Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Prediker vir die nuwe Suid-Afrika

Alles tevergeefs, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs.

Watter voordeel het die Afrikaner van al die moeite waarmee hy hom vir hoe lank onder die son, hier in Afrika, in Suid-Afrika, bemoei het? Die riviere loop in die see, en tog word die see nie vol nie. Alles is ’n gejaag na wind.

Die een geslag gaan, en ’n ander geslag neem sy plek in.

Dana Snyman

Ons voorouers het uit Nederland, Frankryk en ander Europese lande gekom, en deur die volgende geslagte heen het ons ’n volk hier kom word, met ’n eie taal: Afrikaans.

Ons het groot werke onderneem: ’n Vryheidsoorlog teen die Britse Ryk geveg, verliese gely, opgestaan, fabrieke laat oprig, opgaardamme en spoorlyne en paaie laat bou, wingerde laat plant, universiteite gestig, ondernemings gevestig.

Ons het goud en diamante en silwer moeitevol uit die aarde gehaal en laat haal, en ál meer grond en rykdom en besittings versamel.

Ons het sterk en ál sterker geword. Die sterke het sy oë in sy hoof en die swakke wandel in die duisternis.

Ons het heerskappy en oppermag verkry oor dié wat voor ons die land bewoon het en blind geword vir die ongeregtighede wat ons hulle aangedoen het.

Ons het bittere onheil oor hulle en onsself gebring. Hy wat rykdom liefhet, kry nie genoeg van rykdom en sien onreg nie meer raak nie.

Die nuwe heersers het die nuwe verdrukkers geword, ook van hul eie mense.

Maar alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: ’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak, ’n tyd om te haat en ’n tyd om lief te hê. ’n Tyd om te regeer en ’n tyd om tot inkeer te kom.

Ons het ons dade van verdrukking gesien en afstand gedoen van ons heerskappy. Ons het saam met dié wat ons verdruk het, begin bou aan ’n nuwe land. Twee is beter as een, ’n goeie beloning wag vir albei.

Nie een in die land is meer bo die ander voor die wet geag nie, maar daar was geen einde aan die ongelykheid en swaarkry nie. Wat krom is, kan nie oornag reguit word nie. Wat nie daar is nie, kan nie getel word nie; en altyd is daar die mens se sug na meer mag en rykdom en besittings.

Die nuwe heersers het die nuwe verdrukkers geword, ook van hul eie mense, dié wat hulle die heersers gemaak het. Die eens verdruktes se drome het tot niks gekom en hul versugtinge vir ’n beter lewe val op dowe ore. Die armes sal altyd met ons wees.

En dit wat die armes tref, tref nou ook vir ons.

Ons kyk na al die werke wat ons hande tot stand gebring het, al die moeitevolle arbeid wat ons verrig het, en raak in vertwyfeling oor onsself.

Ons wanhoop oor die toekoms en handel soos die dwaas wat die wysheid nie ken nie.

Wat was, sal daar nooit weer wees nie, wat gebeur het, sal weer gebeur.

Alles tevergeefs, alles tevergeefs, is dit waarlik alles tevergeefs?

Meer oor:  Dana Snyman  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.