde kam te skeer.

Johannes Froneman

Dit lyk op die oog af of MultiChoice (en by implikasie sy eienaar, Naspers) daarvoor gesoek het.

’n Finale oordeel oor die saak is egter lank nie gevel nie. Ek wys dus geen vinger na enige persoon of instansie nie. Maar dit lyk alles baie verdag. En joernaliste snuffel waar dinge verdag lyk. Dit is hul werk, want waar ’n rokie trek, is daar gewoonlik ’n vuurtjie.

Die gebeure verteenwoordig ’n baken in die ontvouende geskiedenis van die 102 jaar oue Naspers, gebore in 1915 as De Nasionale Pers en een van die bastions van die opkoms van die Afrikaner in die 20ste eeu.

In die 1990’s is die maatskappy egter aandelebeurs toe en word dit ’n winsgedrewe mediamaatskappy. Danksy veral die gelukskoot met Tencent, ’n Chinese internetmaatskappy waarin Naspers ’n goeie aandeel teen ’n appel en ’n ei gekoop het, groei Naspers se waarde astronomies.

Terselfdertyd word sommige senior amptenare danksy vriendelike aandele-opsies fabelagtig ryk en krimp die eertydse basis van Naspers (sy koerante-, tydskrif- en drukkerybelange) tot ’n finansiële onbenulligheid in die groter Naspers-prentjie, maar allermins onbenullig in die politiek-kulturele konteks van ’n onvolwasse Suid-Afrikaanse demokrasie.

Dit gaan dus oor twee sake: die finansiële en die joernalistiek-politieke belange. Dat dit nie voorheen so in die openbaar gebots het nie, is danksy ’n kultuur van lojaliteit en gedeelde belange. En ’n leier soos Ton Vosloo.

Deur alles heen het almal geglo die joernalis-sakeman Ton sal ons nooit in die steek laat nie. Maar hy is nie meer in ’n posisie om daardie verskansing te probeer bied nie. Dit sê nie noodwendig iets negatiefs oor die huidige voorsitter, Koos Bekker, se motiewe nie. Glad nie. Dit verwys bloot na persepsies van werknemers, waarnemers en mense soos ek, wat met kommer gesien het hoe die sake (en waardes) wat Naspers oor dekades heen in ’n posisie geplaas het om ’n wêreldspeler te word oënskynlik nie meer tel nie.

So wanneer belange wat met goeie joernalistiek en die opbou van ’n ruimer samelewing te make het, bots met suiwer finansiële oorwegings, besef ’n mens net weer hoe onmoontlik dit vir hierdie familie geword het om gemaak-gelukkig en eensgesind saam om die Kersboom te sit.

Vandaar my gedagte dat Media24 nie as aparte maatskappy moet funksioneer nie, maar eerder in ’n trust geplaas moet word om die mense van Suid-Afrika onafhanklik en selfonderhoudend te dien. Dit is lank gelede al gedoen toe die C.P. Scott-trust in Brittanje gestig is om die eienaarskap van TheGuardian en The Observer oor te neem. Só is dié koerante van direkte politieke en finansiële druk bevry, hoewel hulle selfonderhoudend moet wees.

’n Onmoontlikheid? Dalk. Maar kan dit nie tog oorweeg word nie? Sommige sal die idee as gek van die tafel vee, maar met wilskrag kan dit tog gebeur.

Tot almal se voordeel.

  • Prof. Johannes Froneman is ’n mediakundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Rubriek  |  Naspers  |  Multichoice  |  Media24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.