Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Pres. Mmusi’se ommeswaai

As Julius Malema die uber-opportunis in die verkiesing van 2014 was, gaan die kolligte val skyn op “President Mmusi Maimane” in die 2019-verkiesing.

Die DA se mini-Barack Obama het nou sy oog op die premierskap van die Wes-Kaap. Die DA sou gister die premierskandidaat aangewys het vir die Wes-Kaap, maar dit is nou tot môre uitgestel. Maar ons almal weet wat kom: Maimane wil bitter graag die kleur van die gordyne van die herehuis in Leeuwenhof kies.

Johann Maarman

In al die ander provinsies het die DA sy provinsiale leiers aangewys as premierskandidate. Dit blyk dit gaan nie die geval in die Wes-Kaap wees nie – mits hulle tussen vandag en môreoggend dalk tot ander insigte kom.

Onthou, dit is nie die eerste keer dat Maimane ambisies het om premier te word nie. Nadat die DA miljoene rande in sy veldtog gepomp het om premierskandidaat van Gauteng te word, het hy dié verkiesing skouspelagtig verloor.

Die vreugdefees wat Maimane gehad het tydens die bewindsjare van Jacob Zuma is verby. Zuma is nie meer daar nie. Daardie toespraak van ’n “broken man presiding over a broken society” waarmee Maimane die vloer met Zuma gevryf het, is in die vergetelheid.

Cyril Ramaphosa is nie iemand wat maalvleis van hom laat maak nie en Maimane kon nie ’n behoorlike greep oor Rama­phosa kry nie.

Maimane se besluit om sy naam in die hoed te gooi vir die premierspos in die Kaap lê die potsierlike gespartel in die DA bloot.

Nadat die DA sy knieë nerfaf gekruip het soos hy by die EFF gesmeek het om tog sy koalisievennoot te wees, het die DA, pleks van om hom nederig te hou, meer arrogant geword en wou net hiet en gebied onder die dekmantel van skoon regering, maar hom eerder gedra soos die kat met die dik snor en nie soos ’n koalisievennoot nie.

Toe die EFF nou sy dinges pluk en die DA in sy peetjie stuur, was die party in ’n staat van beroering en die EFF het Maimane en die DA net mooi herinner wat hy is: ’n opposisieparty en nie ’n meerderheidsparty nie.

In rugbytaal: Maimane verkies dan nou om eerder vir die WP te speel as vir die Springbokke.

As die marknavorsers reg is met hul somme is die DA besig om ’n verswakte party te word. En swak partye word vinnig paniekerig. Hierdie paniekerigheid kan ’n blinde nou met ’n stok aanvoel, want skielik is hulle nie meer so seker van hulself nie.

Maar dis die gif wat die DA se baasspelerigheid en bangmaak-politiek in die Suid-Afrikaanse politiek ingedra het wat nou sy tol eis.

’n Mens sou ook graag vir Maimane wil vra wat het dan nou van die groot kampanje geword dat koalisiepolitiek in 2019 die voorland van Suid-Afrika sou wees. Dit is tog die narratief wat die DA wyd en syd aan die kiesers verkondig het. Sou Maimane dan nie

skouerhoog by die trappe van die Uniegebou in Pretoria ingedra word nie?

Politici wat hul storie ken, weet die beste plek van waar ’n verskil gemaak kan word, is die sentrum. En daardie sentrum is die parlement. Dis waar die politieke toetse gespeel word.

In rugbytaal: Maimane verkies dan nou om eerder vir die WP te speel as vir die Springbokke.

Maimane sal argumenteer dat dit nie die eerste keer sal wees dat die DA-hoofleier ook premier van die Wes-Kaap is nie. Helen Zille was dit ook.

Maar ’n nasionale leier se primêre taak is om leiding te gee in die nasionale parlement en nie om hom besig hou met provinsiale kwessies nie.

Die boodskap wat die DA uitstuur, is dat daar niemand in die Wes-Kaap is wat goed genoeg is vir die premierskap nie. ’n Mens hoop dat Maimane en die DA sal herbesin.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Mmusi Mai­Mane  |  Mening  |  Premierskandidaat  |  2019-Verkiesing  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.