Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poetin wil met dié wapens vrees afdwing

Pres. Wladimir Poetin van Rusland weet hoe om ’n dramatiese aankondiging te maak. Te midde van bloedstollende marsmusiek en video-illustrasies het hy vandeesweek nuwe missiele bekend gemaak wat in beginsel die militêre magsbalans tussen sy land en Amerika totaal kan wysig.

Die een is ’n kernaangedrewe missiel wat ’n feitlik onbeperkte reikwydte het; nog een wat glo tot tien keer die snelheid van klank kan vlieg, wat baie laag kan bly en radarinstallasies kan ontwyk. Die tweede is ’n soort torpedo wat eweneens onbeperkte afstande met ver­bysterende snelheid onder water kan aflê.

Albei kan kernkoppe dra.

In Amerika is enigsins skepties op die aankondiging gereageer. Is dit propaganda? word gevra – juis omdat dit gedoen is aan die vooraand van ’n presidentsverkiesing aanstaande maand.

Tog, as Poetin niks oordryf het nie, het dié wapens die potensiaal om die magsewewig behoorlik aan te tas.

Tog, as Poetin niks oordryf het nie, het dié wapens die potensiaal om die magsewewig behoorlik aan te tas.

Dit beteken dat dit feitlik onmoontlik is om die missiele te onderskep. Dit beteken ook dat die tyd waarin die Amerikaners op ’n eventuele aanval uit Rusland kan reageer, van ’n halfuur tot twee minute verminder word.

Die hele Koue-Oorlogse logika van wedersydse afskrikking berus op die aanname dat die land wat aangeval word, genoeg tyd sal hê om met oorweldigende mag terug te slaan. Dit verseker dat die aanvaller ook heeltemal of grotendeels vernietig word – en dít, so is die teorie, behoort genoeg te wees om te verseker dat ’n aanval hoegenaamd nie uitgevoer word nie.

As Poetin nie spekgeskiet het nie, impliseer dit dat die hele grondslag van wedersydse afskrikking weggekalwe word. Dit sou beteken dat Amerika – en elke ander land – volkome magteloos teenoor ’n Russiese kernaanval is.

Dis waar dat die verantwoordelikheid vir ’n eskalasie in spanning nie slegs aan Poetin gewyt kan word nie. Pres. George W. Bush het Amerika al in 2002 aan die Missielafweer-ooreenkoms met die USSR van 1972 onttrek. Hy het ook begin om missielafweer-missiele in Pole en Hongarye te stasioneer, na bewering om ’n missielaanval uit Iran te keer, maar duidelik om ook teen Russiese aanvalle te gebruik.

Daarmee is die logika van wedersydse afskrikking al enigsins verbreek. In sy toespraak het Poetin die nuwe wapens juis aangekondig as reaksie op die stasionering van Amerikaanse verdedigingsmissiele in Sentraal-Europa.

Poetin se motief is waarskynlik nie slegs die presidentsverkiesing nie. In sy toespraak is ’n sleutelsin: “Niemand het na ons geluister nie,” het hy onheilspellend gesê. “Luister nou na ons.” Overgesetsynde: Dit gaan om Rusland se internasionale prestige en posisie. Die Russe voel ernstig beledig deur die Weste se uitbuiting van die USSR se ineenstorting.

“Hoor ons nou.” Vrees ons, sê Poetin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.