Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pollux: Onthou, sy naam is op daai blou note

Welkom by teater van absurde

Daardie Oos-Kaapse kapokhaantjie Andile Lungisa weet nie wanneer om sy mond te hou nie.

Lungisa is die kêrel wat onlangs vir Lesetja Kganyago, die president van die Reserwebank, as ’n “buitengewone k****r” uitgekryt het.

En nee, “buitengewone” was nie bedoel as ’n kompliment nie.

Kganyago het intussen vir Lungisa laat weet dat hy 5 000 stukkies blou papier met ene L. Kganyago se handtekening daarop van Lungisa soek. En pronto.

Maar selfs dié dreigement het nie die voortvarende Lungisa se mond gesnoer nie. Dinsdag was sy Twittervingertjie weer hard aan die werk. Ja, Kganyago het hom gedagvaar vir ’n halfmiljoen, skryf Lungisa, “omdat ek hom en sy tipe heeltemal korrek beskryf het as die bruikbare idiote van setlaarkapitaal”.

En, voeg die korporaaltjie by: “Ons het nou die terrein van die absurde betree.”

Pollux en die ANC-jongeling stem nie dikwels saam nie, maar waaragtig, dié keer is hy reg.

Gaan CR se greep in sirkus hou?

Pollux, altyd nuuskierig wat in die wêreld aangaan, blaai Woensdag deur daardie kapitalistiese orgaan Business Day.

Dis ’n ou gewoonte. In onseker tye glo Pollux dit is altyd goeie beleid om te luister na wat die ouens wat nog geld in die bank het oor die wêreld te sê het.

Boaan bladsy drie skryf die politieke kommentator Ranjeni Munusamy dat die kern van die probleem in Suid-Afrika die feit is dat ons president, polities gesproke, “onder beleg is”.

Maar laer af, op dieselfde blad, meen die koerant se Luyolo Mkentane die feit dat die ANC van hul korrupte burgemeester in Durban, Zandile Gumede, ontslae geraak het, beteken dat Ramaphosa besig is om sy greep op die party te verstewig.

Wys jou net. In hierdie droewe land kan geld nie insig koop nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.