Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Praat jy Afrikaans? Kry dan ruggraat, man!'

Hy kan verstaan dat mense senuagtig en selfs kwaad was oor die ATKV se nuwe taalbeleid, Afrikaans Plus. Maar ’n taal moet aanpas as hy wil oorleef, skryf William de Bruin.

William de Bruin.

Soms wil ek vir Afrikaans ’n drukkie gee. Kyk, persoonlik skroom ek nie om my liefde vir haar so dik soos Salomo in Hooglied aan te maak nie. Ek verkondig dit gedurig via my sosialemediaplatforms. En ek raak in vervoering wanneer ek en my medewoordjiemense nuwe heerlikhede ontdek. (’n Riffelkwakkie, oftewel ’n dubbelken, is tans ’n groot gunsteling. En wie sou kon raai dat ’n seekoei nurk?) Maar in hierdie konteks wil ek haar ’n trooskloppie op die skouer gee – grotendeels omdat ek haar jammer kry.

Ek dink nie dis onregverdig om te sê dat min tale al gedurende hul leeftyd soveel skuinsklappe moes verduur nie. Van die oomblik wat sy êrens in ’n Kaaps-Hollandse kombuis ontstaan het, moes sy appels swaai vir die reg om te bestaan.

Amper soos daai vrou oor wie almal in die dorp hul bekke rek. Want haar hare is net té blond. Haar oogskadu is net té groen en haar naels net té rooi. Om nie eens van daai enkelkettinkie te praat nie! G’n betaamlike vrou dra juwele laer as haar midrif nie.

Gedurende die laat 1800’s het ds. S.J. du Toit die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op die been gebring en publikasies soos Di Patriot en Ons Klyntji het die lig gesien. Hoewel hierdie vroeë oorwinnings vir Afrikaans was, beteken dit nie dat als daarna klopdisselboom verloop het nie.

Spreekbuis van lelike dinge

Só aanstellerig was die destydse elite dat die redakteur van die Di Patriot met die dood gedreig is oor die vermetelheid wat hy gehad het om in Afrikaans te skryf. Tydens die Anglo-Boereoorlog was konsentrasiekampe die voorland van Afrikaanssprekendes. Indirek, het mense vir Afrikaans gesterf.

Eers veel later, gedurende die vroeë en middel van die 1900’s, het Afrikaans werklik ’n holte vir haar spykerhakke gevind met die totstandkoming van koerante soos Ons Vaderland en die vertaling van die Bybel sowel as die psalm- en gesangeboek.

Apartheid het die skarlakenletter geword wat die res van die wêreld aan haar borstrok vasgestik het terwyl sy magteloos moes toekyk.

Teen die tyd dat die Verwoerd-era aangebreek het, was Afrikaans die volksliefling. Sy’t floreer soos ’n potplant wat genoeg water kry en ’n plekkie op die vensterbank geniet waar die oggendson haar chlorofil-vlakke kon voed.

Maar selfs toe kon dit nie vir haar maklik gewees het nie. Ja, sy kon nou wel sonder vervolging gepraat word, maar sy’t die spreekbuis van lelike dinge geword. Mense het haar gebruik om gruwelike name aan ander bevolkingsgroepe te heg, en nors ooms met bleskoppe en dikraambrille het op podiums gestaan en propaganda spoeg.

Apartheid het die skarlakenletter geword wat die res van die wêreld aan haar borstrok vasgestik het terwyl sy magteloos moes toekyk. Jong, liberale Suid-Afrikaners het haar, en als wat met haar gepaard gegaan het, verafsku.

Met die aanbreek van demokrasie, het die storm rondom haar effens bedaar.

Weer aanvaarbaar

Die vredemakers het die insig gehad om haar nie weg te gooi nie. Daarom geniet sy steeds ’n plekkie in die volkslied. Stadig maar seker het sy weer aanvaarbaar geraak. Selfs die yuppie-kinders het haar weer begin gebruik. Of dit nou jou smaak is of nie – Fokofpolisiekar, Jack Parow, Karen Zoid, en Die Heuwels Fantasties hou Afrikaans in die ore van ons kinders lewendig.

Meer onlangs moes Afrikaans weer haar moue oprol toe betogers oor die hele Suid-Afrika geëis het dat Afrikaans as onderrigmedium uit universiteite geskop moet word. En kom ons draai nou nie doekies om nie – jy sou ook suur gewees het vir ’n taal wat geskiedkundig uit die mond van jou verdrukker geborrel het.

Die geheim lê egter daarin opgesluit dat ’n taal juis móét aanpas.

Met die nuwe aanslae teen Afrikaans in gedagte, het die ATKV onlangs hul nuwe inisiatief aan die publiek bekendgemaak. In kort – die ATKV het sy verbintenis ten opsigte van Afrikaans onderstreep om dié taal in ’n meertaligheidskonteks te bevorder deur dit toeganklik vir nie-Afrikaanssprekendes te maak.

Dis ’n sin vol groot woorde. Ek sien dit so: die ATKV probeer bloot vir ander bevolkingsgroepe wys dat Afrikaans nie meer die vyand is wat dit eens was nie.

Die Afrikaanse publiek was uit die aard van die saak senuagtig. Kwaad, selfs. En dis verstaanbaar, want waarom moet Afrikaans al wéér aan die kortste ent trek? Waarom moet Afrikaans al wéér aanpas?

Dis amper asof sy haar op ’n koorbankie (wat eintlik net vir tien gemaak is) langs die ander amptelike landstale moet inwurm.

Die geheim lê egter daarin opgesluit dat ’n taal juis móét aanpas. Al sluk ons soms swaar daaraan. Latyn het nie ore gehad nie, en kyk wat met háár gebeur het.

Sy’s vandag grotendeels beperk tot wetboeke en mediese terme. Ons sê tog nie “Kry chorda spinae!” nie. Ons sê “Kry ruggraat!”

En dis presies wat ons as Afrikaanssprekendes moet doen. Ons moet ruggraat kry. Kom ons baklei steeds vir Afrikaans. Kom ons vloek, bak, dig, sing, redeneer, bid, vier, leef, werk, speel, dans, en gee in Afrikaans.

Maar bowenal – kom ons deel in Afrikaans. Kom ons plaas haar nie op ’n troontjie nie. Want Afrikaans is nie ’n engel nie. En ek dink nie sy wou ooit wees nie.

* De Bruin is ’n oudomroeper by OFM en JacarandaFM. Hy doen tans gehaltebeheer en is ’n kopieskrywer by die Pretoriase reklame-agentskap Etiket en hou homself ook besig as vryskutliedjieskrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.