Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Prioritiseer álle misdaad in SA
Willie Spies

Die afgelope twee weke was twee weke van ernstige kommer oor die land en sy toekoms.

Twaalf mense het reeds weens wrede geweld in Johannesburg, Pretoria en die Oos-Rand omgekom en miljoene rande se skade is aan private en openbare eiendom aangerig.

’n Suid-Afrikaner wat in Lagos, Nigerië, woon, het laat weet sy veiligheidskompleks het Suid-Afrikaners gewaarsku om versigtig te wees weens vergeldingsaanvalle wat kan volg op die xenofobiese geweld in Suid-Afrika.

Intussen het die regering effe pateties aangekondig die geweld is darem nie xenofobies nie, want net twee van die 12 sterfgevalle was buitelanders. So asof die feit dat 10 van die 12 slagoffers Suid-Afrikaners was, nou die geweld meer verteerbaar maak.

Daar het ’n tendens in ons land – en wêreldwyd – ontwikkel om misdaad baie selektief te klassifiseer. Dit lei dan tot ’n dikwels absurde hiërargie van grade van ernstigheid van misdade.

Dan het daar ook die laaste tyd ’n nuwe term ontstaan, naamlik “femicide” of vroueslagting.

’n Aanval op ’n swart persoon deur ’n wit persoon is “rassisties”. ’n Aanval van ’n Suid-Afrikaner op ’n burger van ’n ander Afrika-land is “xenofobies”. Nog nooit is ’n rooftog op ’n Europese toergroep as xenofobies geklassifiseer nie en plaasaanvalle of ander voorvalle van misdaad waar die slagoffers wit Suid-Afrikaners is, word nie as rassisties geklassifiseer nie.

Maar Ace Magashule, Julius Malema en Andile Mngxitama was baie vinnig om die plunderende geweldenaars van die afgelope twee weke aan te moedig om hul woede te herlei, weg van hulle broers en susters uit Afrika, en eerder te fokus op die wit minderheid wat dan die eintlike oorsaak van hul mense se ellende sou wees.

Dieselfde Malema het pas sy en sy luitenant, dr. Mbuyiseni Ndlozi, se aanranding van ’n senior polisie-offisier in die openbaar regverdig omdat die polisieman wit en ’n Afrikaner is.

Dan het daar ook die laaste tyd ’n nuwe term ontstaan, naamlik “femicide” of vroueslagting.

’n Gewilde statistiek wat gebruik word om die mening te steun dat daar tans ’n vroueslagting plaasvind, is die feit dat daar elke drie uur ’n vrou in Suid-Afrika vermoor word. Elke agt uur word ’n vrou deur haar eggenoot, minnaar of metgesel vermoor.

Vir elke vrou wat vermoor word, word dus in dieselfde tyd ses mans vermoor.

Dit is onaanvaarbaar en skrikwekkend en geweld teen vroue, kinders en kwesbare mense soos bejaardes is ’n absolute gruwel wat beveg moet word.

Maar hou in gedagte dat 20 336 moorde tussen April 2017 en Maart 2018 in Suid-Afrika plaasgevind het. Dit is byna 56 moorde per dag en meer as twee per uur. Vir elke vrou wat vermoor word, word dus in dieselfde tyd ses mans vermoor.

Nogtans het pres. Cyril Ramaphosa verlede week ’n skare meegedeel en dit agterna op ’n mediakonferensie herhaal dat die regering die nasionale vervolgingsgesag gaan opdrag gee om alle borgtogaansoeke van mense wat weens moord op en verkragting van vroue of kinders aangekla word, teen te staan.

Suid-Afrikaners sal veiliger wees in ’n land waar die vervolgingsowerhede opdrag het om borgtogaansoeke van álle geweldenaars, ongeag die slagoffer se identiteit, met mening teen te staan.

Die klassifisering en prioritisering van misdade as rassisties, xenofobies of “deel van ’n vroueslagting”, word gedoen deur presies dieselfde mense en groepe wat kritiek uitspreek teen veldtogte van AfriForum en verskeie landbou-organisasies wat vra vir die prioritisering van plaasaanvalle en landelike veiligheid.

As die vervolging van álle misdaad ’n prioriteit raak, kan die vlaag van wetteloosheid, plundering, geweld, verkragting en moord gestuit word.

* Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.

Meer oor:  Willie Spies  |  Rassisme  |  Mans  |  Misdaad  |  Moord  |  Vroue  |  Haat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.