Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poetin se pad tot in 2024 lyk reeds verseker

Dat pres. Wladimir Poetin hom opnuut beskikbaar gaan stel wanneer die Russe in Maart aanstaande jaar weer stembus toe gaan, was vanselfsprekend.

Dié aankondiging vandeesweek beteken dat hy – tensy iets dramaties gebeur – ’n verdere ses jaar agter die lessenaar in die president se kantoor in die Kremin mag inskuif.

Poetin (65) se gewildheid in Rusland bly hoog. Dit wissel effens met die tyd, maar vanjaar was daar nog geen enkele peiling wat sy goedkeuring onder 80% geskat het nie.

’n Peiling wat wel minder goed vir die president is, is een van die Lewada-navorsingsentrum wat sê slegs 60% van Russe sal aanstaande jaar die moeite doen om by die stembus op te daag. En van hulle sal 66% hul kruisies agter Poetin se naam trek.

Dit kan toeneem. Die besluit van die Internasionale Olimpiese Komitee om Rusland uit die Olimpiese Spele van aanstaande jaar te skors, sal volgens talle waarnemers beteken dat die Russe hul hakke in die grond slaan en vir Poetin sal stem, bloot om die inmengerige buitelanders te wys wie baas in Rusland is.

Verskriklik veel binnelandse teenstand behoort Poetin nie te ondervind nie. Sy belangrikste teenstander, Alexei Nawalni (41), mag nie deelneem nie omdat hy aan korrupsie skuldig bevind is.

Nawalni ontken dit uiteraard en sê die klagte is polities gemotiveer en gehanteer deur ’n regbank wat deur Poetin oorheers word.

Poetin is al sedert 1999 aan die bewind toe wyle pres. Boris Jeltsin hom as premier aangestel het.

Hoe ook al, Nawalni se Progressiewe Party sal ongetwyfeld deelneem sonder ’n formele rol vir hom, maar eintlik staan die uitslag reeds nou al vas – ’n oorwinning vir Poetin. Al wat ’n mens nog nie weet nie, is die presiese persentasie stemme wat hy gaan kry.

Poetin is al sedert 1999 aan die bewind toe wyle pres. Boris Jeltsin hom as premier aangestel het. ’n Paar maande later het Jeltsin bedank en is Poetin as sy opvolger gekies.

Sedertdien het Poetin die grondwetlike beperkings op sy termyn skitterend gemanipuleer. Toe sy twee termyne in 2008 verby was, het hy en sy premier, Dmitri Medwedef, eenvoudig plekke omgeruil, en in 2012 het hy opnuut president geword.

Hy tree nou aan vir die tweede ampstermyn, wat beteken dat hy tot 2024 aan die bewind kan bly. ’n Mens sal moet sien of hy sake weer so gaan manipuleer dat hy nóg langer kan voortgaan.

Poetin is ’n briljante taktikus. Die wyse waarop hy die Krim in 2014 beset het, was polities meesterlik. In die proses het hy egter die Weste vervreem. Deur sy aggressie, ook in Oos-Oekraïene, het hy Navo beweeg om weer veel meer aan verdediging te begin bestee.

Wat die vraag laat ontstaan of hy wel só ’n goeie strateeg is. Dié vraag sal waarskynlik eers oor ’n paar jaar beantwoord kan word.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Wladimir Poetin  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.