Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Polarisasie sal Covid-19-stryd net belemmer

Suid-Afrika is ’n land met ’n lang geskiedenis van polarisasie. Ons maak weliswaar goeie vordering om polarisasie te oorkom, maar die werk vir eenheid, versoening en geregtigheid is nog nie afgehandel nie.

Die koronapandemie lig die kwellinge van ons samelewing duidelik uit. Trouens, dit verskerp bestaande besorgdhede soos armoede, werkloosheid, ongelykheid en gepaardgaande maatskaplike uitdagings.

Covid-19 ontmasker en versterk tegelyk ons verdelingslyne en polarisasie met betrekking tot onder meer kleur, sosio-ekonomiese posisie, gender en seksuele oriëntasie.

Die onlangse tragiese dood in Amerika van George Floyd aan die hand van die polisie het juis weer die werklikheid van rassisme gedemonstreer.

Ook op politieke en ideologiese terreine sien ons die polarisasie. By die aanvang van die inperking in Maart was daar hoë vlakke van eenheid in ons geledere. Maar namate die tyd verloop het, het bestaande polarisasies weer begin opvlam.

Laat ons nee sê vir polarisasie en eerder tyd en energie daarin belê om ons te vergewis van hoe die pandemie die kwesbaarste gemeenskappe tref.

Dit is bitter moeilik om al die brandende uitdagings van Covid-19 te hanteer, soos om te verhoed dat die infeksiekoers styg en die ekonomie vernietig word, te voorsien in lewensmiddele en om mense gesond te hou as ekonomiese aktiwiteit in die land hervat moet word. In dié opsig bid ons vir wysheid en moed.

Die taak word soveel moeiliker, indien nie onuitvoerbaar nie, as ons gepolariseer en verdeeld is. Laat ons nee sê vir polarisasie en eerder tyd en energie daarin belê om ons te vergewis van hoe die pandemie die kwesbaarste gemeenskappe tref.

Ons kan mekaar oor grense heen ten minste elektronies op hoogte hou. Ons kan verhale van seer en verhale van onbreekbare hoop met mekaar deel, ook verhale van morele heldhaftigheid, verhale van die Godgegewe menslike gees wat te midde van tragedie toon waarom mense in die Bybel weinig minder as goddelike wesens genoem word (Psalm 8).

Een voorbeeld is ’n video wat die afgelope naweek op sosiale media versprei is van hoe onderwysers van die Hoërskool Macassar in ’n stoet na die huis ry van ’n kollega wat aan Covid-19 gesterf het.

Een vir een lewer hulle ’n blommetjie by die heining af, terwyl hulle eerbiedig en meelewend knik vir die oorledene se geliefdes, wat op ’n gepaste afstand toekyk.

Sulke verhale laat ons saamstaan. En dit laat ons die emosionele, ekonomiese, ekologiese, intellektuele, kulturele, morele en geestelike gawes van ons land en sy mense oor alle grense heen met deernis en regverdigheid aanwend om vir mekaar te sorg.

Ons durf nie toelaat dat die tragiese motto “verdeel en oorheers” wáár word in ons stryd teen Covid-19 nie.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.