Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Praat gaan nie korrupsie stuit
Judith February
Judith February.

Het korrupsie al ooit so ’n skaduwee oor enige verkiesing sedert 1994 gegooi soos nou?

Hoe die grootste politieke partye sê hulle dit wil pak, gee ’n kykie na hoe hulle die probleem sien en watter soort ingrepe hulle glo ’n impak sal hê.

Die ANC se benadering prikkel uiteraard baie belangstelling. Regdeur die verkiesingsveldtog belowe pres. Cyril Ramaphosa hy sal “skoonmaak” en dat enige regering wat hy lei, eerlikheid en integriteit sal bevorder. Dit sluit in “skoonmaak” binne die ANC self, met die belofte dat diegene in magsposisies “ongekorrupteerd, eerlik en selfgedissiplineerd sal wees, met waardes wat morele druk kan weerstaan”.

Soos met die meeste van sy verkiesingsmanifes, word die ANC se standpunt oor korrupsie in breë, niespesifieke kwashale geskilder – min daarvan is nuut of innoverend. Hy sal glo onder meer die strafregstelsel “versterk”, leefstyloudits “verseker”, beperkings “verskerp” op staatsamptenare wat sake doen met die staat en stelsels “ontwikkel” om tenderbedrog te voorkom.

Dit is opmerklik dat die ANC poog om die stryd teen staatskaping sy eie te maak. Dis gewaagd, maar gegewe hoe alomteenwoordig hierdie kwessie is, is dit waarskynlik die enigste benadering wat die ANC kan volg.

’n Groot deel van die DA-handelsmerk is gegrond op sy teenkanting teen korrupsie en sy belofte van eerlike, doeltreffende regering.

’n Groot deel van die DA-handelsmerk is gegrond op sy teenkanting teen korrupsie en sy belofte van eerlike, doeltreffende regering. Dus is korrupsie ’n prominente deel van sy manifes.

Dit was dus seker voorspelbaar, maar die manifes fokus op die ANC se korrupsierekord, en beklemtoon sy eie suksesse in die hantering daarvan, in teenstelling met die ANC s’n.

Volgens die DA is korrupsie ’n gedeeltelike verduideliking vir die mislukking van onder meer staatsondernemings, grondhervorming, bemagtiging, onderwys en behuising.

Hy gee wel besonderhede oor sy korrupsiestrategie, hoewel nie veel nie. En presies hoe dit geïmplementeer gaan word, is ook ietwat onduidelik.

Soos die DA, probeer die EFF hom as ’n vreeslose teenstander van korrupsie posisioneer.

Soos die DA, probeer die EFF hom as ’n vreeslose teenstander van korrupsie posisioneer – ’n benadering wat wenkbroue laat lig gegewe die beweringe oor Julius Malema, die partyleier, en sy adjunk, Floyd Shivambu.

Sy manifes maak ’n aantal beloftes oor korrupsie wat nie uit plek sal wees in enige ander party se manifes nie. Hy beloof onder meer om die onafhanklikheid van instellings soos die ouditeur-generaal en openbare beskermer te “beskerm”, om beskerming vir fluitblasers te “versterk”, en swaarder strawwe vir korrupsie in te stel.

Daarbenewens stel hy ’n aantal verreikende veranderinge voor, soos die wysiging van die Grondwet om die nasionale vervolgingsgesag ’n hoofstuk 9-instelling te maak, en om staatsadministrasie-howe in te stel wat vinnig kan optree in gevalle van korrupsie.

Alhoewel elkeen van hierdie manifeste gepaste beloftes maak en idees bevat wat oorweeg moet word, is dit belangrik om te onthou dat implementering van kritieke belang is om korrupsie uit te wis. Dit is waarskynlik te veel om te hoop dat korrupsie heeltemal uitgeroei sal word, maar selfs om die mees skokkende vorme van korrupsie te hanteer sal leierskap en respek vir die oppergesag van die reg in alle sfere van die samelewing vereis.

In hierdie verband sal die nuwe na­sionale direkteur van openbare vervolging ’n belangrike rol speel. Dit sal ook belangrik wees om staatsinstellings wat vir staatskapingsdoeleindes uitgehol is, weer funksioneel te kry.

Of politici genoeg vasberadenheid het om die uitdaging te hanteer, sal ná 8 Mei gesien word. Verkiesingstyd is ’n tyd van beloftes, maar wat Suid-Afrika regtig nodig het in verband met korrupsie, is aksie.

Meer oor:  Judith February  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Korrupsie  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.