Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Private pensioene belê in Eskom? Nee dankie

Magnus Heystek, bekende beleggingskonsultant wat dese en gene aanmoedig om hul geld in die buiteland te kry, het sekerlik die afgelope week ’n vrugtemandjie by Tito Mboweni, minister van finansies, laat aflewer.

Dít nie oor ’n heel skaflike begrotingsrede onder moeilike omstandighede nie, maar eerder oor beleggingsnavrae wat sekerlik moes ingestroom het oor Mboweni se uitlating dat private pensioene saam met dié van staatsamptenare oorweeg moet word vir belegging in Eskom se skuld.

Nee dankie aan Cosatu, Mboweni en die regering vir enige sulke voorstelle vir private of openbare pensioene.

Dat pensioenfondse vrywillig of selfs deur amptelike voorgeskrewe bates in staatsondernemings of projekte kan belê, is nie uniek nie. En kan in die regte, stabiele omstandighede selfs ’n redelike opbrengs lewer. Die omstandig­hede is in alle opsigte egter heeltemal onaanvaarbaar. As dié gek idee toegepas word, sal dit swaar verdiende aftreegeld noodwendig in gevaar stel.

Die “pensioenplan” moet intussen op elke moontlike manier beveg word.

Cosatu se hele vertrekpunt gaan ook nie oor doeltreffende en bekostigbare kragbestuur nie. Eerder oor die beskerming van ’n onproduktiewe werkerskorps van 44 000 – 66% te veel volgens die Wêreldbank. 800 van hulle verdien meer as R2 miljoen per jaar. Die vakverbond stel heel breedsprakig voor dat daar ’n ondersoek gedoen moet word na of die organisasie te groot is. Maar voeg dan teenstrydig by dat geen Eskom-werknemer sy werk mag verloor nie.

Nóg ’n grootpraat-voorstel is dat die korruptes kwansuis opgespoor en vervolg moet word. Wel, terwyl daar ’n dief in die topses van die regerende party sit, staatskapers nog vry rondloop en staatsondernemings voortdurend korruptes heraanstel, het die voorstel geen geloofwaardigheid nie.

As Cosatu so ernstig voel daaroor, waarom is dit Solidariteit en Outa wat diegene soos Brian Molefe en Dudu Myeni moet vervolg? Waar is Cosatu en kie?

Barnard Beukman

Die basiese morele bakens is bloot afwesig. Daar is goeie voornemens, maar nog nie sprake van doeltreffende regering of onder­nemingsbestuur nie. Daar word wel begin om dinge reg te ruk, bepaald ook in Eskom. Maar nóg ’n keer nee om dit op die rekening van Suid-Afrikaners se oudaggeld te doen.

Eskom en vele ander staats­ondernemings moet drasties verklein word en sommige funksies moet beskikbaar wees vir private mededinging. By Eskom moet alternatiewe energie in die kragnetwerk losgelaat word. Die land kort ’n vaartbelynde, doeltreffende en bekostigbare stelsel van kragvoorsiening.

Mboweni se uitlating gaan bloot bydra tot verdere disinvestering deur individue en instellings.

Die “pensioenplan” moet intussen op elke moontlike manier beveg word.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Standpunt  |  Eskom  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.