Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Politieke truuks is nie DA se heil

Die DA se plan om die ontbinding van die parlement te eis by wyse van ’n resolusie is ondeurdag en misplaas. Dit spreek van ’n soort hubris wat op die golf van die relatiewe suksesse teen die ANC ry. Die jongste hiervan is verlede week se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma, waarin meer as 20 ANC-LP’s hulle by die DA en ander opposisiepartye geskaar het.

Die mosie teen Zuma is wel verslaan, maar die groot getal ANC-LP’s wat dit gesteun het, kan nie geringgeskat word nie. Die DA kan die lof hiervoor nie net vir homself toeëien nie.

Dit was ’n oorwinning vir al die opposisiepartye wat die mosie gebring het en nie net één party nie. Op die rug van hierdie oënskynlike oorwinning het die DA eensydig bekend gemaak dat hy ’n mosie vir die ontbinding van die parlement gaan bring.

Nie een van die DA se opposisievennote in die mosie van wantroue steun dit nie, en dit het geen kans op sukses nie. Duidelik luister die DA ook nie na sy eie ondersteuners wat in koerante se briewekolomme en op sosiale media hul misnoeë met die party se rigting uitgespreek het. Vir inbellers na radioprogramme voel dit asof hul party rigtingloos is en nie ’n idee het hoe om die ontsetting van die ANC ná die mislukte mosie van wantroue in Zuma te bewerkstellig nie.

Meer nog, DA-ondersteuners wil graag hoor wat die party se planne en strategie vir die land is. Dit gaan nie so goed as wat verwag is met die groot stede wat die DA nou ná verlede jaar se munisipale verkiesing regeer nie. Die skuld vir die probleme wat die party in Pretoria, Port Elizabeth en (in mindere mate) selfs in Kaapstad ondervind, word op die ou ANC-owerhede gepak.

Optogte in die land se stede lyk goed op TV, maar wen nie eintlik verkiesings nie.

Dit is nie wat kiesers wil hoor nie. Hulle soek oplossings.

Die DA moet versigtig wees dat hy hom nie die gramskap van ander opposisiepartye op die hals haal nie. Die tekens is daar dat die party met die beplande mosie vir die ontbinding van die parlement juis daarop afstuur.

Met die mosie van wantroue in Zuma het die DA en ander opposisiepartye die ANC teen die toue gehad, gereed vir ’n uitklophou. Die mosie vir die ontbinding van die parlement is nie daardie uitklophou nie. Inteendeel dit klink al te veel na ’n manier om die ANC ’n blaaskans te gee om weer sy wind te kry.

Opposisiepartye moet nou fokus op 2019 se algemene verkiesing en dáár die uitklophou soek. Die DA mislei homself as hy reken die sukses wat hy in 2016 in die groot stede behaal het die knoop vir hom in 2019 gaan deurhak. Zuma besef dit maar al te goed. Dis waarom hy hom dadelik ná die mosie van wantroue na sy landelike vestings in KwaZulu-Natal gehaas het. Dis waar die mense is en dit is tyd dat die DA dit besef.

Optogte in die land se stede lyk goed op TV, maar wen nie eintlik verkiesings nie. Die DA kan nie bekostig om partye wat bekend is met die behoeftes van landelike gemeenskappe te vervreem nie. Partye soos die IVP, die UDM en die EFF.

Een koerant het Maandag in ’n hoofartikel die geldige punt gemaak dat die DA baie goed is daarmee om die reg in te span as ’n manier van die politieke oorlogvoering. Maar, is geskryf, die DA se jong slimkoppe moet begin leer om die ménse te verstaan. Dit is nie so ingewikkeld nie, maar ook nie maklik nie.

Mmusi Maimane, die DA-leier, behoort dit beter as sy kollegas te weet. Hy moet sy party met oortuiging in dié rigting lei. Regstegniese truuks soos mosies van wantroue en vir die ontbinding van die parlement is legitiem, maar kan jou met die ANC se getalle-oormag net so ver bring.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Da  |  Kiesers  |  Opposisie  |  Rubriek  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.