Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Polisie deel van die probleem

Vroue moet verkragting en seksuele aanranding by die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) rapporteer. Volgens die SAPD se statistiek vir 2019-’20 is 42 289 verkragtings aangemeld en 7 749 gevalle van seksuele aanranding. Dié soort misdaad word dikwels nie rapporteer nie.

Volgens die 1 uit 9-veldtog word slegs een uit nege verkragtings aangemeld en die syfer kan selfs hoër wees. Een van die redes hoekom vroue nie verkragting aanmeld nie is omdat die polisie deel van die probleem is, eerder as die oplossing.

Verkragtingslagoffers word verkleineer as hulle sake aanmeld, daar word vir hulle gelag of hulle word weggewys (veral as hulle dronk is).

Soms word hulle ook in die aanhoudingselle deur polisielede verkrag. Verkragte vroue het dus min rede om te dink dat die polisie hulle sal help of beskerm.

’n Polisievrou het vir haar gesê sy het die persoon met wie sy in ’n verhouding is self gekies en dat sy daarom self die probleem moet oplos.

Daily Maverick het op 26 November berig dat Dimpho Mohau deur die polisie aangesê is om self die man wat haar verkrag het, te soek sodat hulle hom kan arresteer. Dieselfde man het haar later vermoor. City Press het Sondag berig oor ’n slagoffer wat seksuele geweld wou aanmeld, maar die polisie het vir haar gelag. ’n Polisievrou het vir haar gesê sy het die persoon met wie sy in ’n verhouding is self gekies en dat sy daarom self die probleem moet oplos. Die vrou het later probeer om haarself om die lewe te bring.

Volgens die onafhanklike ondersoekdirektoraat is 150 sake in 2013 teen polisielede aanhangig gemaak weens verkragting en seksuele aanranding. Op 9 Oktober 2019 het die polisie-ombud lede gewaarsku om nie slagoffers van sek­suele geweld weg te wys of te weier om hul verklarings af te neem nie.

Jare al pleit aktiviste dat Thuthuzela-versorgingsentrums ingerig word by polisiekantore, waar vroue verklarings kan aflê, ondersoek kan word en berading kan ontvang. Die Wet op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (2007) maak hiervoor voorsiening, maar min polisiestasies het sulke sentrums wat funksioneel is.

Die regering het onlangs ’n nasionale strategiese plan bekend gestel wat fokus op geslagsgeweld en vroue wat deur hul intieme maats vermoor word.

Die regering het onlangs ’n nasionale strategiese plan bekend gestel wat fokus op geslagsgeweld en vroue wat deur hul intieme maats vermoor word. Die plan moet deur die departement vir vroue, kinders en persone met gestremdhede en die (komende) nasionale raad op geslagsgeweld in werking gestel word. Dit berus op ses pilare: Verantwoordbaarheid, koördinering en leierskap; voorkoming en die herbou van maatskaplike kohesie; geregtigheid en beskerming; reaksie, versorging, ondersteuning en heling; ekonomiese mag en navorsing en inligtingbestuur.

Die inwerkingstelling van die plan sal berus op ’n multisektorale benadering wat verskillende afdelings van die staat sal betrek. Nêrens in die plan word die polisie uitgesonder vir groter verantwoordbaarheid of vir die gebrek aan geregtigheid en beskerming nie.

Die polisie word vir die eerste keer genoem as verantwoordelik vir slagoffer-gesentreerde geregtigheid, wat op die aanname berus dat die polisie in staat is om dit daar te stel. Daar word wel genoem dat polisiestasies ’n onvriendelike omgewing vir slagoffers kan wees, maar dit word nie verder gevoer nie.

Volgens die plan is patriargale norme een van die drywers van geweld. Dit word uit die oog verloor dat polisiebeamptes uit dieselfde gemeenskappe kom wat dié patriargale norme ondersteun, dat mans in die polisie dieselfde toksiese manlikheid internaliseer wat in hul gedrag weerspieël word en dat daar nie genoeg toesigmeganismes vir polisielede is nie. Die inwerkingstelling van die plan gaan by die SAPD berus. Ek het min hoop daarvoor.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Verkragting  |  Geslagsgeweld  |  Moord  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.