Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Plant viooltjies in die mooiste, mooiste maand
Annelie Botes

Die lewe is besaai met onontkombare take waarvoor ’n mens soms geen motivering, dryfkrag of aanleg het nie. Maar jy kan dit nie ontwyk nie.

Al verpes jy kombuistake, is dit iets wat jy onvermydelik moet doen. Al het jy nie die naaldwerktalent om ’n vatlap te maak nie, verg die huishouding dat jy ’n naat toestik of ’n skoolroksoom insit. Jy moet self leer om ’n kraanwasser of kragprop om te ruil.

Met dié dat ons aan die vooraand van Oktober staan, bring dit my by tuinmaak.

Soos C. Louis Leipoldt oor die mooiste, mooiste maand dig: “Viooltjies in die voorhuis – Viooltjies blou en rooi! . . .” Nou sal daar mense wees wat sê hulle het nie ’n gesonde hand in die tuin nie. Hulle gril vir grond onder hul naels. Plante is duur en water is skaars.

Dikwels as ek deur die woongebiede van Port Elizabeth ry, sien ek erwe waar niks groei nie, behalwe ’n klaweroortrekte grasperk wat tot teenaan die huismure strek.

Maar behoede my indien ek gevonnis word tot ’n lewenslange verbod om in enige tuin te mag werk. Ek sal spierwit doodbloei.

Dan wonder ek wat is die gemoedstoestand van daardie gesin. Ruik jasmyn nie vir hulle na soete hemelse rus nie? Vind hulle geen vreugde daarin om ’n paar ryp aarbeie of kersietamaties te pluk nie? Skep dit nie ’n gevoel van vereensaming en kaalheid as hulle by die jaarthekkie inloop nie? Of gee hulle doodeenvoudig nie om nie?

As ek vandag ’n misdaad pleeg en tot lewenslange tronkstraf gevonnis word, sal ek dit nog kan hanteer. Die gryse sê mos ek is ’n hoenderhen met spore, en sal in ’n japtrap klaskaptein in die tronk wees. ’n A cappella-koor stig; met sigrêtte smokkel; poker speel met bewaarders. En hy reken daar sal weldra ’n tronkroman op die rak wees. En ’n botaniese tuin.

Maar behoede my indien ek gevonnis word tot ’n lewenslange verbod om in enige tuin te mag werk. Ek sal spierwit doodbloei.

Die geheim van tuinmaak is goeie grond.

Tuinmaak is nie ’n talent nie; dis eerder ’n deugsaamheid. ’n Mens hoef nie ’n Kirstenbosch of die hangende tuine van Babilon te skep nie. In ons Uniondale-jare toe ons nie ’n sjieling had om ons mee te krap nie, het ek groentetuin gemaak in die Austin 1155 se afgeloopte bande.

Van een aartappelmoer, geplant in opgestapelde bande, het ons 1½ sakkies uitgehaal. Salot­uie. Ertjies wat ons uitdop en rou eet.

Die geheim van tuinmaak is goeie grond. Vervolgens moet jy áándag gee. Rank op, snoei af, breek teesakkies by die wortels, gee gereeld ’n paar bekers stortwater, gooi peper vir slakke.

Sit rustig met jou oggendkoffie naby jou boontjieranke en ontluikende groenrissies. Pluk dooie petuniaknoppies uit terwyl jy bid vir ’n gebroke wêreld.

Moenie bang wees nie. Begin net. Al is dit net met ’n enkele pers viooltjie in die kombuisvensterbank. Die filosoof Francis Bacon het gesê: “God Almighty first planted a garden. And indeed, it is the purest of human pleasures.”

Doen dit vir jou eie sielevreugde, vroeg in Oktober, die mooiste maand.

Meer oor:  Tuinmaak  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.