Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Privatiseer: Dit kan almal dien
Alida Kok
Alida Kok

Onlangse sprake dat RSG moontlik saam met die SAUK-skip mag sink, wat later as “kwaadwillige fopnuus” en ’n “dwaalstorie” deur die radiostasie bestempel is, het in ’n twis tussen liberale Afrikaanses en konserwatiewe Afrikaners ontaard.

In die middel van die twis is idees en aannames oor privatisering.

Nadat die SAUK verlede week aangekondig het dat hy met ’n art. 189-proses begin om personeel af te lê, het Magdaleen Krüger, RSG-stasiebestuurder, in haar oorspronklike reaksie gesê: “Ná 1 Januarie weet ek nie wat ons gaan doen om die stasie op die lug te hou nie.”

Die wyse waarop die SAUK met werknemers oor die art. 189-proses gekommunikeer het, tesame met die boodskap wat deur Krüger by luisteraars van RSG uitgekom het, het dié radiostasie se gehoor geskok. RSG het ’n geraamde 1,3 miljoen luisteraars en word deur talle mense as “my grootwordstasie” beskryf.

Buiten die feit dat RSG ook heelwat Engelstalige luisteraars het, herinner die gehalte van die omroepers, programme, dokumentêre inhoud en dramas aan die tyd voor TV, toe radio met ’n ouwêreldse sjarme die middelpunt van vermaak in Afrikaanse huishoudings was. Die belang van hierdie radiostasie het ook weer na vore gekom ten tyde van vanjaar se strengste staat van inperking.

Die radiostasie en sy voortbestaan is van onskatbare waarde.

Luisteraars vorm en is deel van ’n gemeenskap waarvan die stasie ’n middelpunt is. Dit is ook noemenswaardig dat RSG een van die min platforms is waar ’n bruin, wit én swart Afrikaanse stem gehoor kan word en saam kan gesels.

Die radiostasie en sy voortbestaan is van onskatbare waarde.

’n Boodskap is dus aanvanklik aan luisteraars oorgedra dat die SAUK se skuldlas onder Hlaudi Motsoeneng weens kader-aanstellings buite beheer geraak het en dat RSG se lewensvatbaarheid weens wanbestuur by die SAUK in die gedrang is.

Aangesien dit nie die eerste keer is dat Suid-Afrikaners die laaste tyd deur die verlies van ’n staatsonderneming gekonfronteer is nie, het heelwat mense op sosiale media privatisering as oplossing vir RSG se probleem voorgestel: Stig ’n nuwe, private radiostasie wat nie van die openbare uitsaaier afhanklik is nie en waarheen die hele RSG-span geskuif kan word.

Privatisering word nie altyd deur eksklusiwiteit onderlê nie.

Dit kan verseker dat Afrikaanse gehore toegang tot ’n uitnemende tradisie in radio-uitsaaiwese behou en ook RSG-werkers se poste red. Daar is immers genoeg innoverende kragte in ons samelewing om dit reg te kry.

Die voorstel het nie vatplek onder almal gekry nie, aangesien die persepsie onder sommige bestaan dat die benadering om te privatiseer eintlik net eksklusiewe, konserwatiewe Afrikaner-belange verteenwoordig.

Arrie de Beer, buitengewone professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, sê in ’n onderhoud daaroor: “Baie van die mense – die grootste persentasie, sou ek sê – wat nou on­middellik op die wa gespring het en ’n nuwe­ stasie wil stig . . . dit is mense wat ’n Afrikaner-saak dryf. Dis nie noodwendig die taal Afrikaans nie.”

Sulke kommentators is uit voeling met dit wat op grondvlak in die land gebeur. In verskeie munisipaliteite is daar voorbeelde van gemeenskappe wat op ’n nuwe manier met regerings verhoudings bou en met private geld openbare infrastruktuur – vir almal – bou, herstel en red. Privatisering word nie altyd deur eksklusiwiteit onderlê nie.

Inteendeel, privatisering het die potensiaal om die staat vir almal te red.

Innoverende privatiseringspraktyke kan RSG laat floreer. Die stasie woeker reeds met derdestroom-projekte ter aanvulling van sy staatsinkomste.

Meer oor:  Sauk  |  Rsg  |  Alida Kok  |  Afrikaners  |  Taal  |  Afrikaans  |  Afdankings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.