Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poppie Nongena en die misdaad van apartheid

Die lewe van Poppie Nongena vra nie of apartheid wel ’n misdaad was nie, maar vertel van dié misdaad en sy uitwerking op die lewe van mense, skryf Leslie van Rooi.

Die werklikheid van die verlede word tasbaar gemaak: Elsa Joubert se hande en Poppie Nongena se pasboek. Foto: Natalie Gabriels

Die polemiek rondom FW de Klerk se jongste uitlatings oor apartheid en die woordestryd wat gevolg het oor wat apartheid werklik was, is ’n noodsaaklike debat in Suid-Afrika.

Maar dit is nie ’n debat wat sonder konteks kan plaasvind nie.

Die herlees van die boek, Die Swerfjare van Poppie Nongena, help my om iets van die konteks van ’n wrede stelsel te verstaan wat, soos reeds verklaar is, inderdaad ’n misdaad teen die mensdom was.

Dié boek moet nog vir lank in Suid-Afrika gelees word.

Die lewe van Poppie raak ’n mens diep omdat dit baie naby aan soveel van ons is.

Dit vertel die verhaal van Poppie (Ntombizodumo Eunice Msutwana-Ntsata), ’n huiswerker en haar interaksie met haar twee families en wêrelde sowel as die apartheidstelsel wat haar lewe bepaal het.

Die lewe van Poppie raak ’n mens diep omdat dit baie naby aan soveel van ons is. Ons ken soveel soortgelyke verhale; ons is deel van soveel soortgelyke verhale.

Vir ’n seun van Upington het Poppie ook ’n ander kant – sy het die dorp en sy mense goed geken, dit was haar gemeenskap. En om oor haar te lees, is om deur die strate van Progress (voorheen Blikkies) te reis en vele ander gesigte raak te sien.

Dit is daarom gepas dat daar ook nou ’n fliek oor die boek gemaak is. En dit is veral goed dat die fliek in Afrikaans is sodat ons die hart en siel van die storie weer kan hoor en sien.

Poppie se pasboek

Met die maak van die fliek was daar ’n onlangse besoek aan Elsa Joubert waar Poppie se kinders ook by was.

Een foto geneem op die dag van die besoek bly my by. Op die foto hou Joubert Poppie se pasboek in haar hand. Dit is dieselfde pasboek wat Poppie destyds moes gebruik. Op die foto plaas een van Poppie se kinders ook sy hand op die dompas. Joubert se kwesbare hand word verstrengel in ’n harde geskiedenis en ’n groter storie.

Letters op papier herinner aan die wreedheid van ’n stelsel wat Suid-Afrikaners se lewe op ’n daaglikse grondslag oor geslagte heen bepaal het.

Die lewe van Poppie vra nie of apartheid wel ’n misdaad was nie.

In die foto word die werklikheid van die verlede tasbaar.

Dis meer as ’n debat met tegniese punte oor wat nou eintlik die definisie van ’n misdaad teen die mensdom is nie. Hier, soos in die boek, wys dit op die wrede gevolge wat die stelsel van apartheid op vele gehad het en hoe dié letsels steeds wys.

Die lewe van Poppie vra nie of apartheid wel ’n misdaad was nie, maar vertel van dié misdaad en sy uitwerking op die lewe van mense.

Ons mag nie aanhou swerf nie

Leslie van Rooi

’n Debat oor apartheid en sy wrede gevolge kan nooit behoorlik plaasvind sonder die verhale van mense nie.

Dit verskraal immers die debat tot woorde sonder emosie terwyl dit wys op die gevolge van die stelsel wat diep wonde gelaat het.

Die debat moet daarom ook geneem word na die strate van Progress in Upington waar Poppie ’n gedeelte van haar lewe geleef het.

Dit is daar waar die debat gevoer moet word en waar dit anders sal klink. Dit is daar waar ons sal weet dat dit nie sinvol sal wees om te stoei oor apartheid se status as ’n misdaad teen die mensdom nie.

Die strate vol stof, die huise van blik, die reuk van die lewe – alles sal help om hierdie prentjie in te kleur en om die werklikheid te bevestig.

Dit is soos die foto wat werklike lewens en egte verhale verteenwoordig en nie net ’n debat in die media nie.

Maar voordat ons vasval in ’n selfregverdigende staat, is dit baie belangrik dat ons besef dat ons proses van regstel nie ’n herhaling van die verlede tot gevolg moet hê nie. Daarom is dit nodig om soms ’n stelsel in sy totaliteit te verander.

Die lewe van Poppie Nongena help ons om menswees raak te sien, te beleef en, hopelik ook, om dit te beliggaam. Ons durf dit nie versaak nie.

En ons durf nie toelaat dat ons land en ons mense aanhou swerf nie. Die pad na vryheid was nie net lank vir Madiba nie. Poppie se swerfjare vertel ook van ’n lang pad. Hopelik is dit nie ’n pad sonder einde nie.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.