Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Proe eers voor jy die soutpot gryp!
Ivor Price

Daar behoort ’n spesiale plekkie in die hel te wees vir mense wat sout op kos gooi sonder dat hulle eers daaraan geproe het.

Hulle sien die soutpot nog voor die kos raak, en strooi dit dan mildelik op geregte wat waarskynlik reeds sout bevat.

As jy hulle daaroor aanvat, laat hulle jou goed verstaan dis húlle wat die kos eet en nie
jy nie.

Hulle sê reguit hulle sal eerder elke dag ’n bloeddrukpilletjie sluk en die risiko vir beroerte en ander gesondheidsprobleme trotseer as om hul gewoontes te verander.

Party van hulle het nogal ’n swaar hand en dit voel dikwels asof hulle kos op sout eet en nie andersom nie.

Als loop deur onder die tirannie van die soutpot. Maak nie saak of hulle ’n bredie of ’n waatlemoenskyf eet nie, die sout word soos wafferse manna uit die hemele oor die kos gegooi voordat dit mond toe gaan.

Dié wat ietsie weet van kosmaak, vertel weer graag dat ’n bietjie sout die geure in geregte en selfs in vars groente en tjoklits na vore bring.

Maar die liefde vir sout bly ’n aangeleerde smaak wat jy met gemak kan afleer, soos om stelselmatig al hoe minder suiker te gebruik. Voor jy weet, mis jy dit nie eens nie.

’n Vriend se ma is ’n selferkende soutverslaafde. Sy drink nie eens Oros sonder ’n bietjie sout nie, en op ’n warm dag smaak ’n paar ysblokkies met ’n titseltjie sout glo vorentoe.

Ek gril my dood.

Die soutpot staan snags op haar bedkassie, want wanneer sy wakker word en nie lus is om kombuis toe te loop nie, kan sy bloot haar hand uitsteek. Nie eens ’n appel of ’n lemoen is meer by haar veilig nie.

Aan die ander kant is daar mense wat glad nie met sout kook nie.

Sout is liefde, sê die verslaafdes.

Sout is liefde, sê die verslaafdes soos my vriend se ma mos, maar die punt is dat die meeste mense deesdae met speserye kook – en die speserye is in elk geval so toegegooi met die sout dat elke gereg naderhand dieselfde proe.

Nou hoor ek ook van gesinne waar veral die ma’s weier om sout op die tafel neer te sit.

Dieselfde geld glo vir tamatiesous, mayonnaise, blatjang en ander souserige goeters wat sommige mense omtrent instinktief op hul kos gooi – alles produkte wat reeds sout bevat.

Die ironie is dat sout dikwels die lekker smake verdoesel.

My vriend se ma reken almal van ons moet een of ander tyd weens een of ander rede ­doodgaan.

Sy wil niks weet van gesprekke oor hoe geurige kos met haar eie gesondheid gebalanseer kan word nie. Lekker selfsugtig, nè?

Dit is toe dat ons besluit om haar grafsteen eendag in die vorm van ’n soutpot te laat maak.

Op die grafsteen sal geskrywe staan:

Sy het sewe sakke sout opgeëet.

  • Ivor Price twiet by @ivorprice.
Meer oor:  Ivor Price  |  Mening  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.