Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Willie Spies: Praat weer oor minderhede

In die grondwetlike onderhandelingsproses van 1990 tot 1994 was Afrikaners nog ’n politieke mag om mee rekening te hou.

Die NP het as destydse regerende party namens die minderheidsregering die leiding in die proses geneem. Die NP was egter verdeel tussen faksies. Oor die faksies kan nou meer gelees word in die outobiografie van dr. Rina Venter, destyds ’n minister.

Willie Spies. Foto: Lisa Hnatowicz

Die voorganger van wat vandag as die DA bekend is, die Demokratiese Party met Tony Leon as ’n sleutelonderhandelaar, het daarteenoor met ’n baie duidelike toekomsvisie aan die onderhandelings deelgeneem.

’n Verenigde Suid-Afrika met algemene stemreg en ’n oop samelewing met liberale waardes soos individuele vryhede was immers sedert die dae van Helen Suzman se Progressiewe Party dié party se droom vir Suid-Afrika. Juis daarom het dié party destyds uitsonderlik gevaar in die onderhandelinge en is die DP in 1999 en sedertdien in elke verkiesing beloon deur die meerderheid kiesers uit minderheidsgroepe.

Die Konserwatiewe Party (KP) van destyds het baie huiwerig en met groot agterdog by die onderhandelinge betrokke geraak en gevolglik was die enigste tekens van grondwetlike erkenning aan die aspirasies van konserwatiewe Afrikaners in die oorgangsgrondwet die laat insluiting van beginsel 34 (wat handel oor die moontlikheid om erkenning te gee aan selfbeskikking vir taal- en kultuurgemeenskappe binne die grondwetlike raamwerk), asook sekere bepalings oor taal- en kultuurregte in die menseregte-akte.

In ’n poging om konserwatiewe Afrikaners in te sluit by die verkiesing van 27 April 1994 is ’n akkoord beklink tussen die destydse NP-regering, die ANC en die Vryheidsfront onder leiding van genl. Constand Viljoen waarin ooreengekom is dat as die Vryheidsfront destyds wesenlike steun in die verkiesing sou kry, daar verdere inhoud gegee sou word aan die idee van selfbeskikking.

Die Vryheidsfront het destyds meer as 400 000 stemme vir die Nasionale Vergadering en sowat 640 000 stemme vir die wetgewers gekry en die onderhandelaars vir die finale Grondwet was dit eens dat dié steun wesenlik genoeg was dat dit die insluiting van art. 235 in die Grondwet geregverdig het. Art. 235 bepaal dat nasionale wetgewing voorsiening kan maak vir selfbeskikking vir taal- en kultuurgemeenskappe in ’n spesifieke gebied of andersins.

Die Vryheidsfront (later VF Plus) het egter in die verkiesings van 1999, 2004, 2009 en 2016 onderpresteer en die algemene konsensus was dat die idee van ’n verenigde Suid-Afrika met algemene stemreg en ’n oop samelewing met liberale waardes van individuele vryhede en gelykheid vir almal die begin en einde van almal se politieke aspirasies sou wees.

Interessant genoeg is dié droom nie nek omgedraai deur wit rassiste nie, maar juis deur die haatretoriek en anti-Afrikanersentimente van linkse populiste soos Julius Malema, Floyd Shivambu en Panyaza Lesufi, wat so meesleurend geraak het in hul verdelende retoriek dat die ANC en selfs DA-leiers soos Mmusi Maimane en Phumzile van Damme dit hul eie begin maak het.

In die afgelope verkiesing het die VF Plus herstel tot sy steunvlakke van 1994. Dr. Pieter Groenewald, die leier, het in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede genoem dit is hoog tyd dat art. 235 die aandag kry wat dit verdien en ’n wetsontwerp oor selfbeskikking voorberei word. Ná 20 jaar waarin die idees van minderheidsregte en die erkenning van Suid-Afrika as ’n gemenebes van taal- en kultuurgemeenskappe aan die agterspeen gesuig het, is die tyd nou ryp vir die heropening van ’n gesprek oor werklike beskerming van minderhede.

  • Spies is ’n prokureur en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Afrikaner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.