Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Plattelanders se aansteeklike energie verras

Dink jou in – ’n drie dae lange blitstoer wat strek van Klerksdorp en Potchefstroom in die weste tot Witrivier, Mbombela (Nelspruit) en Ermelo in die ooste.

(“Laat ek liewer volgende keer jul toerplan uitwerk,” het die sanger Jannie Moolman, wat saam getoer het, onderlangs laat val.)

Barnard Beukman

Maar wat ’n verrykende ervaring om oraloor te kon koffie drink en gesels met Beeld-lesers in hul eie dorp.

En daar was ’n behoefte om te kom saam kuier, maar ook oor ernstige sake te praat, soos: “Gaan Cyril dit maak?”, en: “Is koerante nog geloofwaardig in die tye van fopnuus?”.

In my deelname het ek dit duidelik gestel dat ek ook maar subjektiewe waarnemings gee en geen uitsprake van ’n hoër orde lewer nie. Dit is duidelik dat ons lesers meestal diep bekommerd is oor die situasie in die land. Tog wil hulle juis hê dit moet ten goede uitwerk.

“Dit is ironies. Eers was ’n slegte ou president en toe het almal saamgestaan om hom uit te kry. Tans is daar ’n baie beter ou – ’n mens kan selfs sê goeie ou – in die presidentskap, maar nou is almal moedeloos en wil landuit,” het ek die diskoers daaroor oorvereenvoudig en half aspris aan die gang gesit. Met uiteenlopende reaksie.

Maar niemand is nog heeltemal reg om finaal tou op te gooi nie. En uit die vasberadenheid straal ’n verrassend aansteeklike energie. Op meer as een plek is die behoefte uitgespreek aan meer inligting en toerusting oor hoe om deelnemende ontwikkeling aan die gang te kry. Op heelwat plekke begin mense hergroepeer om ’n verskil te maak in hul omgewing deur dit waarmee hulle in elk geval besig is. Maar hulle wil weet dat dit in die kabinet ook plaasvind.

Die grootste skok van die toer was toe ons deur Carolina gery het. Dit is erg vervalle. ’n Mens wonder of dit nog gered kan word. Maar in Noordwes hoor ons weer van vrywilligers wat toilette in swart skole herstel.

Goeie nuus vir die Beeld-span is dat ons lesers ons tog nog grootliks waardeer. En duidelik die reis van elke dag se koerant met ons meemaak. En dit geniet. Dit was ’n besielende tyding om na die redaksie terug te neem.

Kritiek op inhoud en frustrasies is ook in ’n goeie gees geopper. (Soos beperkte beskikbaarheid in winkels soms – korporatiewe boontjietellers, neem kennis.) Daar was ook goeie voorstelle. Soos dié van Pieter Mulder in Potchefstroom dat Fransjohan Pretorius se Metro-geskiedenisrubriek ook in die plattelandse uitgawe verskyn.

Aan Klerksdorp se werkendes, Potchefstroom se afgetredenes, die Hoërskool Bergvlam in Mbombela se matrieks, die vroue van Ermelo en vele ander – dankie vir die verryking.

Volgende pak ons die spreekwoordelike bul by die horings en is van 26 tot 28 Augustus in Pretoria. Meer inligting volg.

  • Beukman is Beeld se redakteur.
Meer oor:  Witrivier  |  Potchefstroom  |  Klerksdorp  |  Ermelo  |  Mbombela (Nelspruit)  |  Energie  |  Leser  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.