Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Polisie is meer rook as vlamme

Dit is tyd vir Suid-Afrikaners om hul verwagtinge van die regering en pres. Cyril Ramaphosa te verskerp. Die afgelope weke was dit duidelik dat druk op die regering oor vraagstukke soos geweld teen vroue en kinders en aanvalle op buitelanders die regering tot aksie aangespoor het.

Veral Ramaphosa het sy stem gevind met sterk veroordelings van dié twee misdadige verskynsels. Wat die xenofobiese aanvalle betref, het dit ook gehelp dat Afrika-lande wie se burgers geteiken is, begin het om druk op Suid-Afrika toe te pas om hul burgers groter beskerming te gee.

Die regering het duidelik die druk om op te tree teen die geweld teen vroue en kinders as te veel ervaar. Dit het Ramaphosa tot aksie aangespoor en hy het genoop gevoel om die families van slagoffers persoonlik te besoek om sy medelye te betoon.

Die president het hom verlede week talle kere oor die euwels uitgespreek en stelselmatig landgenote oortuig van sy erns om die aanvalle te stuit.

In ’n insiggewende stap het Ramaphosa ook sy beplande besoek aan New York vir die jaarlikse saamtrek van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering afgestel.

Dit gaan egter meer verg as mooi broodjies bak om die gety te draai. Die misdaadstatistieke wat die polisie verlede week uitgereik het, het net weer bevestig hoe groot die uitdagings is wat die land in die gesig staar.

Almal – die regering, die polisie en gewone burgers – het baie om te doen en moet hande vat teen die golf van misdaad wat oor die land spoel.

Almal – die regering, die polisie en gewone burgers – het baie om te doen en moet hande vat teen die golf van misdaad wat oor die land spoel. Dieselfde geld die aanvalle op buitelanders uit die res van die vasteland.

Die polisie is duidelik nie opgewasse vir sy taak nie. Die minister van polisie, Bheki Cele, is flambojant en praat baie – ongelukkig die meeste van die tyd niksseggende nonsens. Die president moet dit oorweeg om hom te vervang, maar dit is egter nie duidelik met wie nie. Ook die polisiekommissaris, Khehla Sitole, inspireer glad nie.

Die polisie se probleme is legio. Dit sluit in te min hulpbronne, swak opleiding en swak dissipline – ons kan nie van ’n professionele polisiediens in Suid-Afrika praat nie. Natuurlik is daar toegewyde lede wat hul werk wil doen, maar hulle word ongelukkig oorskadu deur onprofessionele kollegas.

Die polisie behoort beter te vaar met die voorkoming van xenofobiese aanvalle. Ongelukkig is die diens se intelligensievermoë die afgelope dekade stelselmatig gerysmier deur polisieleiers wat vir politieke doeleindes misbruik is, soos die voormalige intelligensiehoof Richard Mdluli, wat glo oudpres. Jacob Zuma ter wille was.

Intussen moet Ramaphosa sy energieke uitsprake oor geweld teen vroue en kinders en xenofobiese aanvalle na binne rig om sy kamerade in die ANC en regering aan boord te bring.

Die katastrofiese verval van die polisie het op Zuma se wagbeurt voorgekom, terwyl die ANC verkies het om anderpad te kyk. Die regerende party kan hom dus nie van die heersende swak stand van sake distansieer nie.

Suid-Afrika het reeds groot reputasie-skade opgedoen met xenofobiese aanvalle. Ramaphosa se besluit om op die voorvoet te kom deur gemoedere elders in die vasteland te kalmeer was duidelik die regte een en sal hopelik die gewenste uitwerking hê.

Die donker prentjie wat die jongste misdaadstatistieke skets, beloof niks goeds vir die land se beeld in die res van die wêreld nie en kan byvoorbeeld toerisme ’n gevoelige knou toedien. Dit is iets wat die sukkelende ekonomie nie kan bekostig nie.

Ramaphosa moet dus volstaan met sy meer aggressiewe benadering, nie net met woorde nie, maar ook met dade.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Moord  |  Polisie  |  Kinders  |  Misdaad  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.