Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poësie kan net so helder praat soos wiskunde

‘Bewers bou damme, spinnekoppe weef webbe en mense vertel stories.” Dié woorde van die Amerikaanse filosoof Daniel Dennett sê die mens is geneties bedraad om stories te vertel.

En wat ’n lieflike instink is dit nie! Verbeel jou ’n wêreld sonder stories by ’n kampvuur, ’n kaggel, by ’n ete met keurige kos en vrolike wyn, of jý mensalleen met ’n boek in die bed in die nanag. Van die vroegste tye af was stories die manier waardeur lewens-, natuur- en kultuurkennis oorgedra is – oor die wat en die hoe van die mens in die wêreld en die groter kosmos. Filosowe het later bygekom en beredeneerde slimstories daarvan gemaak.

En nog later kom die wetenskap wat vorm en vaart gegee het aan die mens se weetbegeertes: die struktuur van ’n korreltjie sout; ’n senuweefsel se chemie; hoe vandag se bord kos môre se spiere word; die aard en genesing van siekte; hoeveel ligjare die verste ster is; hoe oud die aarde en die kosmos is enso(wetend)voort.

Sommige het dwepend begin praat van die almag van die wetenskap wat met sy bekwame “handlangers” (logiese afleiding en die kultus van die bewese feit) die nuwe pilare van sekerheid geword het waarop kennis en begrip gebou word. Wetenskap is die hoogste waarheid. Stories is fiksie, bogterye van die verbeelding.

Soos bewers en spinnekoppe kan ons onsself net nie keer nie. Dis ’n instink.

Alles sonder die begrip dat wetenskap ’n andersoortige “instinktiewe storievertelling” is – ’n “storie” volgens ’n draaiboek met bepaalde bewysreëls wat dikwels uitgedaag en verskuif word deur kragtoere van die verbeelding. Soos met Michael Faraday se metafoor-gedrewe “ontdekking” van die elektromagneet.

Wat eintlik sê die mens se sintuie verskaf nie die enigste toegang tot die werklikheid nie. Verbeeldingryke vertelkuns – via die wetenskap se eiesoortige vernuf en via die kunste en stories se mitiese grondwaarhede – vul mekaar aan in die groot lewensprojek: om die herkoms en bedoeling van alles wat is, te begryp.

Soos die skrywer en filosoof John Fowles dit beskryf in The Aristos: “Art is the expression of truth too complex for science to express; art is the human shorthand of knowledge. The scien­tist atomizes, someone must synthesize; the scientist withdraws, someone must draw together. The scientist particularizes, someone must universalize. The scientist dehumanizes, someone must humanize.”

Dié soort naasmekaarplasing help ons om die baie soorte uitgedinkte én vals versusse in ons verstaan van dinge te besweer. Sodat intuïtiewe aanvoeling en metaforiese insig net soveel gewig dra as logiese vernuf; poësie net so helder spreek as wiskunde; en dat ’n storie net so singewend is as ’n fynbeplande eksperiment.

Daaruit kom daar oplaas fyner perspektiewe en deurdringender waarhede. Alles tot stigting van die mens in hierdie eeu van grootheidswaan en angs.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Stories  |  Wiskunde  |  Menings  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.