Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Plaaslike regering grootste toets vir ons demokrasie

Suid-Afrikaners kan op plaaslike vlak ’n tasbare invloed hê deur hul stemme te laat hoor en nie net deur ’n kruisie te trek nie, skryf Leslie van Rooi.

Opgehoopte vullis vroeër vandeesmaand in die Bloemfonteinse stadskern. Foto: Mlungisi Louw

Soos 2019 beloof 2020 om nog ’n jaar vol politieke drama in Suid-Afrika te wees.

Struwelinge binne die ANC, ekonomiese krane wat begin opdroog, ’n akute tekort aan opwekkingsvermoë deur Eskom en ’n naderende munisipale verkiesing behoort van die sake boaan ons nasionale agenda te wees.

Alhoewel ons bekommernis en waarskynlik ook die grootste gedeelte van die bestaande debatte gaan oor aspekte wat die nasionale regering direk raak, is dit tog ook nodig om aandag te gee aan sake op die derde vlak van ons regeringstelsel, naamlik by ons munisipaliteite.

Dit is duidelik dat hierdie vlak van regering al hoe meer onder druk kom met ’n groeiende getal munisipaliteite, waaronder Mangaung, wat onder administrasie is.

Hier is die uitdaging natuurlik nie net die herstel van plaaslike bestuur nie, maar juis dat dit baie lank sal neem om op te bou waar verval ingetree het.

As ons iets leer by die belangrikheid van ’n behoorlike ondersoek en uiteindelik ’n vervolgingsmandaat vir staatskaping in Suid-Afrika, is dit dat wanneer bestuur op ’n plaaslike vlak verwaarloos word, dit groot skade veroorsaak wat miljoene se lewens daagliks negatief beïnvloed.

Die onvermoë om te bestuur binne die konteks van die regering speel dus veral tasbaar uit op ’n plaaslike vlak en dit is veral hier waar die weerloses in ons samelewing hard geraak word.

’n Reis deur die binneland van Suid-Afrika oor die Desembervakansie het my juis hieraan herinner. Stede en dorpe soos Upington, Kimberley en Bloemfontein wys almal tekens van verouderde infrastruktuur en ’n groeiende onvermoë van stadsrade om dit gou genoeg te herstel, uit te brei en selfs om vullis behoorlik te verwyder.

En natuurlik is daar ’n komplekse stel redes waarom ons in hierdie posisie is. Net soos wat daar ook baie eenvoudige redes is waarom ons sukkel om die mees basiese aan inwoners, wat dienslewering broodnodig het, te voorsien.

Treurspel op verskeie dorpe

Leslie van Rooi

As daar by die meeste verkeersligte in die middestad van Bloemfontein weinig meer as twee ligte is wat werk en as die vullissakke natreën net om uit te droog in die son en dan te wag vir die volgende week se reën sonder enige teken dat dit verwyder of herstel sal word, is dit duidelik dat plaaslike bestuur gewoon nie gebeur nie of dalk nie moontlik is nie. Hierdie treurspel speel hom nou af op verskeie dorpe.

Hier is die uitdaging natuurlik nie net die herstel van plaaslike bestuur nie, maar juis dat dit baie lank sal neem om op te bou waar verval ingetree het. Om nie eens te praat van ’n nuwe vertroue deur die burgery nie.

Dit is dalk juis die vervalle vertroue van dié wat betaal vir basiese dienste en selfs dié wat afhanklik van plaaslike dienslewering is, wat dalk die eintlike oorsaak is van huidige proteste op dorpe soos Kenhardt, Keimoes en Upington – plekke waar jy weinig hoor van proteste, selfs te midde van uitdagende omstandighede.

Dit is hier waar inwoners, ná die dood van ’n polisieman op Keimoes, besluit het om dwelmverskaffers op dié dorpe uit te wys. Ook om hul weg te wys; met al die kompleksiteit wat hier in ag geneem moet word binne ons regstaat.

Dit is immers in hopeloosheid en moeilike omstandighede waar ons veral twee keuses uitoefen – óf jy help jouself of jy vergaan in ’n bestaan wat van betekenis beroof word.

Dit is ongelukkig ook hier waar wanbestuur, korrupsie en die onvermoë om reg te laat geskied, die seerste maak.

Dalk lê die werklike toets van ons demokrasie hoe ons op ’n plaaslike vlak insae lewer, bestuur en regeer. Dit is immers hier waar lewens op ’n daaglikse vlak geraak word.

Dit is ook hier waar ons, deur ons stem te laat hoor en nie net deur ’n kruisie te trek nie, ’n tasbare invloed kan hê.

Dit is ongelukkig ook hier waar wanbestuur, korrupsie en die onvermoë om reg te laat geskied, die seerste maak. Maar met die munisipale verkiesings wat nader kruip, sal ons waarskynlik ’n nuwe stel beloftes kry om ’n groeiende hopeloosheid mee in te kleur.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Upington  |  Kimberley  |  Bloemfontein  |  Keimoes  |  Munisipale Verkiesing  |  Wanbestuur  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.