Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Poste-elite buit steeds ras uit
Barnard Beukman

Midde ’n internasionale klimaat van ongedurigheid wat heers onder mense, ook in ons land, lyk dit asof ras steeds ’n speelbal bly.

Diegene wat bankrot gaan aan enige idee oor hoe om mense se lewens te verbeter, buit dit graag uit. En dan is ander maar net weer te bly dat hulle dit kan uitbuit om daarteen op te vorder.

Met te min uitsonderings lyk dit asof politici en leiers op vele terreine voortstrompel in staats-, politieke of burgerlike liggame as ’n soort beroepselite wat teer op negatiewe sentiment.

As dienslewering misluk, beleid nie uitwerk nie, die verbeelding nie meer aangegryp word nie – kry iets of iemand om teen uit te vaar, of wat as rede kan dien om langs etniese onderskeidslyne te kan mobiliseer. Soms lyk dit asof “vyandiggesindes” soos antieke oorloggeneraals die tyd en plek afspreek waar hulle mekaar gaan pak in die een of ander veldslag om ledetalle of donasies ten bate van die poste-elite.

Soos manna uit die hemel het die Clicks/TRESemmé-debakel vir die EFF gekom. Hulle kon weer uit hul Covid-19-hibernasie kop uitsteek om te breek en plunder weens ’n rassekwessie.

Want origens is daar nie veel meer vir die EEF as die wolk van die VBS-skandaal en om desperate mense aan te moedig om in die veld te gaan plak op grond in staats- of private besit nie.

Na Clicks se knieval, sonder slag of stoot, kon die EFF se ou weggegooide boikotbal teen die winkelgroep weer deur ander opgeraap word vir punte.

Na Clicks se knieval, sonder slag of stoot, kon die EFF se ou weggegooide boikotbal teen die winkelgroep weer deur ander opgeraap word vir punte.

Uit regeringsgeledere, waar alle energie skynbaar opgeneem word om staande te probeer bly in die inploffing van ’n leeggestroopte staatstruktuur, het die sportminister Nathi Mthethwa dit op homself geneem om rasseverdelingslyne lewendig te hou. Kort op sy hakke is Krieket Suid-Afrika (KSA), waar Kugandrie Govender, waarnemende uitvoerende hoof, se eerste skuif was om te bepaal dat wit mans nie meer as konsultante aangestel mag word nie.

Hoe dan anders met ’n KSA-raadslid soos dr. Eugenie Kula-Ameya, wat luidens berigte nie eens van krieket hou nie omdat “dit te lank is”. Duidelik nie daar met enige kennis of belangstelling om die sport te dien nie, maar as deel van ’n inkomstewaardeketting. Dit, met die hooftaak om rassekwotas te bestuur vir die bevoorregte elite en om ’n sigwaarde in stand te hou. Indien daar te veel wit gesigte op die toneel is, is daar perde.

Ander wanprestasies, op die veld of in die raadsale, gaan nie die minister se argwaan op die hals haal nie, solank die rassevoorkoms net na sy smaak is.

Ander wanprestasies, op die veld of in die raadsale, gaan nie die minister se argwaan op die hals haal nie, solank die rassevoorkoms net na sy smaak is.

In Amerika hou Republikeine duim vas dat woede onder wit kiesers oor Black Lives Matter-betogings, wat op sommige plekke in gewelddadige plundertogte ontaard, pres. Donald Trump se agterstand teen stemdag kan uitwis.

Want na ’n baie swak jaar in die Withuis het hy nie veel anders om te wys nie. Hy kort die rassekaart, want ironies genoeg is sy agterstand nie omdat die Demokrate teen hom is nie, maar omdat sy eie konserwatiewe steunbasis begin krake wys het. En indien dit wel gebeur dat hy verloor (geen uitgemaakte saak nie), gaan dit volgens alle ontledings veral wees weens ’n gebrek aan steun onder wit vroue met naskoolse kwalifikasies of uit die middelklas.

Hulle het nie veel van standpunt verander of “meer links” geraak nie. Hulle wil net nie langer deur so ’n persoon verteenwoordig word nie en meen juis ’n ander benadering kan die woedeklimaat laat bedaar.

Uiteindelik gaan die oplossing inderdaad wees dat mense besluit wie hulle werklik verteenwoordig: waardegedrewe leiers, wat ’n oorbevolkte aardbol met kreatiewe oplossings kan bestuur, of beroepsopportuniste wat enigiets, insluitend ras, sal uitbuit vir hul eie sak.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Clicks  |  Barnard Beukman  |  Advertensie  |  Anc  |  Post-Elite  |  Rassisme  |  Eff  |  Ras  |  Rassekaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.