Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Progressiewe Party het SA se koers verander
Helen Suzman

Vandeesmaand 60 jaar gelede is die Progressiewe Party (PP) – voorloper van die Progressiewe Reformisteparty (PRP), Progressiewe Federale Party (PFP) en uiteindelik die Demokratiese Party (DP) en Demokratiese Alliansie (DA) – in Bloemfontein gebore.

Afgevaardigdes wat in Bloemfontein aangekom het vir die eerste dag van die Verenigde Party (VP) se nasionale kongres op 11 Augustus 1959 was slegs in naam verenig.

Dié party was erg verdeeld. Daar was ’n regtervleuel onder die ferm beheer van Douglas Mitchell, die VP-leier in Natal. Sy luitenant was Vause Raw. Daar was ’n middelvleuel, wat heel waarskynlik sir De Villiers Graaff ingesluit het.

De Villiers Graaff se enigste standvastige idees het waarskynlik te doen met sy opregte stoetbeeste, het Zach de Beer by geleentheid oor hom gesê.

En dan was daar die linkervleuel met partylede soos Helen Suzman, De Beer, John Cope, Boris Wilson en ander. Ou strydrosse van die party, soos Harry Law­rence en Sidney Waterson, het ook aanklank by die liberaliste in die party gevind.

Wat vir die VP verder onrusbarend was, was die klomp “gemorste stemme” in soveel veilige kiesafdelings.

Talle van die afgevaardigdes het in die Ramblers- en Maitland- hotel tuisgegaan. Op sulke kongresse het uitbundige jong Nasionaliste graag om die Maitland- hotel gery en die “Sappe” met hul toeters uit die slaap gehou.Politieke wanhoopDie VP het in die algemene verkiesing van 1948 altesaam 65 setels verower. Ná die verkiesing in 1953 het dit verminder tot 57 en ná die 1958-verkiesing uiteindelik tot 53. Die Nasionale Party (NP) en Afrikanerparty (AP) het 79 setels in die 1948-verkiesing verower. Die NP het die AP geabsorbeer en in 1953 en 1958 onderskeidelik 95 en 103 setels gekry.

Wat vir die VP verder onrusbarend was, was die klomp “gemorste stemme” in soveel veilige kiesafdelings terwyl die NP net-net ’n klomp setels gewen het.

Sir de Villiers Graaff

Die VP het wanhopig geraak en die regses het die skuld vir die nederlae op die liberales gepak. Die regses het gemeen die liberales het talle tradisionele VP-ondersteuners weggedryf.

Mitchell en sy vriende was vasberade om die liberales weg te dryf. Dan sou hulle verkiesingsukses smaak.

Selfs voor die kongres was daar in verskeie koerante berigte oor die regses se planne: “Raak ontslae van die liberale.”

De Villiers Graaff het waarskynlik gehoop Suzman en ’n paar ander sou bedank.

Suzman, Cope, De Beer, Ray Swart, dr. Jan Steytler en Owen Townley-Williams was van 1953 in die parlement. Colin Eglin is in 1958 verkies.VyandskapMet die opening van die kongres op 11 Augustus 1959 het vyandigheid geheers. Op die eerste dag het ’n redelike meerderheid besluit die verteenwoordiging van swart mense deur wittes in die parlement moet tot die noordelike provinsies uitgebrei word, maar die getal van sulke verteenwoordigers moet tot agt beperk word.

’n Uitgeslape Mitchell het voorgestel dat geen grond meer vir “swart reservate” beskikbaar gestel moet word nie omdat dr. H.F. Verwoerd, eerste minister, dit vir onafhanklike tuislande oormerk.

Mitchell het geweet die liberale sou sy voorstel teenstaan, soos wat hulle gedoen het. Wanneer die liberales gepraat het, is hulle dikwels uitgekoggel en bespot.

Een konserwatiewe afgevaardigde het gesê hy ken swart mense en hulle moet van drie dinge weggehou word: gewere, brandewyn en stemreg.

Een konserwatiewe afgevaardigde het gesê hy ken swart mense en hulle moet van drie dinge weggehou word: gewere, brandewyn en stemreg.

Suzman het in ’n stadium ’n groep van die regses “a lot of bastards” genoem.

’n Afgevaardigde het aan haar gesê om nie alte idealisties te wees nie, omdat LP’s se magte net so ver strek as wat hul kiesafdelings hulle toelaat en dit in Suid-Afrika baie beperk is.

Terwyl die geveg gewoed het, het De Villiers Graaff van die verhoog af toegekyk. ’n Afgevaardigde het voorgestel dat hy die gemoedere kalmeer. Sy enigste antwoord was dat hy twee vegtende honde op sy plaas uitlos totdat hulle klaar baklei het en weer vriende is. De Villiers Graaff het ongemak verduur. Sy arm was gebreek en in ’n hangverband.

PartyskeuringMitchell se plannetjie het gewerk. Ná die verdaging van die kongres aan die einde van die week het die meeste van die liberales uit die party bedank: Suzman, Cope, Eglin, De Beer, Swart, Townley-Williams, Ronald Butcher, Clive van Ryneveld, Sidney Waterson, Boris Wilson, prof. I.S. “Sakkie” Fourie en Steytler.

Waterson het De Villiers Graaff egter daarna verskoning gevra en na die VP teruggekeer. Van Ryneveld het dieselfde gedoen, maar binne ’n paar dae weer van plan verander en hom weer by die liberales aangesluit wat binnekort die PP sou stig.

Suzman het in ’n stadium ’n groep van die regses “a lot of bastards” genoem.

Later het Lawrence, wat toe in Europa was, hom ook aan die kant van die Progressiewes geskaar.

Die meeste van die liberale afvalliges was professionele en goed gekwalifiseerde mense. Swart was ’n prokureur. Van Ryneveld en Lawrence was advokate. Cope was ’n koerantredakteur. Suzman het aan die Universiteit van die Witwatersrand ekonomiese geskiedenis gedoseer. Fourie was ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat. Steytler, Wilson en de Beer was dokters. Steytler het in die Tweede Wêreldoorlog ’n lugmagsoldaat uit ’n brandende vliegtuig gered.

Verwoerd het in 1960 ’n vroeë verkiesing uitgeroep.

Suzman het haar setel vir Houghton behou, maar nie met ’n oorweldigende meerderheid nie. Cope het naelskraap in Parktown verloor. Lawrence het ’n swaar nederlaag in Soutrivier gely, ’n kiesafdeling wat hy langer as 30 jaar verteenwoordig het. Elders het die Progressiewes sleg gevaar.

Suzman sou 13 jaar op haar eie in die parlement wees. Eers in 1974 het ses ander, onder wie Alex Boraine, Eglin en Frederik van Zyl Slabbert hulle by haar aangesluit.

Mitchell het gehoop die VP sou by die stembus baat deur van die liberales ontslae te raak. Dit was ’n droombeeld en die VP het weggekwyn.

McConnachie is ’n afgetrede prokureur en ’n deeltydse historikus van Bloemfontein.

Meer oor:  Vrystaat  |  Politiek  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.