Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poetin klap nou die sweep in Midde-Ooste

Terwyl Suid-Afrikaners se aandag vandeesweek op die Zuma-drama toegespits was, het ’n oorlog amper tussen Israel aan die een kant en Rusland, Sirië en Iran aan die ander uitgebreek. Dis op die nippertjie voorkom.

Dit het begin toe Iran ’n onbemande hommeltuig deur Israeliese lugruim laat vlieg het. Dis onmiddellik deur ’n Israeliese helikopter neergeskiet. Die Israeliese lugmag het daarop die Iranse bevelspos in Sirië, waarvandaan die hommeltuig beheer is, aangeval en vernietig.

In die proses het die twee bemanningslede van een van die bomwerpers, luidens ’n amptelike ondersoek, te hoog gevlieg, en is neergeskiet. Hulle kon die beskadigde vliegtuig nog oor die grens kry voordat dit neergestort het.

In weerwraak het die Israeli’s daarop verskeie Siriese militêre posisies (Sirië en Iran is bondgenote) aangeval en – altans so berig die Israeliese dagblad Haaretz – byna die helfte van dié land se lugafweervermoë vernietig.

Luidens dié koerant het die Israeliese premier, Benyamin Netanyahu, verdere skerp militêre op­trede oorweeg. Maar toe lui sy telefoon, met pres. Wladimir Poetin aan die ander kant, wat hom glo ernstig gewaarsku het om nie te ver te gaan nie. Netan­yahu het daarop besluit om verdere optrede af te las.

Die affêre wys twee dinge: Ten eerste, die Israeliese tegnologiese voorsprong is baie groot. Die land is in staat om teikens byna na willekeur aan te val en enige moontlike opponent in die streek sommer baie seer te maak.

Moenie lol met ons nie. Ons kan jou hárd klap.

Overgezet zijnde, dis ’n boodskap: Moenie lol met ons nie. Ons kan jou hárd klap.

In die tweede plek blyk dit ook wie tans die mees invloedryke staatsman in die Midde-Ooste is. Dis nie Netanyahu nie, en ook nie pres. Basjar al-Assad van Sirië of Hassan Roehani van Iran nie. Selfs nie die Amerikaanse pres. Donald Trump nie. Dis Poetin.

Rusland was voor die einde van die Koue Oorlog die moondheid met die meeste invloed in die Midde-Ooste. Byna ál die Arabiese state het aan Moskou se leiband geloop.

In die loop van die jare tagtig het die invloed begin taan, en ná die einde van die Koue ­Oorlog het Rusland slegs ’n flentertjie invloed in Sirië oorgehou.

Die uitbreek van die Siriese burgeroorlog het egter ’n deur vir Poetin geopen om sake uit sy eie oogpunt te herstel.

Hy het meedoënloos ingegryp en sy lugmag en selfs beperkte getalle grondtroepe gestuur om aan Assad se kant in die konflik te veg. In die proses is alle reëls van oorlogvoering genadeloos oortree, maar dit het wel Rusland se invloed herstel.

Dit het gepaard gegaan met ’n onwilligheid by sowel pres. Barack Obama as by Trump om weer in anderman se oorlog ingesuig te word. Met die gevolg dat Amerika se invloed met dié van Rusland vervang is.

Só gaan dit in die internasionale politiek.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Wladimir Poetin  |  Midde-Ooste  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.